Dag 1627

 

 

“wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou?”

 (2 Kron. 2:6, OAV)

Streng gesproke is ons onderwyl steeds besig met ‘n detail uitpak van die belangrike sleutelvers, Jes. 35:10: “die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.”

Ons het reeds kosbare insigte verkry oor die Bruid se losgekooptheid, en wat dit moontlik behels. ‘n Laaste paar gedagtes (vir nou, ten minste) oor hierdie staat van uitverkorenheid van die Bruid van Christus, net om dié subtema meer af te rond.

Soos ons vroeër in Manna Dag 1581 verduidelik het, het elke uitverkorene (EN HELAAS IS ALMAL NIE UITVERKORE NIE, anders sou die begrip ‘n kontradiksie in terme wees!) sy oorsprong in Jesus gehad, en het hulle in Christus bestaan voor die skepping nog enigsins plaasgevind het. Die Bruid is volgens Ef. 1:4 pertinent tóé reeds uitverkies. God het sy heerlike plan aangaande die skepping en die verlossing van Sy geesseuns, wat in Christus tóé reeds uitverkore was, in Sy boekrol (Heb. 10:7) bekend gemaak. Sy uitverkiesing van ons tot seunskap en sy bloudruk van die vervolmaking van alle dinge het derhalwe lank voor die sondeval gebeur! [Net ter volledigheid: in Manna Dag 513-517 en 1161 is die foutiewe Gereformeerde beskouing van die uitverkiesing deeglik uitgespel.]

In Jes. 4:5 word die volgende oor hierdie uitverkorenes op Sion geprofeteer: “Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees.” Die “evangelie van die heerlikheid van Christus” (2 Kor. 4:4) is waartoe Hy die Bruid geroep het (2 Thes. 2:14), met ‘n heilige roeping (2 Tim. 1:9; Heb. 3:1). Jou roeping is dus die verseëling van jou uitverkiesing, die versekering dat jy nie jou merk sal mis nie! Hierdie beskutting waarvan Jes. 4:5 hierbo praat, is wat Neh. 8:10 uitspel: “die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting”. Nét in die derde dimensie, op Sion, is hierdie ongekontamineerde blydskap en vreugde te vinde – nét in Christus, die wysheid van God (1 Kor. 1:24) – “wysheid is ‘n beskutting” (Pred. 7:12).

Die woordjie “beskutting” het ‘n veel ryker betekenis in Hebreeus, en staan as ‘n chûppâh bekend. Dit word leksikografies as volg in The Complete Wordstudy Dictionary verklaar: “A feminine noun referring to a chamber, a cover, a canopy. It refers figuratively to the ‘bridal chamber’.” Laasgenoemde is natuurlik ‘n oproep van Ps. 19:5-6, waar die Psalmdigter verwys na die beweging van rhemawoorde oor die aarde: “Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ‘n tent (chûppâh) gemaak en dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.” Wanneer Paulus hierdie Ou-Testamentiese Skrif in Rom. 10:7-8 aanhaal, gebruik hy in Grieks die woordjie rhema vir woorde. Salomo het in 2 Kron. 2:6 gevra: “wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou?” Nou is dit duidelik – die Bruidegom funksioneer op aarde in sy aardse tent van hemelse rhemawoorde. Inderdaad het die Seun van die mens ‘n plek gevind waar Hy sy hoof kan neerlê (Luk. 9:58) – dít is ‘n “plek van geregtigheid” (Pred. 3:16) vanwaar “die son van geregtigheid” (Mal. 4:2) elke dag verskyn en oor die aarde beweeg in/deur sy woorde.

  • Sela: Wat is jou bydrae en hoe is jy in jou rhema-identiteit deel van God se “aardse woning”?
  • Lees: 10-12
  • Memoriseer: 12:2
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Huis wat Jesus wil kom bewoon