“My vlees is bekleed met wurms en stofklonte …”
(Job 7:5, OAV)
Die vorige week se Digitale Manna het ons by ‘n baie belangrike punt in ons ondersoek oor die uitverkorene se hoë roeping gebring, en dit onlosmaakbaar gekoppel aan sy/haar diepste wond. Almal wat uit die voortyd/ander realiteit geval het (Op. 2:5), moet in hierdie aardse realiteit, wat as doderyk benoem word, veg die intieme verwantskap van die wurms, wat hier die kwintessens van ons teëstander is, wat teer op die rhema-identiteite van die onvervulde roeping, of dan die rhemaroeping waaraan nie gestalte gegee is nie. Die woord wat Hy oor jou gespreek het, besit sy herskeppende potensiaal vanuit die voortyd af. Maar dit word in balans gehou deur die presiese teenoorgestelde van daardie woord. Die woorde van Christus dra die krag en die heerlikheid van God. Ons het dan gesê die heerlikheid en die krag van satan word dan uiteraard deur die woorde van satan gedra.
Dít alles geskied in ‘n verbeelde koninkryk van duisternis nie, maar in die koninkryke van die wêreld. Ons weet uit 1 Joh. 5:19 wél dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”. Die “koninkryk van Christus en van God” word opgebou deur die vermeerdering van die rhemawoorde en die herstel van die heerlikheid en krag wat IN hulle gestalte kry. Die koninkryke van die wêreld word opgebou deur die vermeerdering van die rimmahwoorde. Nóú sal ons kan begin insien dat die Bose in ‘n groot mate gestalte kry deur die teenpool van ons rhemawoorde. Satan vermeerder in die Liggaam van teëstanders wat Christus teenstaan. 1 Joh. 4:2-3 maak dit onteenseglik duidelik: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.” In 2 Joh. 1:7 word dit soos volg uitgespel: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.”
Die inkarnasie van God as mens (1 Tim. 3:16), ook die inkarnasie van Jesus/God in wedergeborenes (Gal. 3:16), het ook ‘n teenpool: die inkarnasie van satan deur demone. Bedink die implikasies van hierdie waarheid.
Dus het dus nou hierdie twee korporatiewe gestaltes in ‘n kosmiese drama: Satan en Jesus die Christus. Jesus vermeerder in die Christus en volgens Mattheus 4 is Satan die teëstander van die Christus. Satan is dus die teëstander van ons almal in die Christus en vermeerder in die versameling teëstanders. As ons op ‘n ander wyse daaroor nadink, vorm hierdie versameling van die teënstanders van Christus die kollektiewe counterfeit van die wolk van getuies.
‘n Mens sou Satan dus kon benoem as die korporatief van alle rimmah-woorde, en hulle is legio, want hulle is baie. Dit sou byvoorbeeld dan kon verklaar wat die oorsprong is van die “onrein geeste” (Matt. 10:1), “bose geeste” (Luk. 7:21), “die geeste (wat) aan julle onderworpe is” (Luk. 10:20), “verleidende geeste” (1 Tim. 4:1), “die geeste wat waarsê, wat piep en mompel” (Jes. 8:19), en dan praat 1 Pet. 3:19 boonop van “die geeste in die gevangenis”! Daar is slegte geeste, en dan bepaald “slegter geeste” (Luk. 11:26)!
Die apostel Johannes vermaan in 1 Joh. 4:1 – “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is …” Daar is dus geeste wat uit God is, en geeste wat uit Satan is. Die geeste wat uit God gestuur is, die gestuurdes, is boodskappers, of engele. Heb. 1:4 noem hulle “dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe”, ook engele (= gestuurdes) genoem. Die geeste wat uit Satan gestuur is, ook gestuurdes, en hulle is eweneens boodskappers, oftewel: engele van Satan (soos Paulus in dit in 2 Kor. 12:7 benoem). Op. 16:14 benoem hulle uitvoerig soos volg: “dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel”.
In die laaste vers word die aktiwiteit van “die geeste van die duiwels” duidelik uitgespel ten opsigte van hul werking in “die kinders van die ongehoorsaamheid” (Ef. 5:6). Vroeër in hierdie sendbrief, in Ef. 2:2-8, verklaar Paulus dit helder as hy eweneens praat oor “die kinders van die ongehoorsaamheid” (vers 6), maar dan hulle gedrag en lewe koppel aan ‘n gestaltegewing van die donker of vleeslike natuur, soos vroeër toe hulle ongered en onomwonde “duisterheid was” (Ef. 5:8). As gevolg hiervan was ons wandel gerig “volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Ef. 2:2). Laat ons hierdie vers net effens dieper uitpluis:
- Maak vas dat ongeredde mense almal, maar ook soms gelowige mense wat ongehoorsaam is, deur demoniese geeste/engele gerig word en “in hulle werk”.
- Dit bring mee dat hulle in die patroon “volgens die loop van hierdie wêreld” gevorm word. Verskeie vertalings belig hierdie frase soos volg:
- “according to the worldliness of this world” (JMNT)
- “[conducted yourselves] according to the age [fig., the practices] of this world” (ALTNT)
- “You were following the course and fashion of this world [were under the sway of the tendency of this present age]” (AMP).
- Hierdie patroon van wêreldlikheid wat in die mens gevorm word deur verwêreldliking, geskied deur die mould wat die demoniese geeste IN JOU gestalte gee. In Joh. 8:44 spel Jesus dit aan die Fariseërs uit: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” Dit beteken dat jy gevorm en dat jou identiteit deur die saad van die slang (Gen. 3:15) bepaal word – dis hoekom jy begin lyk soos jou demoniese vader, die een uit wie se mould jy voortdurend gevorm word.
- Dit is dus baie moontlik dat die mense van die wêreld, asook gelowiges, “in die strik van die duiwel val” (1 Tim. 3:7). Die beteken volgens 2 Tim. 2:16 dat die duiwel strikke stel, en dat mense “deur hom gevang was om sy wil te doen”!
- Wat presies beteken “volgens die owerste van die mag van die lug”?
- Die ABP verklaar dit meer helder as “the ruler of the authority of the air”, en die CJB as “the Ruler of the Powers of the Air”. Dit is van baie groot belang om te weet dat Satan legitiem hierdie heerskappy oor die wêreld verkry het, dat God dit aan hom gegee het. Dit word eksplisiet uitgespel in Luk. 4:6 waar Satan aan Jesus op die berg van versoeking sê: “al hierdie mag … en hulle heerlikheid … is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil”. As Satan dus “owerste” genoem word, is daar ‘n groot verskeidenheid geassosieerde titels van heerskappy wat aan hom toegedig kan word, wat BDB soos volg voorhou: “prince, ruler, leader, chief, chieftain, official, captain, vassal, noble, official (under king), general, commander (military), head, overseer (of other official classes), princes (of religious office), elders (of representative leaders of people), merchant-princes (of rank and dignity), patron-angel, Ruler of rulers (of God), warden”. Hierdie posisie is ‘n ereposisie, van prinslike status, wat ‘n gesedeerde posisie van outoriteit of hoofskap is.
- Omdat dit waar is wat Matt. 28:18 in die woorde van Jesus uitspel: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde,” beteken dit Satan kan glad nie heers sonder die eksplisiete goedkeuring van God, die koning van sy Koninkryk, nie. Maak dit vas. Dit beteken nie dat God aan elke daad en aksie en aanslag van Satan aan deel het of opdrag daartoe gee nie, maar die Bose word toegelaat om in die koninkryk van die wêreld mense gevange te hou, te mislei, en te verblind. Onthou Jes. 54:16 – “Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.” (Let op die klem wat op die Eienaam gelê word.) Ook Jesus se woorde aan Pilatus in Joh. 19:11- “Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”
- Die woordjie “lug” in hierdie onderhawige vers word byvoorbeeld deur Strong onomwonde as “the atmospheric region” voorgehou. Tog word dit in die grondbegrip van die woord eerder voorgehou as “from aemi (to breathe unconsciously, i.e. respire; by analogy, to blow)”. Daar is ‘n reuse verskil, selfs ‘n onversoenbare verskil, tussen die twee interpretasies – die een is buite die mens in die lug, die ander een is die lug IN die mens! As die Woord praat van ons posisie in Christus, word dit altyd gekoppel aan ‘n posisionering IN DIE LUG menende IN DIE HOOGTES menende IN DIE GEESTELIKE REALM menende IN DIE HEMELE. Ef. 2:6 (AMP) verduidelik dit netjies: “And He raised us up together with Him and made us sit down together [giving us joint seating with Him] in the heavenly sphere [by virtue of our being] in Christ Jesus (the Messiah, the Anointed One).” Dit gebeur NOU! Die opruk in die hemele wat mense as ‘n wegraping in byvoorbeeld 1 Thes. 4:17 interpreteer, het veel eerder te make met die “op”-beweeg in krag en outoriteit, nie in fisiese hoogte (altitude) nie. Rom. 6:5 (AMP) maak dit duidelik: “For if we have become one with Him by sharing a death like His, we shall also be [one with Him in sharing] His resurrection [by a new life lived for God]” OP AARDE.
- Op grond van twee spesifieke tekste, kan dit lyk of Satan weliswaar ‘n koninkryk besit:
- 12:26 – “En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” En:
- 16:10 – “En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn …”
Maar Satan het bepaald nie ‘n eie koninkryk nie, maar het weliswaar ‘n bepalende invloed en heerskappy op die koninkryke van die wêreld. Satan se koninkryk is maar net die koninkryke van die wêreld waar hy sy heerskappy in en deur mense, sosiale en finansiële sisteme, regerings, edikte, godsdienstige bepalings en rituele, en so meer laat geld. Dit geskied grootliks deur ‘n vleeslike of aaardse of natuurlike manier van dink en optree, ‘n wyse waarop ons “almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Ef. 2:3). Dit verklaar die toestand van die wêreld soos ons dit ken, en van die ongeregenereerde mens: “bekleed met wurms en stofklonte” (Job 7:5).
- Sela: Besin oor die gestaltegewing van die duiwel in ‘n mens.
- Lees: 31-36; Deut. 1-3
- Memoriseer: 1:2 (waarom sou die vers belangrik wees om te weet?)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws getiteld: Die Dier wat is wat nie
is nie.