“… o gérub wat beskut!”
(Eseg 28:16, OAV)
Die vorige Manna was ‘n geweldige sprong vooruit die voortyd, of die ander realiteit, in. Sela. ‘n Enorme openbaring rondom die woordjie ‘woord’ in Grieks het ontvou. Naas logos en rhema het ons ‘n derde moontlikheid ontdek, naamlik die woordjie ‘epos’. Hierdie woord kom veelseggend net één keer in die Nuwe Testament voor, en wel in Heb. 7:9, en derhalwe sal dit ‘n sleutelskrif wees vir die verstaan daarvan. (Ons doen later eksegese van dié Skrif.) Ons het uit primêre bronne oor hierdie woord aangehaal wat verduidelik dat dit ‘n verhulde woord is en intermediêr tussen logos en rhema fasiliteer. Dit word gedefinieer as “a word to speak through”. Epos aktiveer die Goddelike verbeelding om ‘n beeld van dinge of gebeure tot stand te bring wat eventueel ‘n narratief kan vorm, jou persoonlike His Story. Hierdie woordjie ‘woord’ lê klem op absolute individualiteit en identiteit, ten spyte daarvan dat dit uit korporatiewe gemeenplasigheid geweef is.
In sy artikel: ‘Epos as authoratitave speech in Herodotos’ Histories’, noem Alexander Holman elke epos “a coded utterance” (in Greek Literature in the Classical Period: The Prose of Historiography and Oratory, red., Gregory Nagy, faksimilee-uitgawe, ongepagineerd). Met hierdie formulering het ons uitgekom by ‘n misterieuse poort terug na Eden toe, wat terselfdertyd ook die poort deur die voorhangselgordyn van die tempel is. Hierdie poort is duidelik ‘n “coded utterance”.
As die voorhangsel met Jesus se dood geskeur het (Matt. 27:51), en Hy sodoende dit moontlik gemaak het om “op die nuwe en lewende weg [in te gaan] wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees” (Heb. 10:20), beteken dit onteenseglik dat die mensdom die reg moet verkry om wél in die paradys (of derde dimensie) te kan ingaan. As iemand wie Paulus ken, gespesifiseer as “’n man in Christus” – soos 2Kor. 12:2 sê – “weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike (rhema)woorde gehoor het”, dan beteken dit dat die poort tot die paradys moontlik deurbreek kan word, veral as Jesus aan die een man wat langs Hom gekruisig is, sê: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk. 23:43).
Dit is van groot belang dat die Mannaleser sal besef dat dit wat die sleutel hou tot die geslote poort van Eden/voortyd/ander realiteit, waaruit ons uitgeval het, setel in die gestalte van die gérubs. Dit was gérubs met ‘n vlammende swaard wat heen-en-weer beweeg wat die toegang tot die paradys versper het (Gen. 3:24). Daarbenewens was daar in die voorhangsel ook gérubs ingeweef (Ex. 26:31). Maar as ‘n mens die tabernakel of die tempel as die tipologie van die verloste mens sien (weet jy nie dat jy ‘n tempel is nie? – 1Kor. 3:16), is die gérubs as templaat oral te sien:
- “En die tabernakel moet jy van tien tentdoeke maak, van fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk moet jy dit maak.” (Ex. 26:1). Hierdie is dus die eksterne bedekking (“cover”) van die tabernakel waarin die gérubs ingeweef was. Hierdie bedekking word ook deur bronne “’n splendid veil” genoem (Edersheim, Alfred: The Temple: Its Ministry and Services, p. 33).
- “En aan al die mure van die huis rondom, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny.” (1Kon. 6:29). Die binneste en die buitenste vertrek waarvan hier gepraat word, is respektiewelik die Allerheilige en die Heilige, aan welke mure daar menigvuldige ingekerfde gérubs
- “En die twee deurvleuels was van oliewenhout, en daarop het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek, en die goud op die gérubs en op die palmbome ingeslaan.” (1Kon. 6:32). Hierdie is die sogenaamde “double-leaved doors” (soos Jes. 42:2 dit in ‘n ander konteks noem, maar ook deur Edersheim, pp. 33-34 so genoem), en word gevind vóór die voorhangsel, wat gedien het as ingang tot “die binneste” (vers 31). Die AMP vertaal dit soos volg: “For the Holy of Holies he made [folding] doors of olive wood …”
Die gérubs word emblematies bykans oral gevind, ook op die mure, en veral voor die poorte of ingange. Let wel – dit word spesifiek emblematies genoem, want dit is nie iets KONKREETS of REALISTIES nie; dit is ‘n verteenwoordiging van iets anders! Die woord ‘emblematies’ kan vervang word met woorde soos symbolic, representative, demonstrative, suggestive, indicative, en typical. Daarbenewens is ook die gérubs in die Allerheilige (Eks. 15:18-22; 1Kon. 6:23-28), in die tabernakel asook die tempel, bloot mensgemaakte VOORSTELLINGS van hout met goud geplet, en nie ‘n ware wese nie. Dit is óók enblematies. Soos bykans ALLES in die tabernakel/tempel, is ook die gérubs bloot heenwysend na ‘n ander realiteit. Selfs ook die reële items wat teenwoordig is, byvoorbeeld die fisiese offers op die brandofferaltaar, die water in die koperaltaar, die olie en die vlam in die menorah, die brood op die tafel met die toonbrode, die vuurkole en die wierook op die goue altaar, die fisiese kliptafels van die wet, die bakkie met fisiese manna, die fisiese staf van Aäron, en die fisiese bloed van die offerdier wat op die versoendeksel gesprinkel word. Elkeen van hierdie fisiese tekens is ook soos die vervaardigde tekens: die brandofferaltaar, die koperwaskom, die gordyne, die robvelle, die menorah, die altare, die ark van doringhout met goud oorgetrek, die versoendeksel, en so meer, elkeen ‘n voorstelling of heenwyser. Hulle is ALMAL bloot “‘n afbeeldsel en skaduwee” (Heb. 8:5), “a pattern and … a foreshadowing” (AMP).
Al wat nié heenwysend is nie, maar ‘n dramatiese manifestasie is, is die heerlikheid van die Here wat tussen die gérubs op die versoendeksel manifesteer. Maar dit was meer as net die heerlikheid wat gemanifesteer het – “daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê” (Eks. 25:22). Die “saamkom” en “praat” was duidelik nié net met die hoëpriester een keer ‘n jaar op die Groot Versoendag nie; dit was ‘n saamkom met die ganse volk (Ex. 29:42). Die vaste uitdrukking: “God wat op die gérubs troon” kom dikwels in die Skrif voor (bv. 2Sam. 6:2; 2Kon. 19:15; Ps. 99:1; Jes. 37:16). Dit beteken grootliks dat dit ‘n direkte verband het met die troon van God, waar sy heerlikheid en ligglans (Ps. 80:1) manifesteer.
Heb. 9:5 verduidelik dat bo-op die ark van die getuienis was “die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het”. Die AMP parafraseer dit insigryk soos volg: “Above [the ark] and overshadowing the mercy seat were the representations of the cherubim [winged creatures which were the symbols] of glory. We cannot now go into detail about these things.” Ons is weliswaar nóú besig om in die detail van hierdie dinge in te gaan J – dit is bepaald die tyd!
Die enigste geestelik-lewende iets, of Iets dan (by wyse van spreke) in die ganse tabernakel/tempel is die lewende teenwoordigheid van God, of soos God dit self in Lev. 16:2 stel: “Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel.” Hierdie vreemde spesifiek geposisioneerde manifestasie van die heerlikheid tussen die tipologiese/simboliese gérubs maak van hulle ‘n coded utterance, wat duidelik iets verhul, maar ook beskut, en derhalwe bepaald ontsluit móét word.
- Sela: Probeer ‘n verband kry tussen die gérubs en die epos-woord.
- Lees: 28-32; 2Sam. 1-2
- Memoriseer: 31:4 (wat sou hierdie gebeurtenis in die lig van die lering beteken?)
- Delf dieper: Bedink veral die swaard van 1Sam. 31:4 in vergelyking met die gérubs.