“… ons gemeenskaplike saligheid …”
(Jud. 1:3, OAV)
In die verlede het ons dikwels gesien dat die gedeelte wat ons in ons Bybellees dek, wonderbaarlik korreleer met die week se lering, al is dit geensins so beplan nie. Hierdie Goddelike sinchronisasie het vir my persoonlik ‘n ontsaglike bemoedigingswaarde, want ek sien God se hand so wonderbaarlik manifesteer in die moeisame skryf van die Manna, want van my is dit ook waar soos van Job (32:15): die woorde laat my dikwels in die steek. Maar wanneer “die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende oë het” (Num. 24:16), word die skryfteks bepaald heilige grond, ten spyte van die brose feilbaarheid van die skrywer. Dáárom kan dit enigsins wees dat ‘n man soos Dawid in sy heel laaste woorde kon proklameer: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong.” (2 Sam. 23:2). En ons weet uit Ps. 45:1 – die opregte se “tong is die pen van ‘n vaardige skrywer”. Daarom is die skryf van elke Manna ‘n opregte strewe soos dié van die Prediker (12:10) – “om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid”.
In my gedig ‘oorsprong’ (uit die bundel Ligloop) het ek in die eerste strofe aan hierdie Goddelike epifanie probeer beslag gee:
pa kom uit ‘n voorgeslaglyn van monnike wat pynlik
woord vir woord die Woord moes transkribeer.
hulle weet te vertel hoe in ‘n onbewaakte oomblik
iets Goddeliks gebeur en íneens dooie letters illumineer.
Dit is baie interessant dat die apostel Petrus verduidelik dat die profete van die ou tyd “ondersoek en nagevors” het “aangaande hierdie saligheid” en “oor die genade wat vir (ons) bestem is” (1 Pet. 1:10). LET WEL: deur ondersoeke en navorsing het “hulle … nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het van “Christus (wat) sou kom en die heerlikheid daarna” (vers 11)! Lank voor Jesus was die Gees van Christus, die sewevoudige Gees, al werksaam in hulle! Om hierdie rede is hulle tóé reeds opgeneem in die wolk van getuies (Heb. 11:1). En dít wat hulle geuiter, of geskryf het dan, was “soos woorde van God” (1 Pet. 4:11).
In sy verduideliking van hoe die profete van ouds iets van die wonderbaarlike geheimenis van Christus verstaan het, skryf Petrus voorts dat hierdie saligheid wat ons nou in ontvangs kan neem “in die krag van God bewaar word” (1 Pet. 1:5). Daar is “baie dinge wat saamhang met die saligheid” (Heb. 6:9) wat die meeste mense nie verreken nie. Reeds weet ons dat CHRISTUS “die krag van God” (1 Kor. 1:24) is, met ander woorde die saligheid wat die derde dimensie vereis:
- Dit is NIE die saligheid van redding wat nét Jesus kan bring in die eerste dimensie nie – soos Hand. 4:12 dit onomwonde oor Jesus uitspel: “die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie”.
- Dit is ook nie die saligheid van die tweede dimensie nie, daardie “saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid” (2 Thes. 2:13), nee!
- Dit is die derdedimensiesaligheid, wat Jud. 1:3 “ons gemeenskaplike saligheid” noem, “wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd” (1 Pet. 1:5). Dit is “ons allerheiligste geloof” (Jud. 1:20), wat Petrus in vers 6 sê beproef word [in die wildernis/woestyn], “sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (vers 7). In vers 12 sê Petrus dat engele begerig is om te sien wat ons sien, en dat ons daarom, die lendene van ons verstand moet omgord, nugter wees en volkome hoop op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus (vers 13). Dit is wat ons heiligheid, of afgesonderdheid, in wese beteken (vers 15), dat ons nié deur ons luste (= begeerlikhede, of simbolies dan: kwartels) ons “lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in (ons) onwetendheid bestaan het nie” (vers 14).
As ons dan in1 Pet. 1:22 lees dat ons derdedimensiesaligheid setel in die “gehoorsaamheid aan die waarheid” waardeur ons “siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het” sodat ons “mekaar vurig (kan) liefhê uit ‘n rein hart”, bring dit die kern van die derdedimensiesaligheid na vore, naamlik dat die onverganklike Logossaad van die wedergeboorte tot vrug gekom het (vers 23). Weliswaar – “Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe …” (Spr. 11:30). Hierdie mitiese boom van die voortyd kry dusdoende gestalte IN die wedergebore mens wat in en deur die kollektiewe voorhangsel van Jesus se vlees kon skeur (Heb. 10:20). Dus ten spyte dat die tempel van God, wat die gelowige se liggaam is (1 Kor. 3:16), steeds gras is, en dat “alle vlees … soos gras (is), en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras is …. Die gras verdor en sy blom val af …”, is daar IN die geesmens iets blywends, en 1 Pet. 1:25 spel hierdie wonderbaarlike openbaring uit: “maar die rhema-woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die rhema-woord wat aan julle verkondig is.”
Onthou wat bietjie vroeër in 1 Pet. 1:5 gesê is – hierdie saligheid word “in die krag van God bewaar”, dit wil sê in die Christus (1 Kor. 1:24) bewaar, wat net vrygestel word deur ongeveinsde broederliefde, asook om mekaar vurig lief te hê. Ons het deur die wedergeboorte reeds die volle kapasiteit daarvoor, maak Rom. 5:5 dit duidelik: “die liefde van God (is) in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”.
Die hele hoofstuk 3 van 1 Johannes ontplooi hierdie waarheid: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê …” (verse 10 & 11). Dan hierdie eenvoudige maatstaf in vers 14: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” Dis ‘n eenvoudige, maar dwingende beginsel van die derdedimensiesaligheid.
As Joh. 3:16 God se liefde aan die mensdom uitspel, is 1 Joh. 3:16 die pendant daarvan, wat die vol maat van God se verwagting van ons duidelik formuleer: “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.”
Die onderliggende vraag word dus duidelik – word ek en jy geopenbaar deur die kwartels (ons eie lustige begeerlikhede, en die van ander), of deur die manna (die broers se rhema-identiteite in Christus)?
- Sela: Beantwoord die vraag in die laaste paragraaf eerlik.
- Lees: 16-21 (weer, hoe merkwaardig is hierdie korrelasie!)
- Memoriseer: 16:31-32 (weer, moenie dat die diepgang van hierdie verse jou verbygaan nie!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws getiteld: Rus in die Dag van Onheil