Dag 1633

 

“die krag van die onvernietigbare lewe”

 (Heb. 7:16, OAV)

Met die vorige Manna se ondersoek kon ons bepaald die ou psalm gesing het: “Prys die Heer met blye galme; o my siel daar’s ryke stof!” Met verloop van tyd is ons uitgedaag met die vraag: “Hoe lees jy?” (Luk. 10:26). Ons nuwe manier van lees lewer tans soveel opwindende insigte op, tot so ‘n mate dat ons kan uitroep, soos in Jes. 34:16 – “Soek in die boek van die HERE en lees!” En daarmee saam: “laat hy wat lees, oplet—” (Matt. 24:15).

Jes. 34:16 hierbo kom – interessant genoeg – uit ‘n hoofstuk van Jesaja net voor dié een wat ons in verlede week se Manna ontgin het. Dit is ‘n hoofstuk wat op die oog af lyk na erge vergelding van God, maar tog begin die hoofstuk met hierdie skynbaar belofteryke oproep aan alles en almal: “Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom.” (Jes. 34:1).

Wat in die daaropvolgende klompie verse volg, is egter niks minder nie as absoluut vreesaanjaend. Dit lyk kompleet asof God wraak neem sonder perke. Die volgende klompie verse lees soos ‘n gruverhaal: “Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word. En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed. En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek en al sy leërskare val af soos ‘n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom. Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word. Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ‘n slagoffer in Bosra en ‘n groot slagting in die land Edom. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet. Want die HERE hou ‘n dag van wraak, ‘n jaar van vergelding …” (Jes. 34:2-8a).

Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible gee die volgende kensketsing van dié gedeelte: “This prophecy looks very black, but surely it looks so further than upon Edom and Bozrah. It describes the melancholy changes that are often made by the divine Providence, in countries, cities, palaces, and families.”

Uit die bostaande Skrifgedeelte behoort jy teen dié tyd veel tipologies te kan haal, want ons ken nou al baie van die meestersimbole van die Bybel. Jy behoort nou al te weet wat bedoel word met die leërskare van die nasies en die leërskare van die hemele; wat dit impliseer as daar gesê word berge smelt van hul bloed; wat dit beteken dat die hemele vergelyk word met ‘n boek wat opgerol word; wat presies God se swaard is; wat die vyeboom en die wingerd simbolies beteken; en so meer. Die Bybel het sy eie leksikon wat deurgaans oor groot afstande in die Skrif heen in ooreenstemmende betekenis gehou word, en daar is ‘n merkwaardige kohesie waarvan jy jou al lesende (met die jare) moet vergewis.

In vers 8b word daar ewe skielik ‘n saak bygehaal wat die gang van die diskoers tot dusver  in ‘n totaal ander lig stel. Die eerste gedeelte van die vers het ons al hierbo aangehaal, maar ter wille van die konteks herhaal ons dit: “Want die HERE hou ‘n dag van wraak, ‘n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.” Die CEV vertaal die laaste gedeelte eenvoudiger as “he will take revenge and come to Zion’s defense”. Dit lyk dan absoluut asof die wraak op die vyande die een kant van die munt, en die ander kant van die munt welwillendheid en herstel aan Sion is. Hierdie staat van dinge is dikwels ‘n Bybelse patroon, soos dit byvoorbeeld ook in Jes. 61:2 naas mekaar gestel word: “om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God”. Dis baie belangrik om te verstaan albei te gelykertyd plaasvind, en boonop sal dit nie eers ééndag gebeur nie, maar gebeur dit VANDAG.

Vanaf vers 9 tot voor die voorlaaste vers teen die einde van die hoofstuk word die dieptes van die wraakgebeure uitgespel, met die volle vrystelling van allerlei gure demoniese karakters. Dan, as slotsom hieroor, in vers 16, word God se hand hierin ook duidelik onderskei: “for the LORD has promised this. His Spirit will make it all come true.” (CEV). Dit is baie belangrik om te verstaan dat die demoniese realm nie vrypas het om te maak wat hul wil nie.

Maar die sentrale vraag wat oor hierdie hoofstuk hang, is onteenseglik: wat word as getuienis gebied in hierdie regsaak van Sion? Die twee vorige verse wat hierdie belangrike frase voorafgaan, hou verskuild die antwoord: “Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ‘n slagoffer in Bosra en ‘n groot slagting in die land Edom. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.” (Jes. 34:6-7).

Bloot op grond van herhaling moet dit jou opval dat daar twee substanse in die twee verse vooropgestel word: bloed en vet. Wat sou die simboliese betekenis hiervan wees? Lev. 3:17 spel die volgende belangrike Ou-Testamentiese wet uit: “ ‘n Ewige insetting is dit vir julle geslagte in al julle woonplekke: géén vet en géén bloed mag julle eet nie.” Bloed is uiteraard simbolies tekenend (Eks. 12:13) van die siel van mens en dier (Deut. 12:23) en die enigste middel wat gebruik kan word vir die reining van sonde en om versoening met God moontlik te maak (Heb. 9:22). In die lig van die lering van Dag 1621-1623 en wat toe oor die loskoping van die eersteling van ‘n donkievul gesê is, is Num. 18:17 uit hierdie perspektief baie insiggewend; “Maar die eersgeborene van ‘n bees of die eersgeborene van ‘n skaap of die eersgeborene van ‘n bok moet jy nie loskoop nie; heilig is hulle; hulle bloed moet jy uitgooi teen die altaar en hulle vet aan die brand steek as ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.” [Maak ‘n mentale nota oor die lieflike woordjie lieflike, waarnatoe ons in die afsienbare tyd gaan terugkeer.] Bloed en vet is “heilig”, en duidelik van groot belang vir God:

  • “bloed … is hoogheilig … aan die Here” (Eks. 30:10); daarbenewens is dit in die Ou Testament (Eks. 2:48) én die Nuwe Testament (Heb. 13:20) die simbool van “die bloed van jou verbond” (Sag. 9:11) met God; en
  • “Al die vet behoort aan die HERE.” (Lev. 3:16).

In sy dramatiese elegie, genaamd ‘Booglied’, beween Dawid die dood van Saul en Jónatan, en beskryf hul as helde, en gebruik dan die spesifikasies van bloed en vet om hul gesalfde (1 Sam. 24:6) aard aan te dui: “Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die helde het die boog van Jónatan nie agteruitgewyk en die swaard van Saul nie leeg teruggekeer nie.” Hier kry ons al ‘n sterk aanduiding dat bloed en vet gesalfdheid impliseer. Dit word absoluut duidelik in byvoorbeeld Eseg. 44:15 waar oor die seuns van Sadok, ‘n spesifieke Ou-Testamentiese groepie van Levitiese priesters wat tipologies is van die “koninklike priesterdom” (1 Pet. 2:9), die Bruid van Christus, gesê word: “Maar … die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af weggedwaal het, hulle moet na My toe nader kom om My te dien en voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE.”

Maar wat sal die fusie van bloed en vet dan wees? Uiteraard vorm dit murg! Daar is twee tipes beenmurg, te wete die rooi murg (medulla ossium rubra), wat hoofsaaklik bestaan uit bloedmakende weefsel (in Engels, uit die Grieks, genaamd “hematopoietic tissue”) en geel murg (medulla ossium flava), wat hoofsaaklik uit vetselle bestaan en vet, kraakbeen en been maak.

Die lieflikheid hiervan is dat die mediese naam van die rooi murg uit twee Griekse woorde αἷμα (bloed) en ποιεῖν (om te maak) bestaan. Laasgenoemde woord behoort ons Mannalesers al te ken – dit is dieselfde woord waaruit poiēma (ποίημα) kom. ‘n Mens sou dit gemaklik bloedpoësie kon noem. Daarin skuil die siel, en die onvernietigbare lewe (Deut. 12:23)! Dit vervaardig dan uiteraard net bloed, dit wil sê dit vervaardig net lewe! As Jesus met sy dissipels praat in Joh. 6:53 dan sê Hy onomwonde: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.”

Die vetweefsel van die geel murg verteenwoordig simbolies die salwing. As die Bruid “van sy vlees en van sy bene” (Ef. 4:30) is, dan dui dit onomwonde op die inkubasieruimte van Jesus se lewe en Jesus se salwing wat die Christus ontvang het! Hierdie Christus, oftewel die Bruid, oftewel die Seuns van Sadok, oftewel die priesterdom van Melgisédek, dra IN hulle “die krag van die onvernietigbare lewe” (Heb. 7:16). Waar kry ‘n mens ‘n mooier lofsang as hierdie deel van Jes. 25:6-8, wat duidelik ‘n Christologiese profetiese lied is wat korrespondeer met Op. 21 en 22: “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg [= Sion] vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.”

Terug by Jes. 34:6-7 hierbo, en die vraag wat ons probeer beantwoord: wat word as getuienis gebied in hierdie regsaak van Sion? “Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ‘n slagoffer in Bosra en ‘n groot slagting in die land Edom. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.” In Manna Dag 1346-1348 asook Dag 1618-1620 is verduidelik dat die simboliese swaard van Ef. 6:17 “die swaard van die Gees” is “die (rhema)woord van God” is. Van hierdie swaard drup bloed en vet, en skep dít die onvernietigbare lewe IN ons, wat meebring dat in die land Edom (= rooi = Adam) die stof (Gen. 2:7; 3:19) VERSADIG word van bloed en vet. Wat lyk na ‘n slagting vir die wêreldse oog, is in wese ook ‘n triomfantlike getuienis in die regsaak van Sion.

Hierdie paradoks is baie moeilik om te verstaan, maar kan miskien die mooiste verduidelik word aan die hand van wat Heb. 11:7 oor die geloofsheld Noag sê: “toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die [allerheiligste – Jud. 1:20] geloof is”. Noag het in die geregtigheid van God se roeping vir hom geloop, en DAARDIE POSISIE VAN derdedimensie-GEREGTIGHEID het die wêreld veroordeel al het hy géén veroordeling teenoor iemand gerig nie. Die swaard van Noag se rhemawoord het die mensdom veroordeel. Dít is wat in die regsaak van Sion, oor my en jou se posisie en funksionering in die Bruid, aangebied word!

Die enigste gedeelte van hierdie perikoop wat nog nie gedek is nie, is die frase: “Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere …”

Kom ons begin by die laaste gedeelte, in die KJV vertaal met “bullocks” (wortelwoord: “to break up”). In die piktorale Hebreeus word hierdie woordjie aangedui deur twee simbole: “The pictograph p is a picture of an open mouth, the r is a picture of a head. Combined these mean ‘open the head’. The heads of grains are scattered on the threshing floor, a smooth, hard and level surface. An ox is lead around the floor crushing the heads, opening them to reveal the seed inside.” (AHLB). Die woordjie “bulls” word in dieselfde bron simbolies gelys as “the filling of man with life and the image of God”!

In die volgende Manna sal ons die wonderbaarlike implikasies van hierdie verse verder voer en die lyne van die argument saamknoop.

 

  • Sela: Probeer die simboliese betekenisse wat in paragraaf 3 gevra word, beantwoord.
  • Lees: 19-27
  • Memoriseer: 22:4
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Lied van Jou Roeping: Sal dit Booglied

of Hooglied wees?