Dag 1621-1623

 

“… en ewige vreugde sal op hulle hoof wees … ”

 (Jes. 35:10, OAV)

In verlede week se Manna het ons vir ‘n wyle op ‘n afdraaipaadjie gegaan wat gelei het tot wonderbaarlike openbaringe rondom gelowiges se rhemawoorde. Streng gesproke is dit nie ‘n syspoor nie, want oorkoepelend is ons besig met die sesde koninkryk, naamlik die koninkryk van Christus, en die rhemawoord is een van die stuwende kragte wat in hierdie koninkryk sal meewerk om alles te herstel (Matt. 17:11).

Ons het dié spesifieke weg in die vorige Manna ingeslaan as gevolg van Joël 2:23 wat praat van “die leraar tot geregtigheid”, wat gelyk gestel word aan “die reën, die vroeë reëns en die laat reëns” wat op die saad van Christus gegiet word. Sodoende leer ons geregtigheid!

Laasgenoemde is ons eintlike fokus tans, en die belangrike Skrif, Rom. 14:17, is wat ons bedink: “die koninkryk van God is … geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees”. Hierdie drie fondasiestene van die koninkryk van God is BINNE-IN ONS (Luk. 17:21).

In Manna 1615-1617 is die eksplisiete verband uitgewys wat daar bestaan tussen Sion en geregtigheid. Om die begrip geregtigheid beter te begryp, moet ons ‘n verstaan ontwikkel van wat in Sion gebeur. Onthou – ons is rééds tipologies op Sion. Trouens, ons IS Sion! As Heb. 11:22 dit uitspel: “julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem” moet ons onteenseglik weet dat die Bruid reeds deur “die poorte van die geregtigheid” (Ps. 118:19) gegaan het. (In ‘n volgende Manna word hierdie aspek eersdaags verder verduidelik.)

Daar is ‘n groot aantal Skrifte wat aan ons verduidelik dat Sion vervul is met reg en geregtigheid (Jes. 33:5); sonder geregtigheid kan Sion nie die Bruid wees nie. Sela.

Hierdie groepering, eikebome van geregtigheid op Sion, “‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking” (Jes. 61:3), is reeds in die voortyd tot hierdie plek in Christus uitgekies. Ps. 74:2 stel dit so mooi: “Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het.” Later, in Ps. 132:13, verklaar die psalmdigter eweneens: “Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer …” Dié wat Sion bewoon, is derhalwe ‘n oorblyfsel (= Bruid) wat uit Jerusalem (= georganiseerde godsdiens) uitgaan, “vrygeraaktes van die berg Sion” (2 Kon. 19:31). Hierdie vers eindig met dié heerlike belofte: “Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”

Op een ander plek kom dieselfde uitdrukking ook presies só voor, en dit is in die belangrike Jes. 9:7, waarin gepraat word van “vermeerdering van die heerskappy” in die koninkryk van Christus “en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” Ons het al meermale in die Manna gepraat oor die onteenseglike waarheid dat hierdie heerskappy van Dawid in en deur die Bruid van Christus plaasvind, maar ook dat dit voortdurend vermeerder, selfs al lyk dit in die fisiese realm glad nie so nie.

Hierdie “oorblyfsel”, die “vrygeraaktes”, of soos Jes. 35:10 dit noem: “die losgekooptes van die HERE” sal “teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.” Die derde dimensie word gekenmerk deur die oorweldigende “blydskap van die Heilige Gees” (1 Thes. 1:6) ín en standhoudend vloeiend úít die uitverkorenes; daarmee saam –  kommer en gesug vlug! Die vreugde waarvan hier gepraat word, is nie net ‘n positiewe lewensingesteldheid nie; dit is ook nie die spreekwoordelike die-glas-is-half-vol mentaliteit nie; dit is nié die how to win friends and influence people-kwasipsigologiese denkwyse en sosiale oriëntering nie; dit is veral nie die gemaakte Charismatiese glimlaggie wat heeltyd triomfantlik probeer prewel: Wenners, wenners, wenners, wenners sal ons wees …, nie.

‘n Ware vestiging van hierdie geestelike vreugde is geensins afhanklik van jou omstandighede nie (Matt. 6:25-32). Dit is dikwels vreugde ten spyte van jou omstandighede. 1 Thes. 5:16 spel dit immers uit: “Wees altyddeur bly.” En dit is nie net ‘n vreugde wat jou sommer so onverwags oorspoel te midde van moeilike omstandighede nie, nee! Daar lê ‘n groot onontdekte waarheid in Jes. 35:10 hierbo, wat ‘n mens verbylees as jy nie die detail van die vers, en veral die personifikasie nie na behore interpreteer nie.

Allereers – die oorblyfsel, of die vrygeraaktes (wat ‘n uitsonderlike woord!), word eksplisiet ook benoem as losgekooptes (eweneens ‘n verruklike mooi woord van identiteit). Die woordjie “loskoop” word in die Skrif baie spesifiek geassosieer met die lewensoffer wat Jesus moes gee: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang— …” (Gal. 3:13). [Dit is belangrik dat ons Mannalesers besef dat daar soms in die Bybel na Jesus as Christus verwys word (“Jesus wat genoem word Christus” – Matt. 27:17) en dit word dan as een van sy Name gebruik, en dui nié op die uitgebreide konsep van Christus as die Liggaam nie. Ander voorbeelde is byvoorbeeld Matt. 11:2; Matt. 22:42; Mark. 15:23; Luk. 2:11; Hand. 9:22; Rom. 5:8.]

Die eerste keer wat die woordjie loskoop in die Bybel voorkom, is dit in ‘n baie interessante verband. In Eks. 13:13 word dit soos volg voorgehou: “Maar elke eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop. En as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Maar al die eersgeborenes van mense onder jou seuns moet jy loskoop.” Die lemma lam het duidelike simboliese waarde in Bybelse leksikologie – dit verwys onteenseglik na Jesus:

  • “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word …” (Jes. 53:7)
  • “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29)
  • “want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus [= Jesus]” (1 Kor. 5:7)
  • “en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Op. 5:12)

Hierdie is ‘n baie, baie vreemde verordening wat God in die Ou Testament maak: Elke eersteling van ‘n donkie moet met ‘n lam losgekoop word. Dit is glad nie die geval met enige ander dier nie! Waarom sal die donkie, soos Chris Blignault indertyd gesing het, dan tog enigsins so ‘n wonderlike ding wees? Daar is veel baie interessante dinge oor die donkie te leer uit die boek van Anthony Dent: Donkey: The Story of the Ass from East to West, maar dit is nie nou ons primêre opgaaf nie.

Om ons te help om dalk die misterie en simboliese waarde van die donkie te bepaal, kan ons ‘n aanvang neem met ‘n obskure verwysing uit Gen. 36:24 – “En dit is die seuns van Síbeon: Aja en Ana. Dit is dié Ana wat die warm fonteine in die woestyn gekry het toe hy die esels van sy vader Síbeon opgepas het.” In sy boek, Beasts of the Field: The Revealing Natural History of Animals in the Bible, skryf Michael Bright oor hierdie geskiedenis: “Anah’s name is an old Semitic word for ‘ass’ … Modern versions of the Bible suggest that Anah chanced upon ‘hot springs’, but no mules.” (p. 173). Hierdie selfde vers word in die meer tradisionele vertalings, soos in die Israeli Authorised Version, soos volg voorgehou: “and Anah: this was that Anah that found the mules in the wilderness, as he fed the asses of Zibeon his father”. Die Hebreeuse woord vir “hot springs” kan dus ook, interessant genoeg, die woordjie “muile” wees. ‘n Muil is die nakomeling van ‘n perd en ‘n donkie wat gepaar het, en besit derhalwe albei spesies se goeie kwaliteite, maar is helaas onvrugbaar. (Dit was volgens die wet ontoelaatbaar – Lev. 19:19, hoofsaaklik oor die implikasies van die vermenging van saad – Gen. 3:15. Later meer hieroor.)

Tipologies gesproke bring die gelykstelling van hierdie twee woorde, muil en fontein, ‘n mens ipso facto by Hoogl. 4:12: “My susterbruid is … ‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein.” Dit dui op ‘n onvrugbare skeppingsdoel! Dit klink ver gaan haal, daar in die ou Kalahari, maar uiteindelik werp dit onvoorsiene lig oor waarom die donkie spesifiek deur ‘n lam losgekoop moet word. Hoogl. 4:12 se eerste gedeelte lui soos volg: “My susterbruid is ‘n geslote tuin …”, en dan volg die ander gelykstellings: “‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein”. Dus – ons kan slegs in hierdie geslote tuin van Eden (= derde dimensie) inbeweeg as die onvrugbare fonteine van skeppingsdoel oopgemaak word! Dan word die onvrugbare ‘n saaddraer: “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.” (Jes. 54:1). Let asseblief op – dit gaan gepaard met uitroepe van absolute vreugde: “The whole earth rests and is peaceful. It breaks out into shouts of joy.” (Jes. 14;7, GW). Dit is soortgelyk aan die hofdienaar-eunug van Hand. 8, wat die eerste (nie-Joodse) saaddraer van Abraham (Gal. 3:16) in die Nuwe Testament geword het! Vers 39 spel dit uit: “hy het sy weg met blydskap gereis”!

Dwarsdeur die Skrif is die donkie is ‘n simbool van diensbaarheid, ‘n burden-bearer. Van die stam van Issaskar, waarvan die donkie die stam-ikoon is, word byvoorbeeld in Gen. 49:15 gesê: “hy (het) sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig”. Jesus vra spesifiek vir ‘n donkie om in Jerusalem in te ry (Matt. 21:1-7), nie ‘n perd nie. Dit was geensins omdat Jesus ‘n meer nederige aanskyn wou skep deur ‘n donkie te gebruik nie; Hy was in wese reeds nederig (Matt. 11:29). ‘n Militêre oorwinnaar sou op ‘n perd die stad ingekom het; belangrike mense het egter op ‘n donkie ingery: “Asses were respectable mounts for important people at the time … Jesus was coming as a man of peace, so he arrived on a donkey.” (Bright, p. 175).

Uiteraard was die dramatiese intog in Jerusalem as die Gesalfde Koning profeties in Sag. 9:9 in die vooruitsig gestel: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” Jesus het sy offer gebring, sê Rom. 12:2, “vir die vreugde wat Hom voorgehou is”, en Ps. 45:7 verklaar die geheim wat Hom uiteindelik in staat gestel het dit te kan doen: “Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.” Dit is onteenseglik so dat Jesus as die voorganger of voorloper, die Prototipeseun wat baie seuns in heerlikheid moet inlei (Heb. 2:10), Homself as prototipiese Lam en Donkie gebied het, nie net vir verlossingswaarde nie, maar ook as die een wat die las dra en sodoende deur dienswerk vir die liggaam van Christus (Ef. 4:12) gereddes in heerlikheid en vreugde in die (Nuwe) Jerusalem indra. Ten spyte van belas-ting, is die waarmerk van die donkieprototipe die feit dat die dienswerk met vreugde gewaarmerk sal wees – dit is deel van die salwingsolie van Christus.

Voor ons gered was, het ons die natuur van die wildedonkie, Ishmael, gehad (nie net die betekenis van sy naam nie, ook van sy karakter – Gen. 16:11-12; Hos. 8:9), totaal eiesinnig. Ons plaas ons sware sondelas op Jesus, want ons word deur die Lam losgekoop (Eks. 34:20; Ps. 55:22; Gal. 3:13-14), dan deur die Heilige Gees as ’t ware ingebreek en met ‘n toom gelei (Spr. 26:3; Gal. 5:17-18). As die donkievul (= seun van die donkie) is jy nou in verbond gebind: “Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.” (Gen. 49:11; sien ook Joh. 15:1-7). Sý juk, egter, is sag en Sy las is lig (Matt. 11:30). As “die krag van die (ander) lasdraers beswyk” (Neh. 4:10), sal dié in Christus wat met die vreugde-olie gesalf is, in staat wees om ander se laste te kan dra en só die wet van Christus vervul (Rom. 15:1; Gal. 6:2).

  • Sela: Het jy waaragtige derdedimensievreugde?
  • Lees: 14-22 (Ons het nou sedert Manna Dag 1 die Bybel al TIEN keer deurgelees!)
  • Memoriseer: 22:1-2
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Verwyder die Sluier van Vreugdeloosheid