“… die wurms eet smaaklik aan hom …”
(Job 24:20, OAV)
Dit is van groot belang om dit vas te maak – almal wat uit die voortyd/ander realiteit geval het, land op die aarde, en dit word as gevolg van die toestand van vervallendheid met die doderyk gelyk gestel – dit het ons destyds in Manna 1166-1168 geleer. Maar deur Jesus Christus as Redder en Verlosser skep God ’n nuwe verlossingsruimte op aarde waarbinne die gereddes hul nuwe lewe leef in die land van die lewendes – “in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28)! Inderdaad: “Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms …” (Deut. 33:27).
Maar, ons het as teenpool daar verwys na die toestand op aarde as ’n metaforiese doderyk, want ‘n mens weet onteenseglik ook dat die mens uit die stof van die aarde geformeer is (Gen. 2:7). In Ps. 141:7 word hierdie afgryslike, dog mooi beeld van die mens in verganklikheid soos volg deur die psalmdigter voorgehou: “Soos ‘n mens in die aarde vore en skeure trek, is ons beendere gestrooi by die mond van die doderyk.” In die staat van die doderyk kan jy nie onthou van die voortyd/ander realiteit nie. Job 17:13-16 leer ons veel oor hierdie toestand op aarde: “As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei, die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster, waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit? Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.” Die doderyk is die plek waar wurms (ons verduidelik later dat die rimmah-woorde is die teenpool van rhema-woorde) my vader, my moeder en my broers is!” In teenstelling met Jesus se uitspraak in Matt. 12:50 – “Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder”, word almal in die doderyk familie van die wurms, diégene wat in hul anti-christus-identiteite loop. Onthou dat wurms teer op “sekerlik gestorwe” vlees! Oor die koning van Babel in die doderyk (= aarde) word byvoorbeeld in Jes. 14:11 gesê: “Jou trots is neergewerp in die doderyk, …; onder jou is wurms as ‘n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.”
Die heel eerste verwysing in die Bybel na wurms is, insiggewend genoeg, Eks. 16:19-20, as daar oor die manna in die woestyn gepraat word: “En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe nie. Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die môre toe. Toe kom daar wurms in en dit bederwe. Daarom het Moses baie kwaad geword vir hulle.”
Dit is veelseggend dat die manna, simbool van die rhemawoorde, verderf en deur wurms verteer word as die ontvangers daarvan meer as VANDAG se porsie probeer hanteer. Hierdie is ‘n baie belangrike sleutel, want die rhemawoord werk NET vandag.
Die wedergeborene se rhemawoord-identiteit word uit Jesus se Logoswoord-identiteit gebore, volgens 1 Pet. 1:23 – “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly”. Die woord wat Hy oor jou gespreek het, besit sy herskeppende potensiaal vanuit die voortyd/van ewigheid af/van voor die grondlegging van die wêreld af. Maar dit word as teenpool in stand gehou deur die presiese teenoorgestelde van daardie woord. Die woorde van Christus dra die krag en die heerlikheid van God. Ons sou kon sê die heerlikheid en die krag van satan word dan uiteraard deur die woorde van satan gedra. Sela.
Ons maak ‘n enorme fout deur allerweë te praat van die koninkryk van die Bose. Daar bestaan geensins so-iets nie, en geen enkele vers in die hele Bybel benoem dit as sodanig nie. Daar word egter herhaaldelik gepraat word van die koninkryk van God, en dit word ook genoem die koninkryk van die Vader, die koninkryk van die hemele, die koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus, die koninkryk van die Seun van sy liefde, en dan die oorkoepelende term wat in Ef. 5:5 gebruik word: “die koninkryk van Christus en van God”. In Joh. 18:36 antwoord Jesus: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
God se koninkryk staan nie teenoor die sogenaamde koninkryk van Satan nie! Die koninkryk van lig staan nie teenoor ‘n verbeelde koninkryk van duisternis nie! Wat die Woord wél in Kol. 1:13 sê, is dat Hy “ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde”. Die mag van die duisternis funksioneer in wat die Bybel voorhou as “die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” (Matt. 4:8). Ons weet uit 1 Joh. 5:19 wel dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”.
Dit verander ‘n mens se totale perspektief as jy dan besef dat die enkele onderskeid wat te make is, is van die koninkryk van God (= die geestelike realm) en die koninkryke van die wêreld (= die fisiese realm = die doderyk). God beheer sy koninkryk deur sy Seun Jesus en deur sy Christus. Op. 11:15 mak hierdie belangrike vooruitskouing: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” (Onthou – ‘n koning wat heers, heers in ‘n koninkryk.) Dan. 7:27 maak dit mooi vas: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”
Die “koninkryk van Christus en van God” word opgebou deur die vermeerdering van die rhemawoorde en die herstel van die heerlikheid en krag wat IN hulle gestalte kry. Die koninkryke van die wêreld word opgebou deur die vermeerdering van die rimmah-woorde. Nóú sal ons kan begin insien dat die Bose in ‘n groot mate gestalte kry deur die teenpool van ons rhemawoorde. Hierdie is ‘n baie belangrike punt van verbandlegging – daar is ‘n onherroepelike verband tussen wat in Op. 12:9 genoem word: “die groot draak …, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp”. Lees dit weer! Waaruit is die duiwels of bose geeste gegooi? Uit die koninkryk van God, en hul het besit geneem van die koninkryk van die wêreld, en hulle is legio, want hulle is baie duiwels (Mark. 5:9; Luk. 8:30). Dis in die koninkryk van die wêreld dat elke mens gebore word, en dit is slegs deur die wedergeboorte dat die mens ‘n weg terug na die koninkryk van God kan kry. Die Skrif in Joh. 3:3-7 is só bekend, maar is in hierdie argument die finale sluitsteen van die argument: “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.”
- Sela: Verduidelik aan iemand die konsepte ‘die koninkryk van God’ en ‘die koninkryke van die
wêreld’.
- Lees: 25-30
- Memoriseer: 26:10
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws getiteld: Hoe raak ek van my donker natuur
ontslae?