“Maar U verhoog my horing soos van ‘n
buffel; ek is met vars olie gesalf.”
(Ps. 92:10, OAV)
In Manna 1634-1635 het ons in die ondersoek na die eenhoring uitgewys dat geëindig met die verwysing uit die Encyclopaedia Judaica, wat vreemd genoeg onder die lemma Buffalo verklaar dat dit die Hebreeuse woord מְרִיא (meri) is, wat vertaal moet word met “fat cattle” or “fatling” en hul bied byvoorbeeld 2 Sam. 6:13 en 1 Kon. 1:9 & 19 as voorbeelde aan. As daar volgens dié bron in Eseg. 39:18 staan “vetgemaakte diere van Basan”, is die Bybelse Basan skynbaar bekend vir sy buffels. Hierdie vreemde gelykstelling word met groot stelligheid voorgehou, en al klink dit op die oor af nie reg nie, dra dit ‘n opwindende en belangrike simboliese assosiasie, wat ons moes ondersoek. Ons kan nou weer na die buffel toe terugkeer, en die ondersoek wat ons gedoen het oor Jes. 34.
Terug by Jes. 34:6 – “Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ‘n slagoffer in Bosra en ‘n groot slagting in die land Edom.”. Ons het die vorige Manna afgesluit met die vraag in Jes. 63:1, maar ons moet die konteks van die volgende vier verse ook gee – “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun.” Inderdaad, “wie is Hy?”, “wie is hierdie man?” (Matt. 21:10), dieselfde vraag wat gevra is toe Jesus met ‘n donkievul Jerusalem binnegery het.
Hierdie tipe amper obskure verwysings uit die Ou Testament word meestal jammerlik genoeg deur die nuweverbondlesers met afsydigheid en afstandelikheid bejeen. Immers is ons nou vry van die wraak van God wat in Jesus Christus uitgewoed het, die dag wat dit God behaag het om sy Seun te verbrysel (Jes. 53:10), en die jaar van verlossing wat toe aangebreek het. Onthou – Jes. 34:8 het dieselfde retoriese patroon van tydaanwysing gehad: “Want die HERE hou ‘n dag van wraak, ‘n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.” God werk dikwels met presiese siklusse van tyd – die pragtige ordelike gang van die Joodse feeste en hoe dit absoluut presies in tyd vervul is, is ‘n baie goeie voorbeeld daarvan. Die Israeliete het byvoorbeeld na 430 jaar “op daardie selfde dag” (Eks. 12:41) Egipte verlaat; in Op. 9:15 lees ons van bepaalde gebeure wat “gehou was vir die uur en dag en maand en jaar”. Die Ewige-lewende God, verduidelik Dan.12:7, werk hier byvoorbeeld met “‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd” waartydens al hierdie geprofeteerde dinge vervul word. Onthou eweneens die absolute presisie van vervulling ook van Daniël se tydlyn. In Num.14:34 word verduidelik dat God dikwels hierdie tydsvoltrekking presies of simbolies of logies ekwivalent laat geskied, duidelik ‘n bewussyn van matematiese presisie van die Groot Wiskundige: “Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word.”
Jes. 61:2 proklameer dan dat die “jaar van die welbehae van die HERE” ‘n aanvang neem met die “dag van die wraak van onse God”! Die eerste saak wat ons nou moet vasmaak, is dat die God van ewigheid absoluut werk met die detail van ons chronostyd. Knoop dit aan die oor.
Die vorige Manna is afgesluit met die vraag: Wie sou die persoon dan wees waarvan daar hier sprake is: “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag?” Wie is die een “die pers alleen getrap (het)”, sodat die “lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het”? As dit in een asem genoem word met “verlossing”, kan dit nie anders as om ooreen te stem met die openbaring van Op. 19:13 nie, waar daar gesê word: “En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.”
Hierdie benaming is tog nie vir ons vreemd nie, al maak die voorafgaande vers dit klink asof dit ‘n geheimenis is wat nóú eers geopenbaar word: “Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.” Dat dit duidelik Jesus is van Wie hier sprake is, blyk duidelik uit vers tien, waar sy identiteit twee keer onomwonde uitgespel word. In Op. 14:1 is daar reeds ook oor hierdie Naam geskryf, en word dit onteenseglik in verband gebring met die 144 000 uitverkorenes OP DIE BERG SION!” En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.” In Manna Dag 1393-1394 is verduidelik hulle is diégene wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. Die feit dat die Logos (= Woord = Jesus) as identiteit op hul hoofde (= verligte verstand = logos) geïnternaliseer is, beteken dat hul die goddelike natuur van Jesus as die Logos van God deelagtig geword het (2 Pet. 1:4). Die Grieke het die Logos uit hul filosofiese tradisie verstaan as die Beeld van God, ‘n feit van Jesus wat Paulus in Kol. 1:15 duidelik uitspel: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping”. As die eerste Adam oorspronklik na die beeld van God geskape is (Gen. 1:26), beteken dit absoluut dat soos Jesus die Vader “verklaar” het, soos Joh. 1:18 uitspel, die uitverkore losgekooptes van Sion ook die Seun verklaar! Halleluja! Edwin Hatch, die befaamde leksikograaf van die Griekse taal, skryf in sy boek The Influence of Greek Ideas and Usages Upon the Christian Church: “Among the religious Greeks of that time the logos was the ‘god of gods’, the divine mind of the gods. He or it was the ‘supreme knowledge’, also known as gnosis.” Onthou wat Jesus in Joh. 10:34-35 (MSG) gesê het: “I’m only quoting your inspired Scriptures, where God said, ‘I tell you–you are gods.’ … God called your ancestors ‘gods’–and Scripture doesn’t lie—”
Jesus verklaar die Vader; die Bruid van Jesus verklaar die Bruidegom, Jesus. Om hierdie rede is Jesus Jesus, soos Johannes die Doper in Joh. 3:29 verduidelik: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom.” Hoe duidelik word dit hier gestel – die Bruid verklaar die Bruidgegom! Die Griekse woordjie vir verklaar, is exēgeomai, wat in hierdie konteks veral beteken: “to unfold” (Strong), letterlik “to bring forth” vanuit die bron (The Complete WordStudy Dictionary). Die Accurate New Testament wat hierdie wonderbaarlike konsep onder taal probeer kry, gebruik die veelseggende woordjie “reveals”. God is revealed by Jesus; Jesus is revealed by the Christ! Die Logoswoord word reveal deur die rhemawoorde!
Wanneer daar in 1 Joh. 1:1 staan: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord (= Logos) van die lewe—, weet ons uit Joh. 1:4 – “In Hom (die Woord, Jesus, of die Logos) was (die) lewe, en die lewe was die lig van die mense. Die ewige plan van God is “om sy Seun in my te openbaar (Gal 1:16), “wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thes. 1:10). God het volgens Rom. 8:29 in besonderhede beplan dat die Liggaam gelykvormig sal wees aan die beeld van sy Seun. [Onthou – die Jesus is die Beeld van die onsienlike God.] Dus is die verborgenheid van die godsaligheid groot: God is geopenbaar in die vlees” (1Tim. 3:16)! Die lewe van Jesus word sodoende in ons sterflike vlees geopenbaar (2 Kor. 4:11). Hierdie lewe van Jesus IN uitverkorenes, gee gestalte aan “die lewe van Christus (wat) in ons liggaam openbaar kan word.” (2 Kor. 4:10).
Let op hoe parallel hierdie twee verse die forthbringing van die Bron stel:
1 Kor. 4:10 | die lewe van Christus | in ons (sterflike) liggaam | geopenbaar kan word |
1 Kor. 4:11 | die lewe van Jesus | in ons sterflike vlees | openbaar kan word |
Paulus spreek sy versugting in Gal. 4:19 uit – “my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry”. Dus: Kol. 3:4 som dit ongeëwenaar op: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” En só word die onvoltooide groot gesprek uiteindelik volledig gemaak: ons gevallenesin die Bruid verkry die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, terug (2 Kor. 4:4)! Inderdaad is die Naam van Hom wat op die 144 000 geskryf is, die Naam wat Hoogl. 1:3 (ACV) soos volg verklaar: “Thine oils have a good fragrance. Thy name is oil poured forth.” Die Naam/Logos dra die salwing van die Christus!
In Manna Dag 1603-1605 is uitvoerig verduidelk wat die buffels en stiere beteken. Stiere word in die KJV vertaal met “bullocks” (wortelwoord: “to break up”). In die piktorale Hebreeus word hierdie woordjie aangedui deur twee simbole: “The pictograph p is a picture of an open mouth, the r is a picture of a head. Combined these mean ‘open the head’. The heads of grains are scattered on the threshing floor, a smooth, hard and level surface. An ox is lead around the floor crushing the heads, opening them to reveal the seed inside.” (AHLB). Die salwing van Christus opens up the Head/Logos as rhema seed! Die woordjie “bulls” word in dieselfde bron simbolies gelys as “the filling of man with life and the image of God”! Dít is deur die geestelike Naam of rhema-identiteit wat hierdie salwing op die Logos én die Rhema rus, op Jesus en al die godeseuns, Jesus en sy Christus (Op. 11:15).
Orals waar die Skrif dus van buffels praat, ook die stiere en beeste van Basan en Bosra, word die salwingsolie van die Christus op die horings van die buffel uitgespel, waarvan Ps. 92:10 die treffendste is: “Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.”
Ons het hierbo gevra: “wie is Hy?”, “wie is hierdie man?” (Matt. 21:10), die vraag wat gevra is toe Jesus met ‘n donkievul Jerusalem binnegery het. Op hierdie stadium weet ons as die donkievul (= seun van die donkie) is jy nou in verbond gebind: “Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.” (Gen. 49:11). Anders as dat ons met die Ou-Testamentiese verwagting die toorn en wraak van God verwag, het die strafgerig Jesus ten bloede toe verbrysel, maar só het God “die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:6). Dus is die “dag van die wraak van onse God” ook presies die jaar van die welbehae van die HERE” (Jes. 61:2), maar met hierdie belangrike kwalifisering: “Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom.” (Jes. 63:4). Maak hierdie swaartepunt vas: “vandag het die HERE ‘n verlossing in Israel bewerk” (1 Sam. 11:13). Die presisie van die ewigheid kan NET vandag gestalte kry. Maar vandag IS die dag van volkome, ewige verlossing (Heb. 9:12).
In nie minder nie as in drie passasies in Hooglied word die refreinvraag voorgehou: “Wie is dit waar daar opkom …?” Ons kom later uit by die laaste twee, verse 6:10 en 8:5, maar die eerste voorkoms van die vraag is nou van die uiterste belang: “Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman?” In die volgende Manna begin ons spesifiek kyk na hierdie koms van Hom wat “omgeurd (is) van mirre en wierook, van allerhande speserye”! En ons kom uit by die eksemplariese rhema-identiteite wat as wondertekens gebruik word.
- Sela: Bedink mirre, wierook en spesery se tipologiese en simboliese betekenis.
- Lees: 32-40
- Memoriseer: 2:1(Ons leen dit solank uit volgende week se Bybellees. Wat sou dit beteken?)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Briers Uys: Die Reuk van die Kennis van die Heerlikheid
van Christus