Dag 1657-1659

 

“Wie is dit wat daar aankom … met bloedrooi klere …

Hy daar, pragtig in sy gewaad …”

(Jes. 63:1, OAV)

 

Die diepgang van die vorige aflewering het geëindig met die uitwys daarvan dat die manna in die woestyn deur God gebied is om die Bruid se rhemawoorde van identiteit in Christus te tipeer. Ons het ook geleer dat die pad deur die woestyn deur God voorbeskik is om in alles te voorsien. Daar lê dus ‘n rykdom van ontdekking in die res van die Liggaam se rhemawoorde, en die “eet” daarvan (ook deur die nagmaalbrood gesimboliseer) wat in alles  kan voorsien, bepaald ook in elke behoefte.

Die enigste vers in die Ou Testament wat die woordjie behoefte bevat, is in die gedeelte wat handel oor die manna! Eks. 16:16 sê: “Dit is die saak wat die HERE beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte …” (NIV: “as much as he needs”). “Daarbenewens, is die enigste gedeelte in die Nuwe Testament wat die woordjie behoefte bevat, hierdie volgende vers, wat oor Christus handel: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Fil. 4:19)! [Onthou die klem val hier op Christus wat vooropgestel is.]

Ons vorige Manna het afgesluit met die opwindende refreinvraag uit die boek Hooglied (3:6): “Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman?” Daar is toe belowe dat ons via hierdie mistieke vers sal uitkom by voorbeelde van eksemplariese rhema-identiteite wat Hy as wondertekens gestalte gee, en hoe dit ons kan help om in alle behoeftes te voorsien. Onthou dit wat in Kol. 3:1-4 uitgespel word: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.”

Die woordjie saak in Eks. 16:16 hierbo is in Hebreeus, verbasend genoeg, die woordjie dabar! In die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible word daar wyd uiteenlopende betekenisse aan hierdie kernwoord van die Skrifte gegee:

  • ‘n Naasmekaarstelling van orde en woord, “an arrangement or placement of something creating order”
  • Om te spreek, “A careful arrangement of words or commands”
  • “An arrangement of words.”
  • “As something that is arranged. In Hebrew thought words contain substance just as

physical objects do.”

  • Plaag
  • Heiligdom/“sanctuary”, “A place of order”
  • Wildernis/“desert”, “An arrangement of words.

Hierdie woordekraaltjie behoort jou asem weg te slaan! Só lank al bestudeer ons die woorde dabar in Hebreeus en sy ekwivalent logos in Grieks, maar hier vir die eerste keer is dit klinkklaar duidelik dat Logos die inherente kapasiteit het om ‘n orde van woorde tot stand te bring, ‘n doelgerigte komposisie van woorde wat as ‘n geheel deur die onderdele gekommunikeer kan word. Dié onderlinge woorde-in-gemeenskap het elk ‘n eiesoortige substansie, of ‘n uniek eie betekenisaura in interaksie met mekaar. Die woorde vorm saam ‘n heiligdom, waarbinne elkeen sy spesifieke, uitverkore plek het, soos dit deur God gespreek is.

Wat egter groot verrassingswaarde inhou, is dat logos ook wildernis of woestyn beteken! Verfris jou geheue net weer deur die masopskrif verlede week: “We get our bread at the peril of our lives, because of the sword of the wilderness.” (Ps. 92:10, ACV). Die wildernis of woestyn is dus by uitstek die plek wat God vir elke rhemawoord voorberei sodat hy kan leer om die plaag in sy hart te weer!

Een van die merkwaardigste Skrifte is deel van die gebed van Salomo met die inwyding van die tempel (= heiligdom/”sanctuary”): “As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei— wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken—want U alleen ken die hart van al die mensekinders—sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.” (1 Kon. 8:37-40).

Jou hoogste roeping word verhul deur jou diepste wond. Die plaag van jou hart moet gesoek word sodat jou rhema-identiteit gestalte kan kry.

As die Apostolic Bible Polyglot die woordjie saak in Eks. 16:16 hierbo in Grieks translitereer, word dit vreemd genoeg vertaal as rhema! As ons dit dan nou vervangend lees, lui dit soos volg: “Dit is die rhemawoorde wat die HERE beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte …” Hiermee word daar nou ‘n onteenseglike verband tussen manna en rhemawoorde bevestig, en boonop dat rhemawoorde alle behoeftes kan vervul. Paulus het dit eintlik baie mooi gestel in ‘n dikwels misverstane vers: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:13).

Onthou dat ons in Manna Dag 1642-1644 genoem het dat die begrip wildernis beteken “among the wild beasts”. Begryp dit dat die mens wat Jesus as Verlosser aangeneem het, simbolies uit Egipte uitgeroep word, dus uitgeroep word uit die koninkryk van die wêreld. Ná die wedergeboorte gaan die gelowige dan noodwendig die woestyn of wildernis in. Só gesien, word dit baie duidelik waarom ons dáár in die woestyn so ‘n geweldige stryd het.

In die verhaal van Jesus op die berg van versoeking, lees ons in Matt. 4:1 – “Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.” Let wel – die Gees van God lei jou die wildernis in! Hierdie wildernis is dus ook die Logos-terrein waarin jy met die wilde diere van die gees stoei en baklei. Omdat jy in hierdie tydvak nog leer om in die Gees te wandel, voer jy dikwels die stryd in die vlees, en jy kan nie, want 2 Kor. 10:4 stel dit onomwonde: “die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie”. As jy hier na die vlees jou pad vorentoe probeer maak, word die slang, jou teenstander, gevoed op jou vleeslikheid (Gen. 3:14), en algaande word die slang ‘n draak: “uit die wortel van die slang sal ‘n basilisk voortkom, en sy vrug sal ‘n vlieënde draak wees” (Jes. 14:29).

Uit Hos. 2:14-17 weet ons dat God ons die woestyn of wildernis inbring, want Hy wil tot hart spreek. Die woestynervaring van gelowiges is om jou van alle dinge los te maak wat jou in afgodsdiens laat funksioneer. In hierdie proses word “wilde diere”, oftewel demoniese werkinge, onder andere deur God gebruik. Jou gehoorsaamheid bepaal hoe lank jy in die wildernis bly. God het bedoel dat die Israeliete elf dae sal neem om die deurtog te doen (Deut. 1:2); dit het uiteindelik veertig jaar geneem.

Die lesers sal onthou dat ons ‘n paar weke gelede geskryf het dat daardie spesifieke Manna vir my persoonlik belangrik was omdat daardie week se verskyning saamgeval het met die veertigjarige herdenking van my wedergeboorte. Ons het groot klem gelê op God se sinchronisasie van tye en geleenthede, en dat Hy Hom dikwels op hierdie merkwaardige  manier gestalte laat kry, as ons Hom in die detail gaan soek. Sedertdien is ons oorkoepelend besig met die refreinvraag wat so dringend in Hooglied voorkom, wat paradigmaties verwant is aan die vraag waarby ons in Jes. 63:1 uitgekom het: “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag?”

As dit ‘n leidraad kan wees – watter figuur is in die Skrif prominent rondom ‘n uitkom uit die woestyn? Ja, natuurlik – Johannes die Doper! “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” (Matt. 3:1-3).

Die korresponderende teks in Luk. 3 voeg nog twee baie veelseggende verse by: “Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë. En alle vlees sal die heil van God sien.” (verse 5-6). Hierdie bediening van Johannes die Doper is ‘n vestiging van die gees van Elia, weet ons teen dié tyd. Maar Johannes die Doper word ook ‘n bepaalde wonderteken van hierdie nuwe bedeling van God. Van hom sê Jesus in Matt. 11:11 – “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie …” In die ganse bedeling van die Ou Testament, waar groot geloofshelde soos Abraham, Moses, Elia, Dawid, Daniël, en verskeie ander soos merkers van die eeue staan, sê Jesus van hierdie man – hy is groter as hulle almal! Die ganse Ou Testament word dus in die wonderteken van dié waterskeidingfiguur beliggaam. Hy word in die woestyn afgesonder, en sprekende die woorde van God, kom hy triomfantlik uit die woestyn.

Wie is dit wat daar aankom? Hierdie man dra ook pertinent ‘n mantel, maar dit is geweef van kameelhaar.

En weer verras die detail en die beplanning van God my! Want die vorige keer toe ek rondom die Manna by ‘n persoonlike hoogtepunt gekom het, was dit met die skryf van die duisendste aflewering. Miskien kan jy onthou dat ek nie seker was wat die tema sou wees as ons uiteindelik by Manna Dag 1000 uitkom nie, en dat my verrassing groot was toe die navorsing onteenseglik dwing na Johannes die Doper toe. Ná bykans sewe jaar se weeklikse studiestukke waaraan ek toé moeisaamgetrou geboorte gegee het (dit is nou reeds elf jaar), onthou ‘n mens nie altyd die detail van die onderwerpe wat wél gedek is nie. Tog ervaar ek heeltyd die Heilige Gees lê sterk klem op die gees van Elia asook Johannes die Doper se prototipiese rol as manifestasie van daardie salwing, maar ek dog dié onderwerp is al hoeka kant en klaar gedek.

Maar toe nie … Tot op dáárdie stadium het daar nie ‘n enkele woord oor Elia, Johannes die Doper en wat Luk. 1:17 “die gees en die krag van Elia” noem, en die implikasies daarvan vir die Bruid, aan die bod gekom nie! Dis asof God ElijahAfrica se hooffokus vir duisend Mannas as ’t ware verhul het tot met die duisendste-en eerste een! Dit het saamgeval met ‘n ‘n nuwe geestelike naam (Open. 2:17; Jes. 65:15) wat ek van God gekry het, naamlik: kameelpoot. En sonder om weer die storie hier oor te vertel, toe ek hierdie diepste kameelpootwond omhels, wetende jou diepste wond verhul jou hoogste roeping, fluister God, asof met ‘n glimlag: “Éíntlik is jou nuwe naam: Gamáliël.” Die naam Gamáliël beteken: “reward of God”, maar die wortel van die woord kom van kameel (gimel) af! Kameelpoot word wonderbaarlik “aan die voete van Gamáliël” (Hand. 22:3). Ons weet Gamáliël is Paulus se geestelike vader! As die gees van Elia dus ten diepste gaan oor die herstel en die versoening van die harte van vaders en seuns, en die kameel die vaartuig word waarmee daar in die gees deur die woestyn/wildernis na die land van belofte, of dan die derde dimensie, of Kanaän, of Eden, of derde hemel, beweeg word, dan is dié heilige ruimte – waarbinne ons soos Paulus se vriend ingeruk word – ‘n sacred space van “onuitspreeklike rhemawoorde”. Ons is nou daar. And we have not been this way before …