Dag 1690-1692

 

“die openbaring van die verborgenheid”

(Rom. 16:25, OAV)

Verlede week het ons afgesluit met Asaf se uitspraak in Ps. 78:1-2: “My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond. Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.” Dit is geweldig belangrik om te besef dat die woordjie woord hierin is ’ēmer, wat ook transgelitereer in Grieks dui op rhema. Dít wat Asaf uit die voortyd laat stroom, is letterlik die verbindingstroom of sinergie van die interaksie tussen die hemele en die aarde. Nie vreemd nie, het ons toe gesê, dat Asaf se naam in Hebreeus: “collector” (Strong) beteken . Hy word ‘n Ou-Testamentiese prototipe van die profetiese stroom wat al die woorde van God versamel en in die Gees “stream”. Die leer van woorde (soos Jakob s’n – Gen. 28:12) tussen hemel en aarde, waarbinne die boodskappers van God beweeg, is as voorbeeld hiervan voorgehou. Hierdie is ‘n baie kragtige beeld van die “kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!” (Ps. 103:20). Die volgende vers, vers 21, sê: “Bless ye the LORD, all ye his hosts; ye ministers of his, that do his pleasure.”

Daar is streng gesproke nie ‘n verskil tussen die dienaars en hul woord nie. Die engel/boodskapper is ook die boodskap. Die “ministers” is onteenseglik ook hul “ministry”. As elkeen in die Bruid dan funksioneer as versamelaar (dit wat Asaf se naam beteken), maak hulle strome van lewende water oop uit die voortyd, en daardie waters laat spreuke, raaisels uit die voortyd stroom.

Dit was bepaald ook Jesus se manier van praat, en dit word in die Nuwe Testament spesifiek gelykenisse genoem. In Matt. 13:35 word die rede daarvoor soos volg uitgespel: “sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.” Raaisels, poësie, parabels, kriptogramme, spreuke, verdigtings, geheimenisse, puntdigte, alle vorme van metaforiese taalgebruik, personifikasie, tipologie, en so meer, is die vaartuig om “die openbaring van die verborgenheid” (Rom. 16:25) gestalte te gee. Daarby sou mens die gematria van die brontale kon voeg, met ander woorde die syferbetekenisse van letters wat simboliese assosiasie het, interpretasiesisteme soos die kabbala en die alchemie, selfs die wetenskap, maar ook komposisiemeganisme en stilistiese elemente van taal en wiskunde waardeur daar versweë waarhede gekommunikeer word. Op die keper beskou gaan dit ten diepste oor die hermeneutiek van die ongesêde.

‘n Term uit die filosofie en teologie wat vir hierdie komplekse informasiesisteem gebruik word, is ‘n takserende benoeming van God: Deus Absconditus, oftewel: The Hidden God. Dit is dikwels ‘n probleemaspek van die Christelike leer, veral vir ateïste en agnostici, maar ook vir opregte gelowiges wat dit baie moeilik vind om God te hoor en te beleef, en derhalwe sukkel om in verhouding met ‘n onsigbare Wese te kom. Hoekom sal God dan sy kenbaarheid versteek, en waarom is sy ‘handboek’, die Bybel, op die oog af kompleks, nie kohesief (samehangend) en eenvoudiger nie?

‘n Uitspraak soos dié wat Jesus maak in Matt. 10:39, maak dit duidelik dat baie van wat Hy sê meervoudig geïnterpreteer kan word, dubbelsinnig is, nie eenvoudig abstraheerbaar is nie, baie betekenislae het, nie netjies verpak kan word in helder universele verklaringe nie: “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.” Of die uitspraak teenoor Nikodémus in Joh. 3:8 – “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.”

Alle profetiese proklamasies en simboliese taalgebruik in byvoorbeeld apokaliptiese Bybelboeke (soos Daniël en Openbaring), die gebruik van allegorieë (Gal. 4:24; 2Sam. 12:2-4; Pred. 12:2-6), dra altyd semantiese obskuriteit met hul saam. Dit dra onteenseglik daartoe by dat ons “sien … deur ‘n spieël in ‘n raaisel” (1Kor. 13:12) en dat dít ons slegs ten dele laat ken. ‘n Mens kan inderdaad soos Jes. 45:15 sê: “Waarlik, U is ‘n God wat U verborge hou …”

Maar – Deut. 29:29 maak ‘n belangrike uitspraak en verbandlegging in hierdie verband: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.” Die Apostolic Bible Polyglot, wat die Hebreeus in Grieks translitereer, vertaal “woorde” in hierdie vers as rhema! Ons het al vroeër in die Manna daarna verwys dat die wet, of Tien Gebooie, ook as die woorde van God bekend staan. Sien dan in dat die Ou-Testamentiese wet van God tipologies beskou kan word as die konglomeraat van rhemawoorde, of dan die Liggaam van Christus, oftewel: Sion. En onthou, soos Heb. 12:22 uitspel: “Maar julle het (reeds) gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem …” Die Bruid het nie net by Sion gekom nie; dit personifieer haar insgelyks, soos ons weet uit Op. 21: 9-11: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad …”

Daarom kan daar so duidelik uit Miga 4:1-2 profeties verstaan word dat die Bruid van Christus die wet word in die nuweverbondse voleindiging: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Bedink vir ‘n wyle hierdie ontsaglike waarheid!

Terug by Deut. 29:29 – om in staat te wees om in die volheid van ons rhemawoorde te kan loop, en om die God-gesanksioneerde outoriteit te kan uitoefen wat as standaard of benchmark [maatstaf/model/norm/kriterium/voorbeeld/spesifikasie/voorskrif/vereiste/reël /riglyn/patroon/beginsel] sal geld, moet die Bruid die verborge dinge van die HERE uitvind sodat dit geopenbaar mag word. Weliswaar is dit soos Ps. 25:14 dit stel: “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” Soos in Dan 2:22  is dit verseker dat as jy Hom soek, sal Hy die ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar – “Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.”

Dit is baie interessant dat die Skrif stel dat die lig by God woon, en nie andersom nie! In 1Tim. 6:16 verwoord Paulus dit egter andersom, naamlik dat Hy “‘n ontoeganklike lig bewoon”. Dit noop ‘n mens om dan te gaan kyk na die Arameense oorsprong van wat in Dan. 2:22 vertaal is as “woon”, en tot jou groot verbasing besef jy dit beteken eintlik “unravel”, maar ook “commence” (Strong). Dus, daardie vers sou veel beter vertaal kan word met: “en die lig begin by Hom ontvou”. Die BDB hou die volgende sinonieme voor: loosen, abide, begin, open. Met die laaste sinoniem is dit nou duidelik wat Ps. 119:130 beteken: “Die opening van u woorde gee lig …”

Terug na 1Tim. 6:16, wat dan verklaar waarom die onbepaalde lidwoord ‘n gebruik word, en nie die bepaalde lidwoord die nie. Dit gaan hier nie oor die feit dat God as sodanig in die lig woon nie, die lig woon in Hom, want Hy IS lig (1 Joh. 1:5). As daar gepraat word van “’n ontoeganklike lig” wat Hy bewoon, dui dit onteenseglik op ‘n ontoeganklike rhemawoord! God is immers die Vader van die ligte (Jak. 1:17), die Vader van al die rhemawoorde! In Fil. 2:15 word van die seuns van God gepraat as “sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld”. Amen. Dus, begin Hy die lig van jou rhema-identiteit unravel, verklaar, uitspruit, ontvou. Hoe meer die openbaring word, hoe meer word die lig. Sodoende word “insig vermeerder” (Spr. 1:5), want dit is waar – “alles wat openbaar word, is lig” (Ef. 5:13). Ja, “Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir ‘n tyd in sy lig te verbly.” (Joh. 5:35).

Hierdie lig wat geopenbaar word, is die lewe in oorvloed! Joh. 1:4 staan nou vas: “In Hom (is) lewe, en die lewe (is) die lig van die mense.”  Kyk na hierdie salige verband wat Kol. 3:4 dan laat ontvou: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Jesus vermeerder in die Christus IN die Bruid!

Bepaald dan, soos Op. 21:23 dit uitspel: “die heerlikheid van God het hom (= die nuwe Jerusalem, die Bruid, Sion, die Liggaam van Christus) verlig, en die Lam is sy lamp. Maar elke lampie met olie (Matt. 25:4) is ‘n rhemawoord van die Gesalfde, Christus. Al daardie lampies saam, vorm die Lamlamp!

Op. 18:23 bring die lamp in verband met die stem van die Bruid en die stem van die Bruidgegom, en 2Pet. 1:19 assosieer dit met “die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte”! Violá! En hiermee is die wentelbaan van die ster waaroor ons tans skryf volgens die gedeelte in Op. 8:10 wéér wonderbaarlik voorop: “En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n LAMP brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine.”

Besef net vanuit Ef. 5:8 – “vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here”. Ons het substans of beslag aan die duisternis gegee. Jesus wys die paradoks hiervan mooi uit in Matt. 6:23 – “As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” In die donkerheid, in die duisternis WAT ONS WAS, het daar ‘n lig opgegaan. Jes. 60:1-2 hou dit profeties voor: “die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.”

Nou moet ons net weer Miga 4:1-2 voorhou, om die heerlike volvoering van alle dinge hierin gedemonstreer te sien: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”

Dis onteenseglik die waarheid wat in Spr. 17:8 staan: “die wat my soek, sal my vind”, maar bepaald met die kwalifisering van Jer. 29:13 – “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” Dit beteken veral dat dit nie ‘n halfhartige soeke is nie; dit is gedetermineerd, met ywer en kennis (2Kor. 8:7; Spr. 19:2; 2Pet. 1:5). Onthou  Deut. 4:29 – “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.”

“Soek in die boek van die HERE en lees!” (Jes. 34:16). Soos wat die hermeneutiek van die ongesêde al hoe meer oopdek wat verborge is oor ons individuele lewens in Christus, hoe meer kry Kol. 3:3 IN ONS beslag: “julle lewe is saam met Christus verborge in God”. Die soeke na die profetiese môrester wat in ons harte opgegaan het, bring die magi, die sterrelesers en die wyse manne, diegene geskool in die grammatika van die Gees, om al die tekens te kan lees van waar die Gesalfde ‘n huis gevind het.

  • Sela: Begin jy die korrespondensie sien tussen rhema en rimmah?
  • Lees: 6-14
  • Memoriseer: 14:14 (hoe Goddelik is hierdie sinchronisasie nie!)
  • Delf dieper: Lees Carl A. Raschke se The Alchemy of the Word: Language and the End of

       Theology.