“… (wat) in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie … ”
(1 Kor. 2:9, OAV)
Lesers van ons Manna moet nie vergeet nie dat ons oorkoepelend besig is om die sesde koninkryk, naamlik die koninkryk van Christus, te ontgin. Die rhemawoord is een van die stuwende kragte wat in hierdie koninkryk sal meewerk om alles te herstel (Matt. 17:11), het ons herhaaldelik uitgewys, en dit veral is ‘n sleutel wat tans baie van die geslote deure oopsluit. Vroeër in die Manna is verduidelik dat “die sleutel … van Dawid” (Jes. 22:22) die geheimenis van die rhemawoord is – “wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie” (Op. 3:7). Daar is eintlik nog net baie vae buitelyne geteken van wat ons vermoed die Bybel wel daaroor sê, maar: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” (1 Kor. 2:9).
Hierdie grootse “saak” wat God verberg (Spr. 25:2), is ons besig om uit te vind. Wat ons wél weet, is dat dit met die wesensaard van Christus, die Gesalfde, te doen het. Na die Vader se besluit om die Seun uit Homself te gegenereer, volgens Ps. 2:7, was daar ‘n superimposition van die Vader se wesensaard oor die Seun, het ons vroeër verduidelik. Die Seun is toe “die afdruksel van sy wese” (Heb. 1:3), “the express image of his person” (KJV). Die Strong verklaar hierdie frase express image as: “engraving …, the figure stamped, that is, an exact copy or representation”. Die Seun, op sy beurt, gee deur die wedergeboorte gestalte aan sy “sons of oil” (Sag. 4:14, RV), wat volgens 1 Sam. 2:35 getroue priesters is wat sal handel soos dit in God se hart en siel is. God bou vir hulle ‘n bestendige huis bou, sodat hulle al die dae “voor die aangesig van my gesalfde” kan wandel.
Vroeër is uit Ps. 2:6 voorgehou dat Jesus as Koning word superimpose oor Sion, die Bruid van Christus! Daar was in die voortyd eweneens ‘n “superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution” van die wesensaard van Jesus na sy Liggaam toe, “the express image of his person” (Heb. 1:3, KJV), “engraving …, the figure stamped, that is, an exact copy or representation”. Christus die Gesalfde is die beeld van God, maar Christus die Gesalfde is ook die heerlikheid van God (2 Kor. 4:4). Die gesalfde Bruid/Liggaam van die Gesalfde Hoof, Jesus, het met die sondeval nie net die Beeld van God verloor nie, maar ook die Heerlikheid van God – Rom. 3:23 stel dit duidelik: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Die nuwe mens moet derhalwe weer beklee word en vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper (Kol. 3:10). Dit is waarmee ons tans besig is, as deel van die vrystelling van onder andere die Gees van Wysheid, die Gees van Verstand en die Gees van Kennis, almal besig om as onderdele van die sewevoudige Gees van Christus (Jes. 11:2; Rom. 8:9) die gesalfde Liggaam te bemagtig, as getuies van die heerlikheid. Ons is bepaald, volgens Luk. 24:48 ook “getuies van hierdie dinge”.
Soos die apostel dit sê in 2 Pet 1:12 – “ek (sal) nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is”!
- Sela: Is jy waaragtig ‘n getuie van hierdie dinge?
- Lees: Ons begin die Bybel nou vir die elfde keer deurlees. Begin met nuwe oë Gen. 1-3 lees.
- Memoriseer: 3:15 – hoekom is hierdie so ‘n kernskrif?
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Daniël Gouws: Die sleutel en die tabernakel van Dawid