“We get our bread at the peril of our lives,
because of the sword of the wilderness.”
(Ps. 92:10, ACV)
Die vorige week se aflewering van Manna 1651-1653 het saamgeval met die herdenking van ‘n baie spesiale dag in my lewe, te wete my wedergeboorte op 17 September 1977. In die loop van daardie Manna was een van die sake wat uitgespel is, dat die God van ewigheid absoluut werk met die detail van ons chronostyd. Ek het gevra dat jy dit aan die oor moet knoop.
Soos soveel kere vantevore met die skryf van die Manna het ek ook in hierdie spesiale tyd agtergekom dat God se Hand die temas van die Mannas seer sekerlik bepaal. Pred. 9:1 sê dat ons moet dit deurgrond “dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is”. Inderdaad is dit so. Uit baie mense se getuienisse is dit absoluut duidelik dat die regte porsie Manna met God se onberispelike tydsberekening telkens op die regte plek val.
In Manna 1024-1030 is oorsigtelik geskryf oor die aard van die manna wat God as kos vir die Israeliete in die woestyn voorsien het; daar is enkele dinge verduidelik wat nou weer hier benadruk moet word. Die manna in die wildernis kan duidelik as ‘n tipologie van die Bruid se rhemawoorde gelees word. Dan is dit van groot belangrikheid dat in Num. 11:8 die Manna soos volg beskryf word: “die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke”! Die ASV stel dit meer direk: “the taste of it was as the taste of fresh oil”. Die manna het dus die smaak van salwing gehad!
‘n Geheimenis rondom die manna word verduidelik in die Joodse rabbi’s se Midrash Rabbah (p. 303) oor die Bybelboek Eksodus, waar dit spesifiek kommentaar lewer oor Ps. 145:16. Hulle wys uit dat God aan elkeen van sy uitgeroeptes gee wat sy/haar uniek-eie behoefte of begeerte is. “Manna tasted whatever you wanted it to be in your mouth, whatever you were hungry for … Manna was the only ingredient you needed for a feast with a great variety of flavourful dishes.” (Michael Esses: Jesus in Exodus, p. 95).
Die rabbi’s gebruik Deut. 2:7 om dit verder te illustreer: “Want die HERE jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie.” Die woordjie waarmee “ding” hier vertaal word, is “dabar”, die Hebreeuse woord vir die woordjie “woord”! In die gee van die geestelike manna – tipologies hul rhemawoorde in God se gedig – is daar in al die Israeliete se persoonlike behoeftes voorsien in die veertig jaar in die wildernis, en dit is alles moontlik gemaak deur die feit dat hulle op mekaar se identiteit in Christus kon voed! Waarlik is dit soos Matt. 4:4 in die woorde van Jesus dit sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke [rhema]woord wat deur die mond van God uitgaan.”
As jy in ‘n posisie van geregtigheid was (in Nuwe-Testamentiese terme: “in jou posisie in Christus”), en jy jou in die woestyn bevind waar daar niks behalwe soet, olierige wafeltjies is nie, en jy vandag lus is vir skaapboud en gebraaide aartappels, dan het die manna in jou mond net só geproe! As jy lus was vir botterskorsiesop, of wildsboudbraad, of snoek en patats, dan was dit presies dít wat jy geproe het! Geen ding het jou ontbreek nie! “Smaak en sien dat die HERE goed is …”! (Ps. 34:8a).
Die tipologiese implikasie hiervan vir die Bruid is van ontsettende waarde. Daarom is dit nie vreemd nie dat in die enigste drie plekke waar die woordjie “salwing” spesifiek in die Nuwe Testament voorkom, 1 Joh. 2:20 & 27, word dit gebruik in die sin dat dit “alles” voorsien.
Ons vorige Manna het afgesluit met die opwindende refreinvraag uit die boek Hooglied: “Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman?” Daar is toe belowe dat ons via hierdie mistieke vers sal uitkom by eksemplariese rhema-identiteite wat Hy as wondertekens gebruik, om sodoende iets meer te verduidelik van hoe God “gedug is in werking oor die mensekinders” (Ps. 66:5). Dit verduidelik ook Jesus se merkwaardige verlustiginge met die mensekinders (Spr. 8:31).
Hierdie refreinvraag wat so dringend in Hooglied voorkom, is paradigmaties verwant aan die vraag waarby ons in Jes. 63:1 uitgekom het: “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag?”
Edom beteken in die oorspronklike Hebreeus (‘ĕdôm/’ĕdôm), rooi (BDB), en is die direkte betekenis van die naam Esau. Volgens Gen. 25:25 het hy hierdie naam verkry as gevolg van hoe hy fisies gelyk het: “En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.” Let asseblief op dat Strong die woordjie mantel in hierdie vers ook vertaal as “vine” en “glory”! Die wingerdstok (byvoorbeeld soos in Joh. 15 voorgehou) is die simbool van die Christus. Nou is dit duidelik waarom Jes. 63:1 die Verlosser Jesus simbolies “met bloedrooi klere” aanbied, dus ‘n mantel van rooi hare (= heerlikheid – 1 Kor. 11:5-15), en dit word benadruk: “Hy daar, pragtig in sy gewaad”.
Ons moet nie vir ‘n oomblik vergeet dat Adam ook natuurlik rooi beteken nie! Die skryfstyl in Hebreeus is dat die vokale nie weergegee word nie, dus kom die betekenisnuanse juis deur die vokale, maar die konsonante wat ooreenstem vorm die kernbetekenis:
A D A M
E D O M
Die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible verklaar Adam met ‘n paar baie interessante woorde/konsepte, die meeste wat ‘n mens geensins verwag nie, en met ‘n onverwagse, maar ekspisiete korporatiefheid:
- “A walled, fenced or fortified place for storing up the gathered crop or people …”
- “To gather together and confine for protection: … fence, defense, gather, grapegatherer, fortify …”
- “Gold: What is stored away and protected.”
- “Vintage: The gathered crop of grapes.”
Gen. 36:8 maak eksplisiet die gelykstelling: Esau, dit is Edom.” Edom is dus ‘n ander naam vir Esau, én dit is ook die gebied waar Esau se nageslag, die Edomiete, gewoon het (vers 9), “in die gebergte Seïr”. Net soos Adam gevorm is uit die grond (Gen. 2:7: “the dust of the ground” – ‘ădâmâh) en daar derhalwe ‘n onlosmaakbare band tussen hulle moet bestaan, só is daar soortgelyk ‘n onherroepelike verbintenis tussen Esau en die land wat aan hom gegee is. Seïr as land beteken presies dieselfde as wat sommige vertalers Esau beskryf: “hairy or shaggy” (BDB). Volgens Webster beteken shaggy “rough with long hair”. Alhoewel Esau deurgaans in die Skrif in ‘n baie negatiewe lig gestel word, soos ook Adam (1 Kor. 15:22), is dit opvallend dat in Deut. 33, waar Moses die twaalf stamme van Israel (vroeër Jakob) geseën het, hy die seëninge bied teen die uitspraak in vers 2: “En hy het gesê: Die HERE het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tien duisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle.” Paran en die ruimtelike spesifisering hierbo is duidelik die wildernis en woestyn (The Complete WordStudy Dictionary). Let egter nou op: die “ligglans” van die “heilige tien duisende” van die seuns van die “regterhand” wat in “vlammende vuur” manifesteer eers hierdie outoriteitsposisie in die geesrealm kan bekom as hulle uit die wildernis uitbeweeg. Obadja 1:21 verklaar duidelik dat daar “verlossers” op “die berg Sion opgaan”, en in die proses sal hul “die gebergte van Esau … oordeel”. Dán sal “die koninkryk … aan die HERE toebehoort”.
Om dit tipologies te verklaar, is dit belangrik om te verstaan dat Esau die eersgeborene is; ná hom is sy broer gebore, “terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem.” (Gen. 25:26). Jakob beteken dus heel-grabber, of heel-catcher, of dan ook supplanter (“to overthrow; to undermine” – Webster).
As Esau/Eerste Adam dan dui op die natuurlike, of vleeslike beteken, dan dui Jakob/Israel/Laaste Adam op die geestelike. As die natuurlike mens met sy blootgestelde achilles/swakpunt/wond/hakskeen die eerste sy verskyning maak, dan is dit nét die geestelike mens wat sy (die natuurlike mens se) achilles/swakpunt/wond/hakskeen kan toemaak, en self daardeur gestalte kry! Natuurlik sal die natuurlike mens homself teen die geestelike mens opstel, want “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor. 2:14). Onthou, later in 1 Kor. 15:46 verduidelik Paulus: “Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.”
Die Treasury of Sciptural Knowledge noem hierdie natuurlike mens, Adam of Esau, “the animal man, one who lives in a natural state, and under the influence of his animal passions”. Dis hoekom Esau byvoorbeeld sy kosbare eersgeboortereg prysgegee het vir ‘n banale pot rooilensiesop, wat hy sommer “rooigoed” (Gen. 25:30) noem. Darby vertaal dit mooi: “Feed me, I pray thee, with the red–the red thing there …” Die natuurlike mens – SOOS DIE SLANG – voed op natuurlike passies (Gen. 3:14; Jes. 65:25; Miga 7:17). Die Psalmdigter beskryf dit metafories presies: “Want ons siel is in die stof neergebuig; ons buik kleef aan die aarde.” (Ps. 44:25). In Fil. 3:19 spel Paulus dit sonder omhaal van woorde uit: “Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle heerlikheid is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.”
‘n Mens sal dit eintlik glad nie beter kan stel nie – “hulle heerlikheid is in hulle skande”! DAAROM is die wildernis of die woestyn, die plek wat gedefinieer word deur stof, grond, “die groot en vreeslike woestyn (wat bevolk word) deur giftige slange en skerpioene … ‘n dorsland sonder water” (Deut 8:15).
Ons moet leer om God te “kan dien in die woestyn” (Eks. 7:16), want God bepaal “die pad deur die woestyn van Edom” (2 Kon. 3:8). Die natuurlike mens vra deurentyd, soos in Ps. 78:19 – “En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?” Die natuurlike wêreld waarin ons leef, verduidelik Jes. 14:17 – “die wêreld (is) soos ‘n woestyn gemaak”. Die profeet Jeremia (2:6) se formulering van die gelowige mens se belewenis van die wesensaard van die woestyn of wildernis is presies die vraag wat dikwels diep in die harte van wedergeborenes woel: “Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in ‘n land van wildernis en kuile, in ‘n land van droogte en doodskaduwee, in ‘n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie?” Vers 31 spel dit uit: God het vir hierdie gelowiges ‘n woestyn geword.
MAAR – dit is moontlik om genade te vind in die woestyn (Jer. 31:2)! Hier, en nêrens anders nie, “met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn” (Klaagl. 5:9). Manna, brood van die engele/gestuurdes (Ps. 78:25) word ingebring vanweë die swaard, of soos die ACV dit pragtig vertaal: “We get our bread at the peril of our lives, because of the sword of the wilderness.” Sela!
- Sela: Verklaar Ps. 78:25.
- Lees: 1-9
- Memoriseer: 7:32
- Delf dieper: Lees die boek hierbo genoem.