Dag 17

 

“Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”(Spr 14:12, OAV).

Geloof en gehoorsaamheid is die ritme van jou voetstappe as jy stap op die Weg. Daar is egter ‘n geweldige hoeveelheid miskonsepsies rondom die begrip geloof. Geloof is, byvoorbeeld, nooit blind nie – geloof moet altyd gebaseer word op dit wat God gesê het. Jy kan nie net blindelings iets uit die lug gryp (miskien omdat jy dit baie graag wil hê en dan die charismatiese cliché prewel: Ek staan in geloof dat God …) Dít is blinde geloof, en dwaas.

Baie gelowiges eien hulle ook links en reg beloftes toe wat in die Bybel staan. Elke belofte het ‘n voorwaarde. En boonop: jy moet dit persoonlik van die Here kry, of die voorwaardes wat Hy stel nakom, alvorens jy dit kan toe-eien. Die blote feit dat dit in die Woord geskryf staan, maak dit nie noodwendig dat jou aanspraak daarop God se arm moet draai om dit te laat gebeur nie. Byvoorbeeld: ons haal dikwels Rom 8:28 aan as daar iets slegs met ons gebeur het, en dit troos ons: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk”. Ons eindig die aanhaling dan  dikwels net daar. Hierdie tipe geloof is ‘n cop-out, want ons lees nie die laaste deel van die sin nie: “vir hulle wat na sy voorneme geroep is”. Dus: nét as jy in jou skeppingsdoel loop, in geloof en gehoorsaamheid, werk alle dinge ten goede mee. Mense daarbuite kan nie daarop aanspraak maak nie, al staan dit in die Bybel.

Omdat mense nie hierdie waarheid verstaan nie, is hulle dikwels teleurgesteld, ook in God, want Hy het nou kwansuis nie deliver nie, al het ons in geloof daarop gestáán. Maar Hy het dit eintlik nooit gesê nie. Daarbenewens: God stuur ook soms ‘n leuengees na ons toe as ons tot Hom nader met ‘n voorskriftelikheid of ‘n eiesinnige begeerte in ons hart wat ons ten alle koste wil laat gebeur (1 Kon 22:22; Eseg 14:4; Ps 18:25-26 in OAV). Dán kry ons (demoniese) bevestiging, maar dit sal nie realiseer nie. Die doel is om jou te verwar.

Op hierdie pad wat jy gekies het om te loop, is Jesus se woorde in Joh 5:30 die skietlood om ‘n reguit pad te verseker: “Ek kan uit Myself niks doen nie … omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.”   

  

  • Sela: Maak seker of die beloftes waaraan jy vashou nie net blinde geloof  is nie.
  • Lees: Gen 17: Ps 17; Joh 17
  • Memoriseer: Joh 17:3.
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Verkry die beloftes van God.