Dag 166

 

“ek sal U my geloftes betaal, wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was”

(Ps 66:13b-14, OAV)

 

In Nah 1:7 sê die profeet: “Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.” Dit is so dat baie gelowiges én ongelowiges soms deur omstandighede buite hul beheer na die altaaroffer hardloop en aan die horings van die altaar hulself bind met ‘n offerbelofte aan God. Dan sweer hulle en maak ‘n belofte of selfs ‘n gelofte dat as God iets spesifieks sal doen, sal hulle iets spesifieks terugdoen. ‘n Baie goeie voorbeeld van so ‘n tipe ooreenkoms of verbond met God, is in Gen 28:20-22, waar Jakob sekere dinge van God vra en dan sekere beloftes maak van wat Hy sal doen as God doen wat hy gevra het.

Die probleem met hierdie tipe ooreenkoms is dat sodra die krisis verby is, mense vergeet dikwels dat hulle die verbond met God gesluit het. Maar dit is vir God ‘n baie ernstige saak. “As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.” (Num 30:2). Dis nie Moses wat hierdie opmerking maak nie – God het hom beveel om die volk dit te leer.

In Deut 23:21-23 word die implikasies van versuim duidelik uitgespel: “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word. Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie. Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.” Die horing van die altaar waaraan jy vasgegryp het, word later ‘n dwingende reminder om jou gelofte te betaal. Deur nie te betaal nie, laai jy sondeskuld op jou liggaam, selfs al voer jy watter argumente aan oor hoekom jy dit nie kan nakom nie. Lees Pred 5:4-6, en skrik! In vers 6 word dit uitgespel: “Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ‘n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was ‘n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?”

Baie mense word letterlik gebind aan die horings van die altaar as gevolg hiervan en kom nie los nie, omdat hulle nie die saak met God uitgemaak het nie. Ons sal met die volgende lering die geestelike implikasies hiervan verreken.

  • Sela: Maak onder leiding van die Gees ‘n lysie van alle verbonde wat jy met God gesluit het, en bepaal of jy die ooreenkomste nagekom het. Vra die Heilige Gees om ook daardie verbonde na vore te bring wat jy dalk vergeet het.