Dag 1661

 

“Blaas die basuin op nuwemaan …

‘n Taal wat ek nie geken het nie, het ek gehoor …”

(Ps. 81:3 & 5, OAV)

As ons nou in hierdie Manna aanhaak by die vorige een, is die shofar of die ramshoring ‘n belangrike verwysingspunt. Onthou dat ons gepraat het oor dié Manna wat geskryf word op Rosh Hashanna (Lev. 23:24), die Joodse nuwejaar, ook bekend as die feesdag van Yom Teruah (die Dag van die Blaas van die Shofar). In Num 29:1 word hierdie dag gekarakteriseer as “‘n dag van trompetgeklank”. In Manna Dag 386-389 het ons uitvoerig hierby stilgestaan. Hierdie dag is die eerste/hoogste (“kop”) van die Yamim Noraim, in Engels: “the days of awe”, die mees heilige dae op die Joodse kalender. Nehemia 8:9 noem dit ‘n dag “heilig aan die Here”. Hierna volg die tien dae van selfondersoek en belydenis (bekend as die Asseret Yemei Teshuva, “the ten days of repentance”), wat afgesluit word met Yom Kippur, die Groot Versoendag (terloop: die dag waarop ek hierdie spesifieke Manna skryf). Daar het ‘n hele paar baie belangrike gebeurtenisse plaasgevind op hierdie dag, Yom Teruah, wat almal ‘n duiding het op die geestelike betekenis wat aan die dag geheg kan word.

  • Die Talmud sê dit is op hierdie dag dat Adam geskape is, derhalwe is dié dag as ’t ware die herdenking van die skeppingsdag, of dan geboortedag, van die mens.
  • Daar word allerweë aanvaar dat Abraham vir Isak geoffer het op hierdie feesdag. In dié verhaal word die lewe van Isak gespaar deurdat God hom opdrag gee om nie sy seun te offer nie, en dan in die plek van Isak ‘n ram te voorsien wat met sy horings in ‘n bos vasgewikkel was (Gen. 22:13). Dié horings is ook ‘n heenwysing na die ramshorings wat as shofars op hierdie dag gebruik word.
  • Verskeie historiese bronne koppel dié datum aan die begin van Jesus se openbare bediening.

Hieruit vloei derhalwe voort dat hierdie dag, ook tipologies, besondere klem dra rondom die versnit van mens en God. As dit die dag van die mens is wat na die beeld en gelykenis van God geskep is (Gen. 1:26), en dit die dag is waarop God die verbondsverhouding tussen Vader en Seun gesimuleer het in die uitspeel van Abraham en Isak, en die offerlam voorsien het (wat Jesus simboliseer – 1 Kor. 5:7), en dié bok se horings gebruik is om “as getuienis” (Ps. 81:3-5) oor die aarde en in die hemele God se verlossingsplan  te proklameer, en dit boonop dui op die tyd waarop Jesus die evangelie van die Koninkryk begin verkondig het (Luk. 4:43), kan ons duidelik verstaan waarom hierdie dag ook as “the day of remembrance” genoem word. [Het jy die YouTube-video van Neil Diamond op verlede week se Dieper Delf gekyk? Wat sou die verband wees? En: Wie is dit wat daar aankom?]

Op hierdie dag bring ons God se ewige plan in herinnering; dit wat in Ef. 3:11 (CEV) uitgespel word: “God did this according to his eternal plan. And he was able to do what he had planned because of all that Christ Jesus our Lord had done.” Op hierdie dag word die triomf van God se “purposes” (Hand. 13:36) byeengetrek en individuele identiteite dramaties met die blaas van die shofars geproklameer. “Blaas die basuin … Hoor jy ‘n taal waarvan jy die tongval vaagweg herken, maar helaas nog nie ken nie?

  • Sela: Probeer die laaste sin beantwoord.
  • Lees: 22-24
  • Memoriseer: 23:24 – jy moet diep geraak word deur hierdie sinchronisasie! Prys God!
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: God wil vir Jou Horings laat groei