Dag 163

 

 

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het …” (Gal 5:1, OAV)

 

Ons deel vandag met een van die verkeerde horings waaraan mense soms gebind word as hulle aan die evangelie van Christus blootgestel word: die evangelie van Jesus-plus.                         Die evangelie van Jesus-plus beteken dat in die aanbod van Jesus as Verlosser word daar addisionele voorwaardes vir redding gestel, bv Jesus en die onderhouding van die Wet, of Jesus en goeie werke, of Jesus en jou tiende, of Jesus en die onderhouding van Hebreeuse tradisies, of Jesus en jou roeping, en so meer.

In die tyd van Handelinge was daar byvoorbeeld so ‘n dispuut dat die besnydenis essensieel was as deel van die pakket van redding: “En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.” (Hand 15:1).

In die alterkasie wat in die debat daarop gevolg het, het Petrus uiteindelik hierdie belangrike riglyn gestel: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (Hand 15:10). Die beginsel is eenvoudig: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word …” (Rom 10:9). Dit is net Christus, en niks meer of minder nie. Dis interessant dat Paulus later in  Gal 5:1-2 hierdie bold stelling maak: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.”

Dieselfde is waar van Christus-plus-enigiets – dit roof jou vryheid in Hom!

Daar is in die nuwe verbond NET een Jesus-EN-iets, en dit word in Mark 16:16 uitgespel: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word …” Maar, soos ons in vorige leringe duidelik gesien het, is doop ‘n volvoering van wedergeboorte.

Waak teen enige teologie wat jou bind aan iets meer as nét Christus.

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees vir ‘n deurtasting rondom enige godsdienstige juk wat jy oor hierdie saak onnodig mag dra.
  • Lees: 2 Sam 16; Spr 20; Jak 1
  • Memoriseer: Jak 1:5
  • Vir dieper delf: Lees Jeffrey Scharlet se uitstekende tong-in-die-kies essay Jesus and nothing: http://www.harpers.org/archive/2003/03/0079525.