“… die vleispotte van Egipte …”
(Eks. 16:3, OAV)
In die vorige Manna het ons uitgewys dat die hoë weg ook vertaal kan word met ‘n leer of ‘n wenteltrap, maar interessant genoeg ook met ‘n kwartel! Allereers: manna en kwartels is ‘n spesifieke kombinasiepaar, en moet dan in reliëf met mekaar geïnterpreteer word. As spesifieke voedeselvoorsiening in die woestyn moet daar iets baie belangriks dieperliggend of tipologies aan kwartels geheg word, wat vir ons meer lig kan werp op hierdie voorsiening van God wat uiteindelik lei tot ‘n skrikwekkende “grave of lust”, wat veroorsaak het dat ‘n menigte wat die uittog begin het, nié uit die woestyn kon uitkom nie.
Maar voor ons by die geestelike betekenis van kwartels uitkom, is dit dalk eers nodig om die natuurlike omstandighede te verduidelik wat gelei het tot hierdie gebeurtenis. Dit word netjies deur die IVP Bible Background Commentary in konteks gestel: “Small, plump migratory quail often come through the Sinai on their way north from the Sudan to Europe, generally in the months of March and April. They generally fly with the wind and are driven to ground (or water) if caught in a crosswind. In their exhaustion it is not unusual for them to fly so low that they can be easily caught. Quail looking for a place to land and rest have been known to sink small boats, and in the Sinai they have been noted to cover the ground so densely that some landed on the tops of others.”
Volgens Edward Reese se Reese Chronological Bible is daar twee insidente tydens die Israeliete se woestyngeskiedenis waar kwartels ter sprake is:
- die eerste narratief is opgeteken in Eks. 16, en het plaasgevind “in die woestyn Sin … wat tussen Elim en Sinai” (vers 1) lê, ‘n paar dae ná die volk uit Egipte getrek het.
- die tweede narratief is opgeteken in Num. 11, en het plaasgevind by Kibrot-Hattáäwa (vers 34)
Dit is belangrik om raak te sien dat albei narratiewe waar die kwartels ter sprake kom, vooraf gegaan word deur die volk wat murmureer:
- in die eerste narratief voor Sinai meld Eks. 16:2-3: “En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer. En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.” Die uitdrukking: “die vleispotte van Egipte” word ‘n metafoor vir verskeie sinlike begeertes wat hul deel was in die land van slawerny, en waarna hul nou in die wildernis smag.
- die tweede narratief ná Sinai vertel die verhaal soos volg in Num. 11:1, 4-6: “En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.”
Daar is ook Psalms waarin hierdie twee insidente uit ‘n agternaperspektief beskryf word:
- In Ps. 105:40 word die eerste insident soos volg voorgehou: “They asked for meat, and he sent them quail …” (NLT)
- In Ps. 78:26-31 word die tweede insident soos volg voorgehou: “Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer; en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë; en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings. Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. Hulle was nie weg van hul begeerte nie—hulle voedsel was nog in hulle mond— toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy ‘n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het.” In Ps.106:14-15 word dit eweneens verhaal, maar met ‘n baie belangrike sleutel oor die gevolge van hierdie dwingende en onbeheerde begeerte: “En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.”
‘n Mens sou natuurlik kon vra hoekom die Israeliete enigsins lus was vir vleis, want uit Eks. 12:38 is dit duidelik dat hulle uit Egipte baie kleinvee en beeste, “’n groot hoeveelheid vee”, met hulle saamgetrek het. Selfs ná die eerste insident waar God vir hulle kwartels gegee het om in hul vleislus te voorsien, was daar steeds lewende hawe wat hulle maklik kon slag, want in Eks. 16:2-3 kla hulle dat hul vee as gevolg van ‘n gebrek aan water kan vrek. As die volk weer in Num. 11:4-6 hul lus vir vleis nie kan bedwing nie, val dit op as vreemd, want aan die einde van die wildernisperiode, word daar van die stamme van Israel wat getrek het, gesê dat hulle “baie vee gehad” (Num. 32:1) het!
Die antwoord hierop is eintlik baie eenvoudig – die Skrif stel dit dat daar ongeveer 600 duisend mans uit Egipte getrek het: “En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent ses honderd duisend te voet, die manne buiten die kinders. En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek …” (Eks. 12:36-37). In Num. 1:45-46 word ‘n meer presiese getal gebied, naamlik 603 550 “geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek—al die geteldes dan was ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig”. Konserwatief bereken kon elke gesin ten minste twee kinders gehad het [ons weet die Israeliete het in Egipte “sterk vermeerder” (Gen. 47:27), tot so ‘n mate dat Eks. 1:7 dit eksplisiet uitspel: “die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle”.] As ons dus baie konserwatief bereken, was daar maklik 3 miljoen Israeliete in transito. Om hierdie rede redekawel Moses met God en verduidelik insgelyks waarom hulle trekdiere en vee nie geëet kon word nie: “Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?” (Num. 11:22). Die blote feit dat hy (sarkasties) verwys na al die visse in die see, terwyl hul in die woestyn is J, sê dat al hul diere nooit genoeg vir die groot getalle mense sal wees om te eet nie. Maar meer as dit – daar sal baie gou nie meer genoeg diere wees om te offer nie! Daar sal ook nie genoegsaam hulp wees om al hul trekgoed te vervoer nie; en daar sal geen basisstoet wees as hul in Kaänan aankom nie. (Num. 8-9 verduidelik hoeveel diere nodig is om as offers te dien.)
Die eerste episode met die kwartels het plaasgevind vóórdat die Israeliete aan die manna bekend gestel is. Al het hulle in Eks. 16:3 terugverlang na die vleispotte van Egipte, belowe God hulle nié dit nie, maar nét manna: “Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën …” (vers 4). Onthou nou die geheimenis wat die Midrash oor manna gesê het: “Manna tasted whatever you wanted it to be in your mouth, whatever you were hungry for … Manna was the only ingredient you needed for a feast with a great variety of flavourful dishes.” (Michael Esses: Jesus in Exodus, p. 95). Manna sou dus letterlik in ALLE behoeftes en smake kon voorsien, ook in die behoefte aan vleis. Die manna – wat in die oggend sou val, op die dou, het duidelik die heerlikheid van die Here gedra, soos God dit in Eks. 16:7 voorgehou het: “En môre vroeg, dan sal julle die heerlikheid van die HERE sien …”
Tog, desnieteenstaande, was die murmureringe oor hulle omstandighede die bepaler van die feit dat God wel die kwartels ook gegee het. Let op die menigvuldige herhaling van die woordjie murmurering in Eks. 16:8 – “Daarop sê Moses: Dít sal gebeur as die HERE julle in die aand vleis gee om te eet en in die môre volop brood, omdat die HERE julle murmureringe hoor wat julle teen Hom murmureer. Want wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen die HERE.”
En let veral op hierdie uitspraak van Moses: “as die HERE julle in die aand vleis gee”. Hierin is daar ‘n enorme openbaring opgesluit! In sy merkwaardige boek: Mystical Bodies, Mystical Meals: Eating and Embodiment in Medieval Kabbalah, maak Joel Hecker hierdie ontsaglik belangrike stellings: “He gave it [the quail] to them with the attribute of night … He gave them [the manna] with an illuminated visage, that is, the attribute of daytime …” (pp. 65-66)!
Manna het die attribute of day/light, en kwartels het die attribute of night/darkness! Maar albei daal uit die hemele/geestelike realm neer, en albei dra ‘n fatness/salwing. Albei het dus te make met jou hoë roeping, maar is absolute teenpole van mekaar. Onthou die sleutelskrif in Ef. 5, vanaf vers 1, waar Paulus al die heiliges aanspreek om soos Jesus te word en ‘n gawe en offer te wees “tot ‘n lieflike geur” (vers 3).
Die eerste keer wat die frase “‘n lieflike geur” in die Bybel voorkom, is in Gen. 8:20-21 toe Noag vir die HERE ‘n altaar gebou het en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring het, en “die HERE het die lieflike geur geruik”. Die vet as offer word gespesifiseer as deel van dit wat “’n lieflike geur” voortbring (Lev. 4:31), so ook “fynmeel met die olie, en al die wierook” (Lev. 6:15), “olie” (Lev. 6:21), “wyn” (Num. 15:7). Nie minder nie as 81 keer word hierdie frase gebruik om die vuuroffers wat ‘n lieflike geur vir God is, te beskryf. Daar is een plek in die Ou Testament waar dit dan nog voorkom, naamlik Eseg. 20:4, wat ‘n absolute sleutel is: “As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies.” DIT is die rol van die lieflike geur – om aan alle mense en volkere die Christus te demonstreer, as Hy Hom IN ONS as die Heilige sal laat ken! Dít kan net gebeur deur jou rhema-identiteit in Christus, wat ‘n simboliese heenwysing na die manna is. Die aangename geur van die Christus word vanaf Ef. 5:3-5 uitgespel in terme van wie “‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God”. En dan kontrasteer Paulus hulle in vers 6 met “die kinders van die ongehoorsaamheid”, en spel hy uit in vers 7: “Wees dan nie hulle deelgenote nie.” En dan val alles duidelik in plek met vers 8: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.” Die manna dui onteenseglik op die gemeenskap met die woorde van die lig, en die kwartels dui onteenseglik op die gemeenskap van die woorde van die duisternis.
- Sela: Watter geur versprei jy – die “aangename geur van Christus” (2 Kor. 2:15)?
- Lees: 1-9 (hoe merkwaardig is hierdie korrelasie!)
- Memoriseer: 6:23-27
- Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.