“Want mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak.”
(Heb 6:16, OAV)
In gister se lering het ons gepraat daaroor dat baie mense ‘n verbond met God sluit en dan daarna nie hul deel van die ooreenkoms nakom nie, en dat God sodanige verbond baie ernstig opneem. As jy daarna versuim om dit uit te voer, sal dit sonde in jou word, met ander woorde dit staan jou teen in die vervulling van jou skeppingsdoel, want jy mis die merk. Pred 5:6 sê voorts dat “jou stem en die werk van jou hande verwoes” word as jy uitstaande geloftes het.
Die woordjie “sweer” dui op hierdie kontrakverbintenis tussen jou en God (Ps 132:2). Dis baie interessant dat die woordjie “sweer” in die Hebreeus dui op “to be complete”, letterlik: “to seven oneself” (Strongs). Die getal sewe dui enersyds op voltooiing, weet ons (bv sewe as die getal van die dae van die skepping; die sewe geeste van God; die sewe gemeentes, en so meer). Om te sweer is dus om te weet jy kan nie iets op jou eie doen of regkry nie, en dan die hulp van God soek om dit te voltooi. Die aksie van om te sweer word derhalwe ‘n inroep van God as getuie en Hoër Gesag om alle ander aansprake teen te staan (soos die Skrif in Hebreërs hierbo aangehaal dit duidelik uitspel). In wese is elke “sweer” ‘’n sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit” (Mat 23:22) en is jy daaraan gebonde (Mat 23:18), omdat God nooit kan lieg nie (Num 23:19; Tit 1:2).
Maar die getal sewe dui volgens Easton ook op offergawe (sacrifice), sien bv 2 Kron 29:21 en Job 42:8. Dus is die sweer duidelik ook ‘n offer vir albei partye, en God hou jou in die gerig oor jou spesifieke kontrakbelofte.
Derhalwe is Satan baie ingestel daarop om vir mense wat ‘n verbond met God gemaak het, dit te laat vergeet, of om dit af te water of om dit só te versluier dat die persoon uiteindelik lewenslank deur die vals horings van die altaar “verstrooi” of gesif (een van die wortelbetekenisse van verstrooi) word (Sag 1:19).
Nadat Petrus gesweer het in Mat 26:33 & 35 dat hy Jesus nie sal verloën nie, het daar deur sy blote woorde ‘n verbond tot stand gekom. Daarom sê Jesus in Luk 22:31 aan hom: “kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif”, en nie lank daarna nie het hy Jesus verloën. Daarom dat Jesus uitspel in Mat 5:33-37 dat ons nie moet sweer nie. Jak 5:12 sê dit so: “Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie.”
Dus, asseblief: “betaal jou geloftes aan die Allerhoogste …” (Ps 50:40).
- Sela: Bely en termineer alle uitstaande verbonde en ede aan die Here. Vra om vergifnis.
- Lees: 2 Sam 20; Spr 24; Jak 5