“die openbaring van die verborgenheid”
(Rom. 16:25, OAV)
Die laaste Manna wat afgelewer is, beskou ek as die persoonlike hoogtepunt van alles waartoe die Manna die afgelope bykans 12 jaar opgebou het. Dit bou letterlik op, soos Dan. 9:25 dit noem, “tot op ‘n Gesalfde”! Hierdie “openbaring van die verborgenheid” (Rom. 16:25) behels ‘n ontsagwekkende sleutel tot die oopmaak van wat nog tot dusver ongevind/geberg /toegemaak/verhul/geslote was, en die roeping wat op die rhemawoorde van God gelê is om dit te ontsluit.
Om die ekstrak wat in die vorige drie Mannas oorgedra is net in ander woorde te probeer parafraseer uit ‘n ander perspektief, sodat ons opnuut ‘n aanknopingspunt het ten opsigte van die proses waardeur ons ons Goddelike identiteit van die voortyd kan probeer peil: Die grondwaarheid ten basis van hierdie proses is dat elke gelowige wat God met sy hele hart soek, Hom sal vind (Jer. 29:13). Die proses waardeur ons Hom vind, is dikwels net totaal anders as wat ons tradisioneel verstaan het.
Ons weet nou al dat die Skrif sê dat daar niemand is wat God soek nie (Rom. 3:11); ons “soek nie die HERE van die leërskare nie.” (Jes. 9:13). As ons Hom dus begin soek, is dit omdat Hy ons eerste kom soek het – “Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ‘n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek! Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan …” (Jes. 65:1). Let op die dwingende herhaling van “Hier is Ek!”, wat die dringendheid van God se begeerte om gevind te wil word, onteenseglik uitspel.
Hierdie ontsagwekkende waarheid bemoedig en oorweldig ‘n mens. Voordat ons as embrios in die moederskoot Hom enigsins kon ken, het Hý ons geken. Ons het Hom nie gekies nie; Hý het ons uitverkies (Joh. 15:16). Omdat Hý ons eerste liefgehad het, kan ons nou leer om Hom lief te hê (1Joh. 4:19). Voordat ons roep, antwoord Hy reeds (Jes. 65:24).
As die psalmdigter oor hierdie waarheid uit sy diepste wese in verwondering uitroep, sê hy nie nét dat die Goddelike totstandkomingsproses wonderbaar is nie, maar ook dat ons, as die gesalfde geliefde, wonderbaar is (Ps. 139:14): “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!” Die herhaling hier (al is dit van twee woorde in Hebreeus wat nou verwant is, dog effe verskil) dui daarop dat die Wonderbaar tot die wonderbaar spreek en van sy wonderbaarlikheid in ons openbaar. Daarsonder sal niemand, niemand kan leef nie! Sy toegespitste aandag en sorg, sy noulettende inweef (Ps. 139:13 & 15) van Sy wesensaard in dit wat Hy skep, ontvou die potensiaal om reseptief te wees vir dit wat Hy is, en wil deel, in die totstandkomende wesensaard van die mens. As die detail van die uiterlike of vleeslike mens so ryk en geskakeerd, fyn in besonderhede en sprekend van intelligente ontwerp is, hoeveel te meer moet die detail van die innerlike of geestelike mens dan nie wees nie!
Skepping impliseer noodwendig doel (purpose). Anders as wat die evolusioniste ons wil laat verstaan, is die mens en die ganse skepping nie ‘n toevalligheid, of die ontvouing ten grondslag van ‘n fout in die natuurlike of biologiese geskiedenis nie. Ons is gelukkig nie die produk van ‘n sinlose proses nie. Die Bybel se klem op die Logos-aard van God plaas nadruk op die feit dat die getuienisse van die mens en die ganse heelal geensins verstandloos is nie. Stephen J. Gould maak hierdie ontsaglike belangrike stelling in sy boek Ever Since Darwin: “Biology took away our status as paragons created in the image of God.” (pp. 216-217). Die woordjie paragon moet net effe toegelig word: “a person or thing regarded as a perfect example of a particular quality, a person or thing viewed as a model of excellence”.
As gevolg van hierdie toegewyde skeppingsaksie van God se kant af, word die gebroke en onvolmaakte mens gereed gemaak om God enigsins te kan soek, met die onmoontlike standaard wat Jesus stel in Matt. 5:48 – “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Dawid het hierdie proses van onsekere terugtasting na God toe goed geken. Kyk hoe raak beskryf hy dit in Ps. 27:7-8: “Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE!” In Jes. 26:9 word hierdie lied van die soekende mens só verwoord: “Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U …” [Lees ‘nag’ hier as onkunde, geen insig, primitiewe en natuurlike openbaring.]
Soos wat daar lig en lewe, soos ‘n lamp, in die mens aangesteek word, soos wat die môrester in sy hart opkom, soos wat wysheid en openbaring in kennis van Hom (Ef. 1:17) vermeerder, word die innerlike fontein van Gees en goddelike identiteit en natuur oopgeslaan, en begin die mond en die geesdimensie roep na God, “deep calls unto deep at the voice of thy waterspouts” (Ps. 42:7, JUB).
In Rom. 8:26 verduidelik Paulus dat die Gees van God uit ons geesdimensie oorneem, daar waar ons dikwels nie verstaan wat om te bid, te vra, of te petisie nie. As daar staan: Hy kom “ons swakhede te hulp”, beteken dié woordjie in Grieks baie dinge, maar dit kan veral ook volgens Thayer beteken “(failing) to understand a thing”. Ons kan dus met die verstand bid (1Kor. 14:15), maar die tipe gebed waarvan hier gepraat word IN ONS word DEUR GOD SELF GEÏNISIEER, sonder dat ons deur wie dit geskied, altyd rasioneel verstaan. Wat ons net moet weet, is dat ons vir ontdekking ontwerp is. Sela asseblief net vir ‘n oomblik oor hierdie grondverskuiwende stelling. Die mens is sódanig ontwerp dat die ontdekking van die nimenieuse IN ONSSELF ‘n noodwendigheid is.
Die nimenieuse is ‘n begrip wat kom uit die teologiese beskouing van die Godsman Rudolph Otto. In sy boek: The Idea of the Holy munt hy hierdie Latynse frase om die begrip, die nimenieuse, toe te lig: Mysterium tremendum et fascinans, wat kortweg beteken: fearful and fascinating mystery. God het dit só beplan dat ek en jy in onsself die fearful and fascinating mystery ván onsself sal ontdek. Hierdie transendensie word deur die Gees van God gefasiliteer. Sela.
John V. Taylor, in sy openbarende boek: The Go-Between God, maak die volgende belangrike uitspraak oor die Heilige Gees: “Ons kan nooit regstreeks van die Gees bewus wees nie, aangesien Hy in alle ervarings van ontmoeting en herkenning altyd die tussenganger is wat bewustheid skep.” (p. 43, vry vertaal.) Hierdie bewustheid (logos, in die wydste moontlike sin gebruik) word altyd deur die Gees van God as Tussenganger bestuur en begelei. Philip Yancey, in sy uitmuntende, deurtastende boek: Reik na die Onsigbare God, sê: “Die Gees is waarmee ons waarneem eerder as Wie ons bespeur.” (p. 140). Amen.
As die Gees vir ons intree (“maketh intercession – KJV; “makes our petitions” – NJB), bid Hy die ordelike, komplekse en presiese bloudruk van God in ons lewens. Die Douay-Rheims-vertaling stel dit mooi: “The Spirit is said to ask, and desire for the saints, and to pray in us.” Dit geskied deur die “onuitspreeklike sugtinge”. Dít korrespondeer onteenseglik met wat Paulus probeer verduidelik in 2Kor. 12:4 oor “unspeakable words” wat in die Paradys gehoor kan word, “too wonderful to tell” (CEV), “which are not possible for man to utter” (GEN), “so astounding that they cannot be told” (NLT). Hierdie ongestaltegegewe woorde is rhemawoorde! Die oopmaak (“entrance to disclosure”) van hierdie identiteitswoorde bring lewe en lig: “The entrance and unfolding of Your words give light; their unfolding gives understanding (discernment and comprehension) to the simple.” (Ps. 119:130, AMP). Jou unieke rhemawoord laat jou Goddelike identiteit wonderbaarlik ontvou.
Rom. 8:27 sê dan dat God, “wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree”. Die “bedoeling van die Gees” is eintlik swak vertaal – dit moet wees: “(God knoweth) what is the mind of the Spirit” (KJV).
As ons weet dat die “onuitspreeklike woorde” wel rhemawoorde is, is die vraag: hoe word hierdie “duister” woorde deur die verstand van die Gees IN ons vertaal of verstaan. N.P. van Wyk Louw beskryf hierdie heilige proses van transendensie soos volg in sy gedig: ‘Grense’, die openingsgedig van sy debuutbundel Alleenspraak:
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
Die genadeontvangs van jou rhemawoord, of dan: jou woord in God se gedig, laat alle huiwering, vermoedens, drome, wense, die somtotaal van ons soeke, kulmineer in ‘n transendensieproses waardeur God, soos met Asaf, jou unieke onderdeelgeheel van Christus uit die voortyd laat stroom (Ps. 78:1). Dit word letterlik die verbindingstroom of sinergie van die interaksie tussen die hemele en die aarde, en daardeur word strome van lewende water uit die voortyd oopgemaak, en daardie waters laat spreuke, raaisels uit die voortyd stroom, sodat daar algaande ‘n al hoe dieper manifestasie kan kom van hierdie fearful and fascinating mystery.
Hierdie proses van logoserende bedenksels kan amper onmoontlik in verstaanbare taal omvat word. Van die psigolinguis, Lev Semyonovich Vygotsky, het ons geleer dat taal en denke die twee kante van dieselfde munt is. Jy kan geen denke hê sonder taal nie, en ipso facto geen taal sonder denke nie. Om hierdie rede is alle denke of fasette van Logos ten nouste aan taal gekoppel. Maar omdat taal ons faal, en duister woorde flikker om die grense van ware bewussyn, moet daar ‘n proses gestalte kry wat in en deur die hermeneutiek van die ongesêde ontdek word. As die Heilige Gees deurgaans hierdie proses tot transendensie rig, sal ons die “dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35) kan leer karteer, en in staat wees om “die verborge dinge” te bring tot “geopenbaarde dinge”. Dit beteken dat ons in staat sal wees om in die volheid van ons rhemawoorde te kan loop, en om die God-gesanksioneerde outoriteit te kan uitoefen wat as standaard of benchmark sal dien. Waarlik – “Die opening van u woorde gee lig …” (Ps. 119:30). Soos die lig van jou rhema-identiteit ontrafel word, verklaar word, uitspruit, dinge laat ontvou, hoe meer die openbaring word, hoe meer word die lig IN JOU. Waarlik, die waaragtige lig wat elke mens verlig, is aan’t kom in die wêreld.
Op die keper beskou – daar is ‘n soeke na ‘n deurbraak in onbegrensde ruimtes; dit wat daar is, word gedefinieer deur dit wat nié daar is nie. ‘n Mens soek tog dit wat jy nie het nie. En die geestesgoedere wat jy soek, is nie altyd definitief omlyn en seker en vas nie – dit huiwer om die bewussyn, en dit vra bewyssyn. Die dromende denke is meermale die baarmoeder van die onmoontlike wat vra om gebore te word. Nie dat ‘n mens jou met die wensdenkery van begeerte en verbeelde dinge wil bemagtig nie, maar daar is ‘n proses om te gaan soek sonder om te weet waarna, en te vind sonder dat jy weet wat jy presies gevind het.
Die verdigter Breyten Breytenbach het dít, gepas, die wonderbaarlikste genoem, bes moontlik sonder om te weet van Salomo wat in Spr. 30:18 praat van: “Drie is dit wat vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie.” Hierdie Wonderbaar wat ons in ons soeke ontdek, is die onverwagte verskyning van die onpeilbare Oorsprong self, ook IN ons en in ons omstandighede. In Jes. 9:6 word daar oor Hom geprofeteer: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—” Die allereerste Naam of Identiteit wat Hy dra, is dié van Wonderbaar. In Hebreeus is die woordjie daarvoor pele’, wat twee dinge beteken: (1) “wonderful”, maar ook (2) “incomprehensible” (The Complete WordStudy Dictionary).
Daar is ‘n mooi voorbeeld in die Ou Testament in Rigt. 13 wat hierdie identiteit van Wonderbaar illustreer,. Daar was ‘n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie. Maar die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en ‘n seun baar. Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: ‘n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy my nie meegedeel nie. En Manóag het tot die HERE gebid en gesê: Ag, Here, laat tog die man van God wat U gestuur het, nog ‘n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word. En God het geluister na die stem van Manóag, sodat die Engel van God nog ‘n keer na die vrou gekom het terwyl sy in die veld sit en haar man Manóag nie by haar was nie. En die vrou het haastig geloop en haar man dit vertel en vir hom gesê: Kyk, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my gekom het. Toe staan Manóag op en loop agter sy vrou aan, en hy kom by die man en vra hom: Is U die man wat met dié vrou gespreek het? Toe sê Hy: Ja. Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die HERE was nie. Daarop vra Manóag die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom? En in vers 18 sê die Engel van die HERE vir hom: “Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?” (die byvoeglike naamwoord pil’ı̂y, waarvan die wortelwerkwoord pâlâ’ is. Eersgenoemde Hebreeuse woord kan ook “secret” beteken!) Kyk dan nou wat staan in vers 19 en 20: “Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die HERE terwyl Hy wonderbaarlik (weer pâlâ’) handel voor die oë van Manóag en sy vrou: toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.”
Benewens die feit dat Wonderbaar “extraordinary, incomprehensible” (BDB) dinge doen, doen Hy ook dinge wat geheim en verhul is. Om die onvrugbare vrugbaar te maak, om te transmuteer in ‘n vlam en van die altaar op te styg, is onteenseglik wonderbaar. Maar dit dui terselfdertyd op die feit dat Wonderbaar jou kom soek en Homself aan jou openbaar. Alhoewel Hy verhul is, is sy kommunikasiemetode om te transendeer, en om te inkarneer.
Staan net vir ‘n oomblik vas by hierdie waarheid – die soeke na God soos ons dit hierbo, ook in die vorige stel Mannas, beskryf het, word gelei of gerig deur Goddelike transendensie tussen hemel en aarde, tussen die geestelike realm en die fisiese realm, tussen die onsienlike en die sienlike, tussen ewigheid en tydelikheid, tussen kairos en chronos, tussen God en mens. Daardie transfigurasie is wonderbaarlik en die wesensaard van Wonderbaar. Tydens die besoek word daar wonderbaarlik identiteit en Goddelike natuur oorgedra (imparted). Die dieper manifestasie van hierdie fearful and fascinating mystery is ons volgende opgaaf.
- Sela: 1:9 was oorspronklik geskryf oor Jesus, maar ons kan dit nou verstaan in die lig van
die Christus. Ondersoek hierdie stelling.
- Lees: 15-21; Rut 1-4
- Memoriseer: 15:1 (probeer hierdie vers tipologies verstaan in die lig van hierdie lering)
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.