
“die openbaring van die verborgenheid
wat eeue lank verswyg is”
(Rom. 16:25, OAV)
Ons moet heel tyd in gedagte hou dat Matt. 11:13 klaarspeel met al die toekomsgerigte profesieë van die Ou Testament wat gelowiges op die Nuwe-Testamentiese tyd van toepassing wil maak: “Want al die profete en die wet het tot op Johannes (die Doper) geprofeteer.” Dit beteken eenvoudig ALLE Ou-Testamentiese profesieë is klaar in Jesus vervul. Maar dit is al die profesieë wat gesetel is in Jesus, die Seun van God, se koms na die aarde toe. Anders as wat ons gewone Juliaanse kalender dan na die tydperk vóór Jesus se geboorte verwys as v.C. (voor Christus), en die tyd daarna as n.C. (na Christus), sal dit vir ons wat die openbaring het van die uitgebreide betekenis van die begrip Christus meer sin maak as ons daarna verwys as v.J. (voor Jesus) en n.J. (na Jesus)!
In ons profetiese verstaan van die volvoerende koms van die Christus, was dit inderdaad so dat die begrip Christus in Jesus se tyd al enkele kere verduidelik is, byvoorbeeld in die gesprek wat daar ontstaan het tussen Jesus en Petrus in Matt. 16:13-20, waar Petrus aan Hom sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (v. 16). Dis geweldig interessant dat Jesus dan onomwonde verklaar dat rondom hierdie openbaring (v. 17) van wie die Christus is, Hy sy ekklesia (geestelike huis) sal bou: “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Petrus beteken in die oorspronklike taal “rots”, selfs in die Chaldees waaruit dit afgelei is (kay-fas’ = Céfas – Joh. 1:42), sê Strong. Maar Petrus is onmoontlik die rots waarop God sy koninkryk of ekklesia kan bou – dit kan nie deur vlees en bloed gebeur nie (1 Kor. 15:50), en EKSPLISIET is dié openbaring nié deur “vlees en bloed nie” (vers 17). Die misverstaan van hierdie openbaring het gelei tot die aanwysing van Petrus as die eerste pous, en dit het gelei tot die daaropvolgende totstandkoming van die Rooms-Katolieke kerk, met al sy menigvuldige dwalinge deur die eeue. Soos soveel keer al uitgespel in die Manna, verwys hierdie Rots egter na Christus (1 Kor. 10:4).
Die misverstand oor die gewaande posisie van Petrus lê enersyds in die feit dat sy naam ook “rots” beteken, maar veral andersyds in Matt. 16:19, waar Jesus aan hom sê: “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Die persoonlike voornaamwoorde wat hier net na Petrus kan verwys, laat dit onteenseglik so lyk dat aan hóm die sleutels van die ekklesia, die koninkryk van die hemele en die mag in hemel en aarde, toegeken is. In die daaropvolgende vers doen Jesus egter ‘n baie vreemde ding: “Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.” Waarom sal Hy dit enigsins doen?
Met die bonatuurlike gang van gebeure op die berg van verheerliking waar God gemanifesteer het in die wolk van getuies (met Moses en Elia herkenbaar daarin), het Jesus vir Petrus spesifiek, asook vir die twee ander dissipels, beveel: “Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.” (Matt. 17:9).
Dalk was dit dán eers die regte tyd om “die verborgenheid van die koninkryk van God te ken” (Mark. 4:11), maar spesifiek omdat Christus, as die wysheid van God (1 Kor. 1:24), “bestaan (het) in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid” (1 Kor. 2:7). Eers ná die opstanding kon “die verborgenheid van sy wil bekend gemaak (word) na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het” (Ef. 1:9).
Dit was egter eers Paulus, die apostel, wat die openbaring van die Christus as die grootste openbaring van alle tye in totale diepte ontvang het, “die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is” (Rom. 16:25). Paulus is as die ontydig gebore apostel (1 Kor. 15:8) as wonderteken geroep ter wille van hierdie allergrootse openbaring, wat hy self noem: “my insig in die verborgenheid van Christus” (Ef. 3:4). Sy spesifieke roeping is die ontginning van hierdie openbaring van Christus “tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van … Christus” (Kol. 2:2). Hy vra in Kol 4:3-4 gebed “dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is, dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek”. In Kol. 1:27 (AMP) word dit uitgespel wat presies hierdie verborgenheid of misterie is: “the riches of the glory of this mystery, which is Christ within and among you, the Hope of [realizing the] glory.”
Terug by Petrus wat volgens Matt. 16:19 lyk as die een wat byvoorbeeld die sleutels van die koninkryk van die hemele, die dood en die doderyk ontvang het. Nee, hy het dit bepaald nie ontvang nie, want onteenseglik sê Jesus oor Homself in Op. 1:17-18: “Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” Jesus bid duidelik in Matt. 6:10 – “laat u (God se) koninkryk kom”. In Ps. 103:19 stel die psalmdigter dit onomwonde: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” Die meeste gelowiges van sy tyd het “gedink … dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Luk. 19:11), omdat hulle ‘n fisiese koninkryk verwag het (Hand. 1:6), maar Jesus het die teendeel uitgespel in Joh. 18:36 – “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” En baie duidelik in Luk. 17:20-21: “En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.”.
Waarom sal Jesus dan enigsins die indruk skep dat Petrus persoonlik so prominent sal wees? Onthou deurgaans – dit gaan hier oor die openbaring van die Christus, en daardeur die koms van die koninkryk van God. Die belangrikste faset van hierdie openbaring is dat Jesus gaan terugkeer as die Heilige Gees, die “Here (Jesus) wat die Gees is” (2 Kor. 3:18). En nou – dit is niemand anders nie as Petrus wat in Hand. 2 die woord gefasiliteer het met die uitstorting van die Heilige Gees, oftewel die terugkeer van Jesus na die aarde! In vers 30 spel hy dit uit dat God aan Dawid die aartsvader belowe het dat: “hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit”. En later in vers 36: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Eers ná Jesus se opstanding uit die dood kon Jesus se voller identiteit as die Christus bekend gemaak word. Uit hierdie uitspraak wys dit duidelik dat Petrus verstaan het dat Christus veel meer as net Jesus is! Hy wat Petrus is, het, weliswaar saam met die ander apostels, as die spesifieke wonderteken “die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak” (2 Pet. 1:16), en só beslag gegee aan die nuwe epog wat in saadvorm nou moontlik was – die koninkryk van Christus. En nou, 2000 jaar n.J. (Hos. 6:1-3), het n.C. voluit ‘n aanvang geneem het. Die sesde koninkryk wat koning Nebukadnésar gesien het, verklaar hierdie opwindende nuwe bedeling.
- Sela: Kan jy hierdie ontsaglike groot waarheid aan iemand verduidelik?
- Lees: 4-9
- Memoriseer: 5:2
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die historiese vervulling van die droombeeld
van Nebudkadnésar en die koms van die laaste koninkryk op aarde