“… kom dan hier, neem die kruis op en volg My …”
(Mark. 10:21, OAV)
Ons keer in hierdie aflewering weer terug na die tema van Manna 1666, en miskien moet jy net weer vir die kontinuïteit dit vinnig weer lees.
Met die openbaring dat kwartels simbolies die negatiewe deel van jou hoë roeping verteenwoordig, is dit belangrik dat ons veel meer daarvan te wete kom, want onthou – jou hoogste roeping verhul jou diepste wond. Die teenpool van wat God oor jou identiteit en lewe in die lig geroep het, word in die duister gebruik om jou teen te staan. Dit wat jou teenstaan, is die kulminasie van wat ons kan noem die teënstander.
As Paulus aan die gemeente in Korinthe verduidelik dat God besig is om hom in sy roeping te posisioneer, stel hy dit direk in teenstelling met die posisionering van sy teëstanders: “Want ‘n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.” (1 Kor. 16:9).
Ons eerste gedagte as ons die Skrif hierbo lees, is dat Paulus van fisiese mense as teëstanders praat, en dit is bes moontlik die geval, soos Hand. 19:9 dit dan ook voorhou: “(dat) sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg”. Maar in 1 Kor. 15:32 stel hy dat hy “op menslike wyse met wilde diere geveg het”, en in ‘n vorige Manna het ons uitgewys dat dit onteenseglik slaan op demoniese werking. Daarom kan ons 1 Pet. 5:8 verstaan as die apostel waarsku: “Wees nugter en waaksaam, want julle, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” Hierdie teëstander word hier eksplisiet aan die duiwel gekoppel. Die teëstander kan bepaald mense wees, maar bepaald ook die duiwel, of dit kan bes moontlik wees dat die een gestalte of substansie aan die ander gee. Sela.
Vers 9 dui dan die gelowige met die hoë roeping se teenstrategie aan – staan die teëstander teen: “Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.” Jy staan hom teen deur ‘n posisionering van jouself in jou allerheiligste geloof, dit wil sê jou geloof in wat God oor jou geroep het. Dit word bevestig deur die volgende vers wat dit alles koppel aan die feit dat ons geroep is “tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (Let op die opwindende progressie – Hy maak jou eers volmaak, dan bevestig Hy jou, dan versterk Hy jou, en dan grondves Hy jou. ‘n Mens sal dink dit moet andersom wees: eers die grondvesting, dan dat jy versterk word, dat God dit dan bevestig, en dit dan vervolmaak. Dít klink mos eerder volgens menslike logika na ‘n goeie orde, nie waar nie? Maar voor ons hierna kan kyk, is daar eers iets anders wat ‘n swaarder gewig (spesifiek dié woord) verdien voor enigiets ‘n aanvang kan neem.
Die proses begin nie met volmaak nie, helaas. Dit begin met lyding. Vir die meeste gelowiges sal dit egter ‘n teleurstelling wees. Wanneer ‘n mens die eerste keer hoor dat jy ‘n uniek-eie roeping het, dat God dit spesifiek oor jóú geroep het, is daar hierdie ontsaglike verwagting wat in jou gestalte kry. As jy uitvind van jou geestelike naam, jou geestelike stam, jou rol en roeping binne die vyfvoudige bediening, watter boom jy op Sion verteenwoordig, die spesifieke genadegawes van God wat vir jou gegee is, dan voel dit meermale oorweldigend, maar dit maak jou ook onoorwinlik voel.
[As jy nie die agtergrond van hierdie verskillende bemagtigende fasette van jou Geesidentiteit verstaan nie, dan het jy bes moontlik nie ‘n Elia 1- en/of Elia 2-kamp bygewoon nie, maar dit kom eersdaags op die Manna aan die bod.]
Maar dit is ontsaglik belangrik dat as jy ervaar die roeping begin ‘werk’ in jou (ons verduidelik dit ook later), jy deur ‘n proses gaan wat die Skrif interessant genoeg as lyding benoem. Vers 9 berei al die weg voor vir vers 10 as Paulus verduidelik: “julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is”. Dit is dus ‘n kollektiewe ervaring wat almal wat geroep is aan blootgestel moet word.
Hierdie woord vir lyding is in Grieks paschō/pathō/penthō, wat in ‘n negatiewe sin verklaar kan word, volgens Thayer: “in a bad sense, to suffer sadly, be in a bad plight; (said) of a sick person”. MAAR, die woordjie beteken ook “to be affected or have been affected, to feel, have a sensible experience, to undergo; in a good sense, to be well off, in good case”! Voor jou roeping ‘n aanvang kan neem, moet jy voorberei word om in alle opsigte ontslae te raak van dit wat jou teëstaan IN jouself.
Die Gees van God “oortuig van sonde” (Joh. 16:8), met ander woorde in die betekenis van wat die woordjie sonde oorspronklik beteken – die Gees oortuig jou van hóé jy jou merk mis, die mate van hoe ver jy die teiken van jou skeppingsdoel mis. Die blootlegging daarvan is dikwels ‘n pynlike proses, dit is meermale moeilik, want dit konfronteer tot ‘n baie groot mate die gevestigdhede van ‘n valse identiteit in jou, dit wat dikwels in alle opsigte jou oorspronklike identiteit teëstaan. Dit is grootliks wat Jesus aan die ryk jong man sê: “En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” (Mark. 10:21). Hy het dit vroeër vir sy dissipels ook uitgespel: “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Mark. 8:34).
Lyding word meestal deur al die vertalings voorgehou as: suffering a short while, of: bearing afflictions for a short time. Maar die AMP hou dit ook positief voor as: “will Himself complete and make you what you ought to be”. Laasgenoemde is net moontlik as jy bereid is om in so ‘n mate met Hom te vereenselwig dat jy bereid is om te deel aan sy lyding (2 Kor. 1:7). Net soos die Israeliete kan jy kies hoe lank jy in die woestyn of wildernis wil bly! Die lyding, positief en negatief, is die gestaltegewing van God in jou deur jou opnuut te posisioneer ten opsigte van jou oorspronklike skeppingsdoel. Omstandighede, gewoontes, blootstellings, oorleweringe, ‘n manier van dink, wat ook al, het jou tot nou toe gevestig en gegrondves. Maar in Christus moet ALLE dinge nuut word (2 Kor. 5:17).
Hierdie is die tyd dat jou teëstanders, fisies en geestelik, jou doelgerig begin teiken. Fil. 1:28-30 maak dit egter duidelik: “julle (mag) jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ‘n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God; omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.”
Uit 2 Thes. 2:3-10 skryf Paulus uitvoerig oor hierdie proses. Helaas is dit ‘n gedeelte wat ongelukkig misverstaan word as sou dit relevant wees ten opsigte van wat die meeste gelowiges verstaan die wederkoms is en die tyd wat dit voorafgaan, en die verskyning van die antichris wat die gelowiges se lyding gaan veroorsaak. Maar as jy die woordjie wederkoms lees soos dit oorspronklik daar in vers 1 staan, naamlik parousia, gaan dit primêr oor die verskynings van Jesus IN JOU LEWE! Paulus sê dat hy skryf oor daardie “vereniging met Hom”, en dat ek en jy nie deur die teëstanders, fisies en geestelik, verskrik moet word of irrasioneel moet begin dink nie, “asof die dag van Christus al daar is”.
Wat dan is die “dag van Christus”? Hierdie frase, wat ook voorkom in Fil. 1:10 en 2:16, kan ‘n mens verlei om te dink dat dit ‘n spesifieke dag in die toekoms is wanneer Jesus weer sal terugkeer. Maar as Jesus dan al reeds met Pinkster teruggekeer het as lewendmakende Gees (1 Kor. 15:45), is “die dag van Christus” spesifiek die tyd van die Messias in JOU lewe, “the time of the Messiah” (Albert Barnes’ Notes on the Bible). Dit is dus nie ‘n spesifieke dag waarop dit vir almal waar is nie, maar vir jou: “daar kom ‘n uur, en dit is nou” (Joh. 5;25). Daar is ‘n dag, en dit is vandag (Heb. 3:15; 4;17). Daar is elke dag ‘n geleentheid om die “dag van Christus” te wees!
Maar, en ons moet dit baie goed verstaan, daar gaan heeltyd teëstanders wees, daarom waarsku Paulus in 2 Thes. 2:3-4: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”
Hierdie teëstander is die gees van die anti-Christus, dit wat IN DIE PLEK VAN CHRISTUS in jou en my lewe inneem, wat verhoed dat die “dag van Christus” vandag gebeur. Ons word mislei deur die teëstanders en hul primêre doel is om “die mens van sonde” te openbaar, met ander woorde die donker identiteit wat die wêreld en die owerstes van die wêreld saamgesweer het om as ons identiteit aan te bied. Nie verniet nie het Jesus gesê: “die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Joh. 14:30). Hierdie mens van sonde is IN ons geopenbaar, die produk of “seun van die verderf”, “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word”. In die tempel van jou liggaam (1 Kor. 3:15) sit hy as God en gee voor dat hy God is!
In vers 5 herinner Paulus hulle dat hy dikwels daaroor gepreek het by hulle, en dat hulle (volgens vers 6) weet “wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word”. As dít gebeur, breek die dag van Christus in jou lewe aan. Maar tot dan, is “die verborgenheid van die ongeregtigheid” onverdrote al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is” (vers 7). Die teëstanders hou jou teë! Dan, volgens vers 8: “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word”. Onthou ons het vroeër Joh. 16:8 aangehaal wat gewys het dat die Gees van die waarheid, die lewendmakende Gees, “die wêreld oortuig van sonde”, MAAR ook van geregtigheid”! Let wel – nie ongeregtigheid nie!
Die “ongeregtige” is gelyk te stel aan die teëstander, en OP DIE DAG VAN CHRISTUS, “deur die verskyning (= epiphaneia) van sy (Jesus se) wederkoms (= parousia) sal (die duiwel) tot niet sal maak”. Onthou die woordjie wederkoms bestaan geensins in die Grieks nie. Parousia is die inwonend-ontvouende teenwoordigheid van die Godheid in jou; ‘n elkedagse, durende werklikheid”. Daarmee saam – die woordjie epiphaneia word verklaar as “an appearing, appearance”, Sy verskyning of verskynings. Samevattend dus sê hierdie vers: “deur die verskynings van Jesus in jou elkedagse werklikheid sal Hy met sy Gees en/of die rhemawoorde (die asem van sy mond) [let op die twee interpretasiemoontlikhede] die teëstanders verdelg.
Vers 9 in die James Murdock New Testament verduidelik: “For the coming of that [evil One], is the working of Satan …” Daar is dus ‘n soortgelyke parousia van die Bose ook, met hulle dan as teëstanders van die gelowige se ware identiteit. Verse 9 en 10 verduidelik voorts: “hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie”. Maar desnieteenstaande – hy word VERNIETIG! Hierdie koms van die Satan is presies dieselfde woordjie parousia, wat eintlik dan uitwys hoe belaglik is dit om enigsins na hierdie gebeurtenis te verwys as die wederkoms, want dan het Satan ook streng gesproke ‘n wederkoms. Dit is definitief nie die geval nie, dus is dit eerder belangrik dat ons sal verwys na die verskynings van Jesus en die duiwel, en dat Jesus se verskyning die duiwel vernietig.
- Sela: Verduidelik aan iemand waarom die woordjie wederkoms ‘n foutiewe vertaling is.
- Lees: 22-30
- Memoriseer: 22:38 (die ABP vertaal woord hier as rhema!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws getiteld: Die Onheilige drie-eenheid in jou