Dag 1636-1638

 

“And the beasts of the waste places will come together with the jackals, and the evil spirits will be crying to one another, even the night-spirit will come and make her resting-place there.”

(Jes. 34:14, BBE)

Na ons vorige Manna voel ek bietjie soos Alice in Through the Looking-Glass (van Lewis Carroll) as die eenhoring sê: “Well, now that we have seen each other, if you’ll believe in me, I’ll believe in you.”

Daar is nog ‘n paar sake te verreken oor die eenhoring en wat die Bybel daaroor sê, maar vir eers is dit dalk gepas om nou bietjie meer oor die algemeen te kyk na die simboliek van diere en die voorkoms daarvan in die geesrealm (veral die vreemde samegestelde diere wat ons in byvoorbeeld die apokaliptiese boeke, veral Esegiël, Daniël en Openbaring, kry). In die Bybel is daar “a list of creatures, the greater part of which are matter-of-fact animals or birds … all these creatures are looked upon as more or less demonic” (International Standard Bible Encyclopedia).

Ek het dit goed gedink om vir ‘n wyle so ‘n ondersoek te integreer met persoonlike getuienisse waarin die demoniese geestesrealm duidelik werksaam was in bepaalde ervarings wat ek en gelowiges (en niegelowiges) saam met wie ek loop, opgedoen het.

Net allereers – as vrywaring vir mense wat sou dink hierdie getuienis is ongeloofwaardig. Ten grondslag hiervan lê die waarheid van 1 Kor. 2:14 – “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”

Toe God my en my gesin teen die einde van 2001 van Mafikeng af Pretoria toe roep, het Hy gesê dat Hy sal besluit waar ons fisies gaan woon, want dit is van profetiese belang. ‘n Week voor ons moes trek, wys God vir ons op ‘n bonatuurlike manier die plek waar ons moes woon naby Hartebeespoortdam. Ek het ‘n persoonlike opdrag gekry “to raise Me a house of prophets”.

‘n Profetiese woord het gekom oor die posisionering van ons woonplek en my mandaat en die geografiese posisionering van Vlakplaas. Op dié regeringsgrond is sangomas in dié tyd gevestig. Om verskeie redes was ek en die persoon in beheer van dié operasie op Vlakplaas, ‘n bekende politikus en geestelike, in direkte opposisie teenoor mekaar in die geesrealm. Die sangomas se taak was om as profete van ‘n ander koninkryk hul agenda vir Suid-Afrika in die hemele te programmeer. Hulle doen klaarblyklik só veral deur onskuldige bloedoffers. In die gees moes hul geweet het van my intrek en opdrag en daarom, was daar die vermoede, het hulle alles in hul vermoë gedoen om my van die grond af te kry. Meubels wat in die huis rondgeskuif word, kinders wat aanhoudend droewig weeklaag, mans wat verwoed skree, en vroue wat gil, het getoon alles is geestelik bepaald nie pluis nie.

Laterig een aand is ek toilet toe, en toe ek instap, raak ek bewus van ‘n onnatuurlike “stench and foul smell” (Joël 2:20, RSV), ‘n redelik bekende reuk as daar demoniese manifestasie in ‘n vertrek voorkom. Die volgende oomblik word ek asof uit die niet met regte vars bloed gespuit, op my kop, gesig, arm en bors. Daar was niks sigbaar in die klein vertrekkie wat dit my kon aandoen nie. Ek vermoed toe dit is bes moontlik demoniese werking, dalk goëlery. Ek is so onverwags gevang, dat ek vinnig teruggetree het en na die slaapkamer gestap het om my vrou te gaan wys wat met my gebeur het. Nadat ek gewas het en skoon klere aangetrek het, besluit ek toe ek moet teruggaan om te kyk of dit weer sal gebeur. Wéér word ek met bloed bespuit, maar omdat ek meer bedag was dat dit moontlik kon gebeur, val dit hierdie keer net so skramsweg op my. Die meeste van die bloed beland op die toiletsitplek en vloer. Dié keer het ek met mag en mening in tale gebid teen iets onsienlik wat in die fisiese realm manifesteer. Daar was steeds niks sigbaar in die vertrek nie. Nadat ek weer gaan was en verklee het, het ek ‘n derde keer teruggegaan, en toe het niks gebeur nie.

Met al my ervaringe in die geestesrealm het ek nog nooit só iets ervaar nie. Ek het gaan konsulteer met ‘n Nigeriese pastoor wat in dié tyd evangelisasiedienste in Atteridgeville gehou het, en hy was van mening dat dit ‘n vampiergees is wat op regtige bloed leef. Hy noem toe dat hierdie geeste byvoorbeeld spesifiek motorongelukke veroorsaak om sodoende toegang tot bloed te verkry. Die gees(te) se doel was om my van die grond af te kry. Vir my was dit ‘n baie rare, tog reële ervaring en alhoewel ek gedink het vampiere is verbeeldingsmonsters, het ek nou ‘n rede gehad om te vermoed dat hulle wel in die geestesrealm bestaan.

Interessant verwys Spr. 30:15 na ‘n bloedsuier, na my wete die grillerige diertjie wat jy byvoorbeeld kry in waterstrome en dikwels op perde. Dog in Hebreeus (‛ălūḳāh) kan dit volgens die gesaghebbende woordannotasiekommentaar van Keil & Delitzsch Commentary on the Old Testament onteenseglik dui op “a demoniacal spirit of the character of a vampire”. Jamieson, Fausset & Brown Commentary stel dit meer versigtig: “supposed by some to be the vampire (a fabulous creature)”. Die American Standard Version bied as voetnota by dié woord in die kantlyn “vampire”, en dit is bes moontlik op grond van die Arabiese Bybel wat ‘n baie soortgelyke woord volgens die ISBE as “a ghoul (Arabic ghûl)” vertaal.

Een oggend vroeg, ‘n paar weke daarna, ontvang ek ‘n vreemde sms van een van my geestelike seuns, waarna ek as GM sal verwys. Dit lui as volg: “Ek het ‘n droom gehad waarin ek die volgende sien, soos in ‘n woordeboek: GOUWS/VIRGINIA WOOLF.” Hy het nie geweet wat die droom beteken nie, ook het hy nie eers geweet daar is ‘n skrywer met die naam Virginia Woolf nie. Terwyl ek hieroor bid, het ek ervaar ek moet ‘n spesifieke gids oor die Engelse letterkunde van my boekrak gaan haal, getiteld: The Bloomsbury Guide to Literature. Die Heilige Gees wys toe pertinent twee dinge uit: Eerstens dat Woolf deel was van die Bloomsbury-groep, ‘n intellektuele groepering kunstenaars wat ‘n belangrike rol gespeel het in die gestaltegewing van die Romantiekbeweging, waarvan die kern was om ‘n ideële droomwêreld te skep waarin hulle heen kan ontsnap. Tweedens: hierdie groep het ‘n aanvang geneem in 1904, tóé presies een honderd jaar gelede. Ek het dadelik ervaar die Here lê ‘n verband met ‘n groepering binne ons geloofsnetwerk, waarvan een van my kinders ook deel was, ‘n groepering van kunstenaars/akademici/filosowe wat reeds as groep bepaalde groot opdragte van die Here ontvang het om die destruktiewe en dekadente siklusse in hul generasie te verbreek. Een van die gemeenskaplike eienskappe wat hul almal met hul generasie gehad het, was die nalatenskap van die Romantiek, en veral die behoefte om te ontsnap in ‘n ideële droomwêreld.

In gesprek met die groep vertel een van die ander jong gelowiges van haar spesifieke identifisering met die Bloomsbury-groep se asketisme en melankolie en sy wys my op die feit dat hulle uiteindelik geglo het om nie kinders te hê nie omdat dit hulle van hul skeppende tyd sou beroof.

Die gemelde droom van GM het my geweldig onrustig gemaak, want bykans 33 jaar terug – toe ek en my vrou ons eersteling verwag het, het ek op ‘n dag uit die bloute gevoel ek moet ‘n drama skryf met die titel: Who’s afraid of Virginia Woolf? My navorsing in Potchefstroom se biblioteek het my veel laat nalees oor die skrywer Virginia Woolf en haar tragiese geskiedenis, maar toe lei Hy my na ‘n drama van Edward Albee met dieselfde titel as wat ek in my kop gehad het. Nodeloos om te sê, het ek, teleurgesteld, die hele projek laat vaar. (Daarbenewens het die drama gegaan oor ‘n kind wat sterf, ‘n onderwerp wat ek in daardie stadium geensins oor wou dink nie.)

Een van my intersessors en geestelike seuns sms in dié tyd en sê dat elke keer as sy vir my bid, kom die naam Ingrid Jonker op. Die aand op pad terug van ‘n huisgemeentebedienng voel ek ek moet RSG luister (wat bepaald net die Here kan wees), wat toe ‘n musikale verwerking speel van Ingrid Jonker se gedig: ‘Ontvlugting’, wat ‘n bisarre heenwysing is na die wyse waarop sy selfdood sou pleeg deur in die see by Drieankerbaai in te loop en te verdrink. Die Heilige Gees het onmiddellik die verband gelê tussen die twee vroue wat op dieselfde wyse gesterf het. (Jonker word die Suid-Afrikaanse Woolf genoem.) Ek het onmiddellik besef dit is ‘n watergees wat hul uiteindelik die water ingetrek het binne die geromantiseerde ruimte van die dood.

Op Woensdagoggend 23 Junie 2004 sterf een van my geestelike seuns, wat ek hier sal noem JK, op ‘n jong ouderdom in ‘n kop-aan-kop botsing. Ek het hom seker net so ongeveer 4 maande vantevore ontmoet toe sy vrou, wat by ons maatskappy gewerk het, vir hom ‘n beradingsafspraak by my gereël het. Toe hy kom sit, het ek deur ‘n woord van kennis die woord “The last Samurai” in my gees gehoor en dit vir hom gesê, waarna hy toe begin huil het. Hy vertel toe dat hy ‘n kort tydjie gelede die fliek saam met sy ma gaan sien het en dwarsdeur die fliek gehuil het. Hy het met iets daarin geïdentifiseer sonder om te kon vasstel wat dit presies was. Alhoewel hy godsdienstig was, het ek en hy die dag saamgebid en het hy ‘n nuwe oorgawe aan die Here gemaak. Die verandering in sy lewe was dramaties en radikaal. Daar is met baie dinge tydens sy bevryding gedeel, onder andere minderwaardigheid en vrees, maar veral met sy probleem rondom ‘n geïdealiseerde droomstaat waarbinne hy homself dikwels verloor het.

My vorige ervaring met iemand wat in so ‘n verbeeldingswêreld geleef het, was vir my as berader absoluut traumaties. Dit was ‘n doodgewone jongman, ‘n gelowige, wat op die oog af nie veel probleme gehad het nie. Tog was hy geweldig vreesagtig en het ek (en hy) ervaar die Engel van die Dood het aanspraak op hom gemaak. Hy was toe ook al ‘n paar keer in motorongelukke. Na verloop van tyd waarin ons probeer peil het wat die aanhegtingspunt van die Bose in sy lewe kon wees, het die Heilige Gees gewys dat hy in ‘n verbeeldingswêreld leef. Hy was klein in sy eie oë, minderwaardig, en daarom het hy allerhande wêrelde geskep waarbinne hy suksesvol was, ryk was, gewild was, en so meer. Die Heilige Gees gee toe strategie om hom na een van daardie wêrelde te begelei en te vra of God daar is. Toe ek die vraag vra, het die demone dramaties begin manifesteer. God was nie in daardie verbeelde, geromantiseerde wêreld nie; dit was ‘n plek waar verskeie bose gestaltes hulleself gerieflik tuisgemaak het, ‘n “a habitation deserted and forsaken like the wilderness”, soos Jes. 27:10 (ACV) dit noem.

Die een gees wat toe manifesteer wat God my laat onderskei, was die gees van die weerwolf. Volgens Adam Clark’s Commentary on the Bible is dit ook heel moontlik een van hierdie “disembodied spirits who haunt these desolate recesses”. Hierdie jong man het soos ‘n wolf gehuil en op die grond gekruip en my toe aan my enkels begin byt. Ek het hom op sy rug op die grond moes vastrap terwyl ek die demoon uitdryf. Tydens die bevryding het die demoon die man se onderlyf opgetel (soos groot visse hul sterte lig) en dan met geweld op die grond neerslaan. Dit het die man laat krul van die pyn, want die neerslaan was op sy geslagsdele. Ek het besef die gees is daarop ingestel om die nageslag simbolies te vernietig.

JK het ‘n kamp bygewoon en het tydens die kamp ‘n goeie begrip getoon van wat sy roeping behels. Hy het ons gevra dat hy nie meer op sy doopnaam genoem moes word nie, maar eerder Neo, soos die hoofkarakter in die kultusfilm The Matrix. Wat gewoonlik eers by ‘n latere fase 2-kamp plaasvind, naamlik die vind van jou geestelike naam, het toe reeds by hierdie kamp met hom gebeur. Hy het gevoel God noem hom Dragonslayer. Dwarsdeur die naweek was daar skielik in die geestesrealm teenstand teen ‘n prinsipaliteit wat ons kon onderskei as die draak. Die verloop van hierdie verhaal sal in die volgende Manna hervat word.

  • Sela: Is gelowiges uitgelewer aan demoniese werking? Gee ‘n Bybelse verklaring.
  • Lees: 37-45
  • Memoriseer: 41:38
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Gees van Lilith en hoe sy die kerk

                              verhoed om Bruid te word