“Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom …”
(Ps. 105:40, OAV)
Die gees van Elia sal bepaald alle dinge met God te versoen (Matt. 17:11) en voordat ons die korporatiewe waarde daarvan vir elkeen in die Bruid kan begin uitspel, is dit belangrik dat, soos Jes. 40:4 dit stel: “Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.” Dit beteken dat die pad gelyk gemaak moet word in die wildernis en dat dit ‘n “highway” (KJV) vir onse God gemaak moet word!
Die hoë weg kan ook vertaal word met ‘n leer of ‘n wenteltrap, sê die antieke Hebreeus (in die AHLB), maar interessant ook met kwartel, en doring! Eersgenoemde is absoluut veelseggend, om verskeie redes. Allereers: manna en kwartels is ‘n spesifieke kombinasie-paar (“binary”), en moet dan in reliëf met mekaar geïnterpreteer word (soos kat en muis, en maan en kaas). As spesifieke voedselvoorsiening in die woestyn, moet daar iets baie belangriks, dieperliggend of tipologies, aan kwartels geheg word, wat vir ons meer lig kan werp op die voorsiening van God wat uiteindelik gelei het tot ‘n skrikwekkende “grave of lust”, wat veroorsaak het dat ‘n menigte wat die uittog begin het, nié uit die woestyn kon uitkom nie. [Die begrip ‘grave of lust’ is die Hebreeuse betekenis van die plek waar die tweede geval van kwartelvoorsiening deur die Here plaasgevind het, naamlik Kibrot-Hattáäwa (Num. 11:35) en baie pelgrims gesterf het as gevolg van hul murmurering en opstand teenoor die Here. Let wel – dit staan ook bekend as die plaag of die pes. Onthou die woordgelykstellings van logos in die vorige Manna, wat ook plaag/pes kan beteken.]
In 1 Kor. 10:3 word manna en kwartels “geestelike spys” genoem. Ernst Käsemann, in sy boek Essays on New Testament Themes (pp. 113-114), noem dit “food … that convey Spirit”! Sela! Net soos die water in die woestyn nie nét fisies ‘n dors geles het nie, maar veral “geestelike drank” was, en die Rots nie nét ‘n fisiese rots was nie (1 Kor. 10:4), maar ook Christus is, só is die manna en die kwartels ook nie nét fisiese voedsel nie.
Volgens die AHLB word kwartel in die piktorale Hebreeus gekoppel aan hoogte, en veral die wyse waarop daardie hoogte bereik kan word; tipologies onteenseglik dan ‘n simbool van ‘n gevaarlike faset, “die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil. 3:14). Die woestyn of wildernis moet deur ontvouende openbaring ‘n “highway of holiness” (Jes. 35:8) word. Die kwartels is duidelik die simbool van “julle lewe saam met Christus verborge (is) in God” (Kol. 3:3). Hulle is geroep om hoog te vlieg, en as migrasievoëls moet hulle groot afstande aflê om by hulle bestemming uit te kom. Omdat hulle plomp is, kan hulle as hulle baie moeg is, té laag vlieg, en kan hulle maklik gevang word. Dit is ook wat Bybelkommentators beweer, gebeur het toe die Israeliete hulle in die woestyn so maklik kon vang (Num. 11:31).
Die Hebreeuse woordjie vir kwartel is שׂלו, volgens die ISBE, “to be fat”. Vet, weet ons teen hierdie tyd, is ‘n simboliese komplement van salwing. Vet en heerlikheid word eksplisiet verbind (Jes. 17:4), en Lev. 3:16 spel dit duidelik uit: “Al die vet behoort aan die HERE.” Job 36:16 praat byvoorbeeld van die behaaglike tafel van die Here wat vol “vetspyse” is. In die volgende Manna verdiep die simboliekwaarde van hierdie simbool.
- Sela: Probeer peil wat die simboliese betekeniswaarde van die kwartels is.
- Lees: Lev. 25-27
- Memoriseer: Lev. 26:6
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Roeping as die Seëlring van Verwonding