“… wie vuil is, laat hom nog vuiler word …”
(Op. 22:11, OAV)
Ons is steeds besig met die ontvouing van ‘n uitverkorene se hoë roeping, asook die feit dat hierdie roeping onlosmaakbaar aan sy/haar diepste wond gekoppel is. In die laaste Manna het ons ook gekyk na die aktiwiteit van “die geeste van die duiwels” wat gestalte kry in en deur “die kinders van die ongehoorsaamheid” (Ef. 5:6).
Die groot ontdekking tans is dat Satan vermeerder in ‘n korporatief van teënstanders – die rimmah van alle mense vorm saam sy liggaam – “En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie.” (Mark. 9:5). Daar is nie net een demoniese gees nie, hulle vermeerder in die korporatiewe liggaam van die teënstanders. Die teënstanders in jou en my, in die vlees, vorm saam die liggaam van satan. Die teënstander is dus in jou en my en hy/hulle staan direk teen die Liggaam van Christus.
Die Christus vermeerder in die rhemawoorde, maar die satan het ook ‘n verskeidenheid van identiteite wat vermeerder. Maar ‘n mens kan tereg vra – waarin vermeerder hulle? Luk. 11:24-26 bied ‘n sleutel hiertoe: “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.” Dus – die geeste/rimmahs vemeerder deur nog slegter geeste/rimmahs. In hierdie lig verstaan mens Op. 22:11 – “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.”
Ons weet teen hierdie tyd al dat die Bybelboek Openbaring is die openbaring van die Christus (Op. 1:1). Alles in hierdie apokaliptiese boek verduidelik iets van die ontvouende Christus – dit is letterlik die boek van die vermeerdering van die Christus IN JOU en spel die pad van geestelike verligting en apokalupto uit, vanaf wedergeboorte tot by “die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13). Soos jy daarin begin stap, ontdek jy die ontvouende Christus IN JOU.
Om dit te verhoed, verduidelik 2 Kor. 4:4, word mense deur die god van hierdie wêreld verblind in hul manier van dink sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat ‘n herstel van die beeld van God IN ONS meebring, op hulle nie sou skyn nie.
In Openbaring 8 lees ons van die stand van sake ná die sewende trompet geblaas het. Ons kom later in groter detail terug na die simboliese betekenis van die voorafgaande paar hoofstukke. Vir die huidige kan dit nou net kursories gestel word dat die boek van Openbaring verduidelik die geestelike transformasie van doe ontvouing van ons Goddelike natuur. Dit gebeur alles as die saad van Christus met die wedergeboorte in ons geplant word. As die eerste vrugte vandag, is diegene wat die saad ontvang het, die eerstes om te moet transformeer. IN ons weerklink die aankondiging van sewe trompette, en elk bring ‘n wonderbaarlike proses van inkarnasie voort.
- Sela: Is jy absoluut verseker dat jy die saad van Christus ontvang het?
- Lees: 4-6
- Memoriseer: 4:6
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws getiteld: Die Skoonmaak van die Geestelike
Baarmoeder – kernleringe