“‘n verbond met die wilde diere …”
(Hos. 2:18, OAV)
Die gesprek oor die simboliek van diere in die Skrif is verlede week op so ‘n belangrike hoogtepunt afgesluit! Daar is uitgewys dat die begrip wildernis “among the wild beasts” beteken, en dat ná die wedergeboorte die gelowige die woestyn of wildernis binnegaan, waar daar ‘n geweldige stryd met geestelike wilde diere is, sodat jy geleer kan word om te oorwin, sodat jy kan leer om te heers. Dit alles lei daartoe dat jy gereed gemaak word om die beloofde land te kan ingaan, daar waar Op. 3:21 waar word: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”
Ons het onteenseglik gesien dat dit God is wat jou die woestyn inlei en daar na jou hart spreek. Jou gehoorsaamheid bepaal hoe lank jy in die wildernis bly. God het bedoel dat dit die Israeliete net elf dae sou neem om die deurtog te doen (Deut. 1:2); dit het uiteindelik veertig jaar geneem, en steeds was al die afgode nie uit die volk se hart verwyder nie. Num. 14:33 spel hierdie ontrouheid aan die afgode van ons hart só uit: “En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is.”
Maar vir die enkeles, die oorblyfsel, die Bruid, wat wel daarin slaag om te oorwin en deur te beweeg na die derde dimensie, het Jes. 40:2 (ESV) waar geword: “her warfare is ended”. En hier pas die res van die profesie van Hos. 2:18-20 dan in: “Verder sluit Ek in dié dag vir hulle ‘n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land, en Ek sal hulle in veiligheid laat rus. En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken.”
Vroeër in Hos. 2 het ons in vers 15 gelees: “Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ‘n deur van hoop …” Die dal van Agor se naam beteken “trouble” (BDB), en die wortelwoord is onder andere “to afflict” (Strong). Benewens die bekende betekenis van die woordjie dal, dui die wortelwoord veelseggend op “to take possession, inherit” (BDB). Jy moet eers deur die beproewingsdal van Agor gaan, voordat dit ‘n deur van hoop kan word, dat jy jou geestelike erfporsie in besit kan neem. Dán eers gebeur Jes. 65:10 – “En Saron sal ‘n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor ‘n lêplek vir beeste, vir my volk wat My gesoek het.” Die pastorale prentjie van diere wat die vrede van die land simboliseer, is hier duidelik.
Van groot belang is dat hierdie gebeurtenis gespesifiseer en uitgehef word as “dié dag”, ook vroeër in vers 15: “in dié dag”. Dan vervolg verse 21-23, wat uitspel wat “in dié dag” sal gebeur: “En in dié dag sal Ek verhoor, spreek die HERE, Ek sal die hemel verhoor en dié sal die aarde verhoor. En die aarde sal die koring verhoor en die mos en die olie, en dié sal Jísreël verhoor. En Ek sal haar vir My saai in die land en My oor Lo-Rugáma ontferm, en aan Lo-Ammi sê: Jy is my volk; en hy sal sê: My God!”
Onthou Manna Dag 1308-1309, waarin ons uitgespel het wat vandag beteken: “Dus – vandag is ‘n teleskopering van die einde as jy (vandag) gehoorsaam is, derhalwe is vandag as jy gehoorsaam is, die Sabbat of voleindiging. Dit is omdat God nét in vandag is.”
- Sela: Leef jy enigsins in die verlede of in die toekoms?
- Lees: 23-25
- Memoriseer: 23:22 (Wat ‘n belangrike vers is hierdie!
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Rus in die Dag van Onheil