Dag 1615-1617

 

“Soek die HERE, … soek geregtigheid, …”

(Sef. 2:3, OAV)

 

Ons bestudeer tans Rom. 14:17 waarin geleer word dat “die koninkryk van God is … geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17). Hierdie drie fondasiestene van die koninkryk van God BINNE-IN ONS (Luk. 17:21) word nou ondersoek, en ons is allereers besig om geregtigheid onder die loep te neem.

Die vorige Manna het afgesluit met 2 Tim. 4:8 waarin Paulus noem dat die Here “die kroon van die geregtigheid” vir hom “in dié dag sal gee”. Hy vervolg dan: “en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het”. Dit is belangrik om egter die volgende aan te stip:

  • die lidwoord voor “kroon” is ongetwyfeld die en nie ‘n nie – volgens ABP is dit verseker “the definite article”. Baie vertalings en parafrases (selfs ‘n gesaghebbende vertaling soos die KJV) laat hul verlei om die onbepaalde lidwoord ‘n te gebruik, bes moontlik as gevolg van die latere kwalifisering dat nié net Paulus nie, maar ook “almal wat sy verskyning liefgehad het” ‘n (veronderstelde individuele) kroon sal ontvang. Dit is egter foutief – daar is net een kroon wat die Bruid by wyse van spreke dra. In 1 Kor. 9:24 gebruik Paulus dieselfde oorkoepelende metafoor om hierdie geloofsreis te beskryf, en spel dan uit: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”
  • Wat mense bes moontlik verlei om verkeerdelik te dink oor krone, is dat ons gekondisioneer is om die universele simboliek van ‘n kroon te vereng tot ‘n entiteit van groot waarde wat seremonieel op ‘n wenner of koning se hoof geplaas word (lees weer 1 Kon. 11:12 wat dit mooi beskryf). In Manna 1337-1339 is daar uitvoerig verduidelik dat in die Nuwe Testamentiese realiteit die kroon helaas nie meer ‘n fisiese ideaal is as daar geestelik oor gepraat word nie. ‘n Kroon dui met ander woorde absoluut duidelik as simbool oorkoepelend op die salwing van die Gesalfde, Christus!
  • Die Griekse woordjie vir “verskyning” is epiphaneia, wat beteken “an appearing, appearance”. Let asseblief daarop – dit is nie die sogenaamde eenmalige wederkoms wat mense verwag teen die einde van die tye nie; dit is verskeie verskynings waarbinne Jesus Hom manifesteer! ‘n Paar verse voor dié een, in vers 1, staan die woordjie verskyning ook: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk …” Skielik klink dit al hoe meer na gebeurtenisse wat eers aan die einde, wanneer die oordeel is, sal plaasvind. Die Accurate New Testament vertaal hierdie moeilik-leesbare frase meer korrek soos volg: “the appearance [of] him and the kingdom [of] him”.
  • En dan is die belangrike vraag – wanneer presies verskyn die koninkryk en waar, want Jesus se verskynings word binne dieselfde asem genoem as die verskyning van sy koninkryk? Sela! In Luk. 17:20-21 stel Jesus dit onomwonde: “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. Die koninkryk van God is binne-in julle …” Insgelyks is dit as jy die (kollektiewe) kroon van salwing ontvang wanneer sy verskynings die koninkryk in jou vestig!

As Sef. 2:3 gelowiges maan: “Soek die HERE, … soek geregtigheid, …”, is dit ‘n durende refrein dwarsdeur die Bybel, en word dit die prominentste geëggo deur Jesus se bekende uitspaak in Matt. 6:33 – “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid …” Dit is van baie groot belang dat ek en jy besef hier is nie nou sprake van óf God se geregtigheid óf Jesus se geregtigheid wat gesoek moet word nie. Hopelik het jy alreeds daardie geregtigheid gevind. Matt. 6:33 praat van die geregtigheid wat die koninkryk konstitueer, met ander woorde die geregtigheid wat IN JOU gestalte moet kry.

Die profeet rig in Jes. 26:9b dié versugting aan God: “leer die inwoners van die wêreld geregtigheid”. Hoe gebeur dit? Die antwoord lê in ‘n ander klein profeet, Joël (2:23) se woorde:  “En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.” Hieroor moet ons net ‘n paar spesifieke sake uitlig:

  • In Jes. 33:5 word ‘n eksplisiete verband gelê tussen Sion en geregtigheid: “Die HERE is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid.”
  • As die Ou Testament praat van Sion, word die berg metafories die ewige ruimte waar God woon (Ps. 9:11; 65:1; 76:2), en ook waar ons die ewige God as ‘n woning bewoon (Deut. 33:27); Derhalwe kom die verlossing uit Sion (Ps. 14:7). Sion is dus ‘n heiligdom (Ps. 20:2). In Jes. 60:14 word Sion eksplisiet genoem: “Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel.” Sag. 8:3 spel voorts dit duidelik uit: “So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg.” God sê oor Sion dat Hy sy “Koning [= Jesus] gesalf (het) oor Sion, (s)y heilige berg.” (Ps. 2:6). In Ps. 102:16 word genoem dat “ die HERE Sion opgebou het, (en daarin) in sy heerlikheid verskyn”. Die oomblik dat dit uitgespel word, moet ons dadelik ‘n verbintenis vind tussen Sion en die evangelie van heerlikheid, of dan: die evangelie van Christus. Reeds in Manna Dag 1537-1539 is verwys na 145:11-13 waar Dawid oor hierdie koninkryk van God praat: “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.” Dit is belangrik dat ons Mannalesers sal raaksien dat Dawid nie net oor God se troon hier praat nie, maar insgelyks van sy eie troon as koning, “die troon van Dawid en … sy koninkryk” (Jes. 9:6). Interessant genoeg, met Jesus se intog in Jerusalem, sing die mense Hom toe, en skreeu uit: “Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!” (Mark. 11:10). Hierdie is ‘n weerklank van die profetiese belofte oor Jesus, wat in Jes. 9:6-7 voorgehou is: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid.” Sela!
  • Dus: die koninkryk van die hemele = die koninkryk van God = die koninkryk van ons Vader = die koninkryk van Dawid op sy ewige troon = Sion = die Nuwe Jerusalem. Die Bruid is in Christus rééds daar (Heb. 12:22-24), en dit is hoekom die Nuwe Testament in Heb. 12:22 dit so raak voorhou: “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele …”
  • As ‘n mens dít besef, dan lees jy die Ou-Testamentiese verwysings na Sion in ‘n totaal ander lig. Byvoorbeeld: die getuienis van die lewe in Christus is oorvloedig, soos in 132:10-14: “Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg. Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon. As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit. Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.”
  • ‘n Mens kry die reg van toegang tot Sion deur wedergeboorte: “En van Sion sal gesê word: Man vir man is daarin gebore, en Hy, die Allerhoogste, hou dit in stand.” (Ps. 87:5). Daardie onverganklike saad (1 Pet. 1:23) waardeur elke gelowige individueel wedergebore word (1 Joh. 5:6), is streng gesproke die saad van Christus (Gal. 3:16), die Gesalfde. Maar daardie saad moet eers tot wasdom kom deur wat Joël 2:23 noem “die leraar tot geregtigheid”, wat hier gelyk gestel word aan “die reën, die vroeë reëns en die laat reëns” wat op dié saad van Christus gegiet word. SODOENDE leer ons geregtigheid! Die vroeë reëns en die laat reëns IS die leermeester! Ons moet presies leer wat dít beteken (Matt. 9:13), en wat die implikasies daarvan is.
  • Die frase “die vroeë reëns en die laat reëns” kom presies só drie keer in die Bybel voor, waaronder in die onderhawige Skrif in Joël 2:23. Die verwysing in Deut. 11:14 koppel die onderskeid tussen hierdie twee tipes reënvalle aan die uitstorting daarvan “op die regte tyd”, en noem spesifiek die simboliese opbrengs van “jou koring en jou mos en jou olie” (let op die persoonlike voornaamwoorde wat elke keer gebruik word). Die ander Skrif, Jer. 5:24, handel eweneens oor “vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd”! Daarmee saam word dit spesifiek gegee op “vasgestelde weke” sodat “die oes in stand (ge)hou (kan word)”. In Matt. 13:39 word die simboliese betekenis van “die oes” gebied: “Die oes is die voleinding van die wêreld.” Ander vertalings hiervan sluit in: “the close and consummation of the age” (AMP) en “the end of the age” (ACV), en selfs “the end of the world” (ASV). Maar uit die wortelbetekenisse, soos die 1833 Revised Webster Bible dit voorhou, verkies ek: “the entire completion of this epoch”. As Hos. 6:2-3 spesifiek praat van die begin van die simboliese derde dag ná die terugkeer van Jesus (en dit vind plaas met die uitstorting van die Heilige Gees) wat ‘n aanvang neem, dan is dit absoluut duidelik: in die afsluiting van die kumulatief van die vyf wêreldse koninkryke sal die oes begin, en dit is afhanklik van “die laat reëns wat die aarde besproei” – Hy sal inderdaad “tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns”. Die vroeë reëns dui op die werking van die Heilige Gees; die laat reëns dui op die omvattende werking van die sewevoudige Gees, die gees van Christus! Die vroeë reëns en die laat reëns IS dus die leermeester! In 1 Joh. 2:27 word dit baie netjies uitgespel: “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, …; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.”
  • In Spr. 16:15 (ACV) word die laat reëns geassosieer met die verligting (enlightenment) van die aangesig van konings, “the light of the king’s countenance is life”, of soos die NRSV dit raak stel: “In the light of a king’s face there is life …” – die lig waarin ook die lewe is (Joh. 1:4); “and his favor is as a cloud of the latter rain” Ook Op. 14:5 noem Jesus wat op die wolk kom “in die uur” van die oes. Ons mag dus soos Sag. 10:1 vra: “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee …”

Vroeër is Jes. 33:5 aangehaal wat meld dat Hy Sion met reg en geregtigheid vervul het. Met dit wat ons hierbo geleer het, is dit bepaald meer duidelik hoe dit geskied. Volgende week meer.

  • Sela: Verduidelik aan iemand die verskil tussen die vroeë reëns en die laat reëns
  • Lees: 1 Joh. 4-5; 2 Joh.; 3 Joh.; Judas; Op. 1-4
  • Memoriseer: 1 Joh. 5:6
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Daniël Gouws: Wanneer die Vyeboom Bot