“… ons gemeenskaplike saligheid …”
(Jud. 1:3, OAV)
As deel van die ontvouing van Op. 8:10, en die “groot ster wat soos ‘n fakkel brand” wat “uit die hemel geval” het “op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine” het ons in die vorige Manna die diepgang van die woordjie ‘bitter’ ondersoek, want hierdie kataklismiese gebeurtenis in die gees van diegene wat uit Egipte op pad is na hul beloofde land, ervaar in die woestyn of wildernis ‘n ontsaglike terugroep na die land van die vleespotte.
Daarmee saam, as die groot ster val, word ‘n derde van alle sielsdimensieriviere, die fonteine van verbeeldings, vleeslike en natuurlike kennis, en seë van wêreldse wysheid met bitterheid besmet. As die ongeregenereerde, natuurlike mens met die ontsagwekkende krag van Jesus en sy Christus geïmpakteer word, het dit ‘n aardskuddende effek, wat die mens dikwels met verlies, pyn, verontwaardiging, skuldgevoel, vrees, onsekerheid, en ander soortgelyke negatiewe ervaringe laat, en ook laat dit ‘n wortel van bitterheid, ‘n enorme bos van bitterheid word. Soos Jak. 3:11 dit verduidelik: “‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” God kan nie die volheid van die fontein [= Heilige Gees (Joh. 4:14), asook skeppingsdoel en roeping (Hoogl. 4:12)] oopmaak as daar nog enigsins bitter waters uit my en jou vloei nie – Hy moet dit hanteer, en Hy laat dit gebeur deur die groot ster wat soos ‘n fakkel brand.
Interessant dat die bitter net op ‘n derde van die waters val. Hoekom nie op alle water nie? Daar is ‘n eenvoudige rede hiervoor – baie van die waters wat uit die Geesvervulde persoon se binneste vloei, is duidelik die oerbronne van God wat deur Hom oopgemaak is/word. Onthou hoe Jesus dit in Joh. 7:-39 verduidelik het: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” Dus is daar baie suiwer water van die Gees wat uit gelowiges vloei, maar ‘n bietjie bitter water maak helaas AL die waters bitter. Eweneens – ‘n bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.
Die oorspronklike primordiale waters wat ons was, was duister. In Gen. 1:2 lees ons die “duisternis was op die wêreldvloed”. Paulus verduidelik in Ef. 5:8 – “Want vroeër was julle duisternis …”, letterlik dan soos Ps. 18:11 dit noem: “duisternis van waters”. Maar, na ons wedergeboorte is nie alle waters wat uit ons binneste kom egter gekontamineer nie.
Dwarsdeur die boek Númeri word daar byvoorbeeld simbolies gepraat van “die water van bitter smart wat die vloek bring” (byvoorbeeld in Num. 5:18, ook verskeie ander plekke). In 2Kon. 19:24 word dit as “vreemde waters” voorgehou; “die skimme is beangs onder die waters”, berig Job 26:5. Dan kry ons ook “groot, geweldige waters” (Ps. 93:4), “trotse waters” (Ps. 124:5), asook “‘n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie” (Jer. 15:18). Om te sien dat dit nie fisiese waters is nie, maar simbolies, spreek Eks. 7:19 van “die waters van die Egiptenaars”, al “hulle strome, hulle kanale, hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke van water” wat bloed geword het. Later weet ons toe Aäron sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek het, het daar “paddas opgekom” (Ex. 8:6) – alles simbolies van gekontamineerde waters IN ons. (In Op. 16:13 word daar gepraat van “onreine geeste soos paddas”.) Met Eseg. 32:2 as agtergrond, word dit onteenseglik simbolies of tipologies aangebied: “En jy was soos ‘n draak in die groot water, en jy het uitgebreek in jou strome en die waters geroer met jou pote en die strome daarvan troebel gemaak.” (Dit word ook oor die Farao in Egipte gesê.)
Telkens bid die psalmdigter (soos in Ps. 69:2): “Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom.” Die wedergebore mens kan weliswaar in die woestyn verdrink! ‘n Mens moet vra, soos in Job 22:11 – “Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?”
Dit is eers teen die amperse einde van die Bybel, in Open. 17:15, waar die geheimenis van die gekontamineerde waters uitgespel word – “En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.” Daar is ‘n boosheid wat in/op hierdie duisternis se waters sit, en dit is wêreldse korporatiewe wat deur die hoer van Babilon beheer word.
Onthou, die hoer van Babel/Babilon is die teenpool of rimmah van die Bruid van Christus, die vrou van die Lam. Sy is die hoer van die wêreldse koninkryke, die korporatief van al die rimmahwoorde, wat deur/in die simboliese stad (wat die hele aarde voorstel) as slawe aangehou word. In die begin van Op. 17 word dit soos volg omskryf: “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.” (verse 1-2). In vers 3, presies analoog aan Op. 21:1 waar dit handel oor die Bruid van Christus, word Johannes as virtuele toergids van hierdie roepingspad wat elkeen van ons in Christus moet loop, “in die gees weggevoer na ‘n woestyn”! Dit is hier, in die woestyn, waar die bitter kruie van die rimmahwoord jou kom besoek.
Ons sal eers later in die Manna in groter besonderhede by die hoer van Babilon uitkom. Maar dit is belangrik dat ons nou sal besef – die besoeking van die Lamp/Ster van God wat op van die waterweë geval het en dit gekontamineer het, is God gewil, juis om ons te verlos van die bitterheid! Daar is ‘n duidelike belofte dat die “waters sal gesond word” (Eseg. 47:9)! Onteenseglik word hierin iets van die herstel van die wedergebore mens se oorspronklike skeppingsdoel ontsluit, die ontvouing van die simboliese terugtog na die oorspronklike, die herstel na die gelykenis van die Vader, soos dat ‘n seun na sy vader lyk, of die mens wat na God se gelykenis geskape is.
Verlede week se Manna is afgesluit deur ‘n paar verwysings uit die piktorale Hebreeus te haal rondom die geheimenis van die bitter kruie wat saam met die ongesuurde brode en die lamsvleis geëet moes word. Die woordjie bitter word verklaar op ‘n paar baie veelseggende wyses.
- Allereers: dit is ‘n samestelling van twee prentjies: water + die hoof, met ander woorde: die Hoof van primordiale waters. Die mettertydse reiniging van die primordiale waters veronderstel dan ook dat die kontaminasie in die voortyd plaasgevind het. Sou dit dan enigsins kon veronderstel dat die Hoof ook bitter moes wees, oftewel dan ook noodwendig deur die bitterheid van die Liggaam gekontamineer gewees het? Die antwoord op hierdie vraag het enorme implikasies vir die dieper en omvangryker verstaan van die verlossingsrol wat Jesus gespeel het ten opsigte van die Christus. Maar ons sal dit eersdaags in ‘n volgende aflewering dek.
- Die woordjie ‘bitterheid’ word ook etimologies aan die begrip rebellie Die Skrif wat hiermee saamgaan, is die belangrike uitspraak in 1Sam. 15:23 (DBY) – “For rebellion is as the sin of divination, And selfwill is as iniquity and idolatry. Because thou hast rejected the word of Jehovah, He hath also rejected thee from being king.” Een van die belangrikste Ou-Testamentiese prototipes van die gees van rebellie, is Korag. Hy word byvoorbeeld in die Nuwe Testament voorgehou in die boek Judas as die tipe van almal “(whom) destroyed themselves in Korah’s rebellion” (vers 11, ISV-r). Hierdie kort brief van die apostel Judas, die broer van Jesus en Jakobus (Jud. 1:1; Gal. 1:19), is ‘n baie belangrike riglyn rondom “ons gemeenskaplike saligheid” (vers 3). Hierdie frase is van enorme belang, want dit beskryf ook die grondslag van ons kollektiewe val in die vleesmens, tipologies genoem “die eerste Adam”, wat herstel moet word tot die kollektiewe opstaan (Ef. 5:14) in Christus, “die laaste Adam” (1Kor. 15:45). Hieroor sal ons ook uitvoerig verslag moet doen, en dit sal die geskiedenis van Korag in Num. 16 spesifiek weer onder die loep moet neem.
- Die derde betekenis waarmee bitter volgens die piktorale Hebreeus gekoppel word, is: “To pay the price for a wife.” Op hierdie stadium behoort die noulettende Mannalesers die kop in totale geloof te skud soos wat ons hierdie narratief van misterie voor ons sien ontvou! Ons begin in hierdie enkele verhulde woordjie ‘n wonderbaarlike geskiedenis sien ontvou! Die val van die kollektiewe Adam word onteenseglik gekoppel aan die Lam wat die hoogste prys betaal het om sy geliefde, die vrou van die Lam (Op. 21:9), vry te koop. Die hoogste prys was wel dat Hy sy lewe vir haar gegee het: “die Seun van die mens (het) … om … sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Matt. 20:28). Maar – Hy het veel meer afgelê, of prysgegee – Hy het ook sy heerlikheid verloor: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” Dis eenvoudig om te verstaan – die vrou is die heerlikheid van die man (1Kor. 11:7). Toe die vrou verkeerd kies, en in rebellie val teenoor God, het die man noodwendig óók moes val, soos 1Tim. 2:14 dit stel: “Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.” Inderdaad is dit waar wat Luk. 19:10 so mooi sê: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” Hierdie waarheid is aardskuddend!
- Die vierde betekenis van bitter is “an archer: one who shoots an arrow”! Ons hoef op hierdie stadium nie die betekenis van die woordjie sonde uit te wys nie – dit beteken om jou merk te mis, soos die AHLB dit mooi verduidelik: “Sin: When shooting an arrow or other object to a target, the distance that one misses is measured with a cord. The wrong actions of one are also measured against the correct action.” Jesus is dus die Boogskutter wat die Bruid moet begelei in die skiet van die pyl na die ewigheid. Onthou die profetiese aksie wat Elísa en sy geestelike seun, Joas, moes doen: “Verder sê hy: Maak oop die venster na die ooste toe! En hy het dit oopgemaak. En Elísa sê: Skiet! En hy het geskiet. Toe sê hy: ‘n Pyl van oorwinning van die HERE … ‘n pyl van oorwinning …” (2Kon. 13:17). Onthou – “ooste” se wortelwoord is qêdmâh, of dan: voortyd!
- Die voorlaaste betekenis is “‘n welriekende geur”. Onthou die hele gesprek in ‘n paar Mannas terug, spesifiek Dag 1666, waar dit uitgespel is: DIT is die rol van die lieflike geur – om aan alle mense en volkere die Christus te demonstreer, as Hy Hom IN ONS as die Heilige sal laat ken! Dít kan net gebeur deur jou rhema-identiteit in Christus. Ons kom later in groter detail hierby uit.
- Laastens beteken bitter ook: “change, remove, exchange”. Hierdie ontvouende proses, wat in hierdie drie woorde saamgevat word, is die kruks van die inkarnasie van God in die vrou van die Lam.
- Sela: Probeer verwoord wat jy onder die term ‘inkarnasie’ verstaan.
- Lees: 22-30
- Memoriseer: 22:5 (hoe Goddelik is hierdie sinchronisasie nie! Sien ook Jud. 1:11.)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Gees van Rebellie