“… ‘n kroon van dorings …”
(Joh. 19:2, OAV)
In Manna 1634-1635 het ons in die ondersoek na die eenhoring uitgewys dat die verwysing uit die Encyclopaedia Judaica, wat vreemd genoeg onder die lemma, Buffalo, verklaar dat dit die Hebreeuse woord מְרִיא (meri) is, vertaal moet word met “fat cattle” or “fatling”, en hul bied byvoorbeeld 2 Sam. 6:13 en 1 Kon. 1:9 & 19 ter voorbeeld daarvoor aan. As daar volgens dié bron in Eseg. 39:18 staan “vetgemaakte diere van Basan”, is die Bybelse Basan – in die Betehavallei aan die voet van die Golanhoogtes – skynbaar bekend vir sy buffels. Hierdie vreemde gelykstelling word met groot stelligheid voorgehou, en al klink dit op die oor af nie reg nie, dra dit ‘n opwindende en belangrike simboliese assosiasie, wat ons moes ondersoek, maar alvorens ons dit kon doen, het die pad eers gekronkel op die simboliese betekenis van diere in die algemeen. Ons kan nou weer na die buffel toe terugkeer, en die ondersoek waarmee ons besig was oor Jes. 34.
In die “regsaak van Sion” (vers 8) word al die verskillende diere ingespan om in die wildernis (vers 10) ‘n bepaalde rol te speel sodat die Bruid gesuiwer kan word van alle afgodsteenstanders in haar, alle Baäls. En dit is nie meer vreemd dat ‘n ark van hierdie diere dan opgenoem word wat die Here inspan om hierdie taak te verrig nie: die pelikaan, die krimpvarkie, die uil, die kraai, jakkalse, volstruise, boskatte, wildehonde, die pylslang en die kuikendiewe. Hulle word in een asem genoem met die veldduiwels en die naggees. En die vesting van al hierdie skrikwekkende demoniese diere is begroei met dorings, brandnetels en distels (verse 11-15).
Deel van die vloek waarmee die mens sedert Adam sit, is Gen. 3:17-18: “vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring …” Hieroor is daar veel te sê, ook oor die simboliese betekenisse van al die diere en gestaltes wat hierbo opgenoem is, maar dit sal eers later aan bod kom.
Die belangrikste om nou eers uit te hef, is dat hierdie wildernisvesting met al die demoniese gestaltes IN jou is. Dit is hier waar die gestuurde teenstander jou om elke hoek en draai inwag. Moet nie vergeet nie – dit is die Gees wat jou die wildernis inneem (Matt. 4:1). Dit word deur Jes. 5:6 bevestig: “En Ek sal dit ‘n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.” God beskik die temperingsaard van hierdie gestaltes, diere en domein – dit is sy geskenk – “En jy, mensekind, wees nie vir hulle of vir hulle woorde bevrees nie, omdat distels en dorings by jou is, en jy by skerpioene woon …” (Eseg. 2:6). In Num. 33:55 spel God uit aan die mens: “Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon.” Later, in Jos. 23:13, word hierdie woord dan volvoer vir die gelowiges: “weet dan verseker dat die HERE julle God nie langer hierdie nasies voor julle uit sal verdrywe nie; maar hulle sal vir julle ‘n vangnet en ‘n strik wees en ‘n angel in julle sye en dorings in julle oë, totdat julle omkom uit hierdie goeie land wat die HERE julle God aan julle gegee het”.
Daar is geen ander uitweg nie – dit is ‘n pad waarin jy dikwels uitgelewer word aan die doringkroon, net soos Jesus: “En die soldate het ‘n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en ‘n purper kleed om Hom gewerp.” (Joh. 19:2); ons is onteenseglik geroep om “deelgenote … aan die lyding” (2 Kor. 1:7) te wees. Ons is nie net geroep om slegs in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly (Fil. 1:29).
In Heb. 11 word die ongelooflike verhale vinnig opgenoem van baie bekende helde van die geloof wat almal gesterwe het sonder om God se beloftes vir hulle te verkry, alhoewel hul “dit uit die verte gesien en geglo en begroet” het, en deurgaans bely het dat hulle eintlik vreemdelinge en bywoners op aarde was. Hulle het die Nuwe Jerusalem in die verte gesien, en verklaar dat hulle ‘n vaderland soek. Maar daar was ook ‘n galery onbekendes, waaroor die skrywer van die Hebreërboek skryf vanaf vers 32 tot 38: “En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry. Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.” Die prosperity gospel sneuwel nét hier.
Om ‘n beter opstanding te verkry? Wat op aarde sal dit kan beteken! Twee Skrifte verklaar die geheimenis ten grondslag van hierdie vreemde frase:
- “Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.” (Heb. 2:10); en
- “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” (Fil. 3:10-12).
Daar is ‘n bepaalde opstanding uit die dood wat gebeur terwyl ons in die lewe is – die AMP hou Fil. 3:11 soos volg voor: “That if possible I may attain to the [spiritual …] resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body].” Hoe meer lyding, hoe beter die opstanding, met ander woorde, hoe meer die heerlikheid! Weer die AMP se 2 Kor. 4:17 – “For our light, momentary affliction (this slight distress of the passing hour) is ever more and more abundantly preparing and producing and achieving for us an everlasting weight of glory [beyond all measure, excessively surpassing all comparisons and all calculations, a vast and transcendent glory and blessedness never to cease!] …” Heerlikheid vermeerder progressief en ontvouend, van “heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18).
Die mate van die gemeenskap aan sy lyding is direk eweredig aan die mate van die krag van sy opstanding! Sela!
Net één voorbeeld ter illustrasie – 2 Tim. 3:12 spel dit uit: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” As jy dus byvoorbeeld nié enigsins vervolg word nie, lewe jy bepaald nié godvrugtig nie!
Terug by Jes. 34:6 – “Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ‘n slagoffer in Bosra en ‘n groot slagting in die land Edom.”. Ons moet die vraag soos in Jes. 63:1 vra – “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag?”
- Sela: Hoe hanteer jy lyding?
- Lees: 26-31
- Memoriseer: 26:34
- Delf dieper: Luister na die lering van Tom Gouws: Die Vuurvlam van ‘n Doringbos en jou
Doringkroon