“ek merk toe dat dit gérubs was”
(Eseg. 10:20, OAV)
Die voorstelling hierbo van die geweefde gérubs in die voorhangselgordyn wat ‘oopgetrek’ is, sodat die kyker binne-in die Allerheiligste die ark van die getuienis met die gérubs bo-op kan sien, is uiteraard nie Bybelgetrou nie, maar net ter wille van die kyker so voorgestel.
Die voorhangsel het nie ‘n natuurlike opening gehad nie, en boonop kan ‘n mens nie die voorgestelde dikte daarvan sien nie, maar hier lyk dit na ‘n dunnerige gordyn wat oop kan kreukel. Dit was egter glad nie die geval nie. In die bedeling van die tabernakel was die voorhangsel, uiteraard verstaanbaar, nie ‘n baie swaar item nie, want dit moes ‘n mobiele eenheid wees wat in die woestyn maklik opgepak en vervoer kon word. Die tempel se voorhangsel, daarenteen, was ‘n manjifieke muur van ‘n gordyn. Daar is wel nêrens in die Bybel ‘n eksplisiete aanduiding van die dikte van die gordyn nie, ook nie in die beskrywing van die sekulêre historikus van daardie era, Josefus, nie. In sy The War of the Jews gee hy sy eie interpretasie van byvoorbeeld die kleure van die voorhangsel, en wat hy sien as die simboliek van die gérubs “and all that was mystical in the heavens” (5.5.4) wat op die gordyn uitgebeeld is, maar niks oor die gordyn se dikte nie. Alfred Edersheim, in sy boek: The Life and Times of Jesus the Messiah, gee die volgende inligting, waarskynlik verkry uit Talmoed-kommentare: “The Veils before the Most Holy Place were 40 cubits (60 feet) long, and 20 (30 feet) wide, of the thickness of the palm of the hand, and wrought in 72 squares, which were joined together; and these Veils were so heavy, that, in the exaggerated language of the time, it needed 300 priests to manipulate each. If the Veil was at all such as is described in the Talmud, it could not have been rent in twain by a mere earthquake or the fall of the lintel, although its composition in squares fastened together might explain, how the rent might be as described in the Gospel.”
Wat belangrik is om van die voorhangsel te onthou, is dat dit primêr daarop gerig is om iets te bedek. Die feit dat die gérubs boonop ook daarop gejukstaponeer is, en eweneens dui op bedekking (“n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut” – Eseg. 28:14), lê absoluut die klem op die dubbele doelbewuste verhulling. Die woordjie in Hebreeus vir ‘beskut’ is śâkak, wat benewens die voor die hand liggende betekenis het van: “to hedge, fence about, shut in, to block, overshadow, screen, stop the approach, shut off, cover”, ook veelseggend kan beteken: “to weave, weave together” (BDB)! Daar word dus hiermee verskillende sake met mekaar verweef, maar die grondslag daarvan is om sodoende ‘n bedekking daarvan te maak. ‘n Mens kan 1Kor. 2:7 gebruik om die grondslag van die gérubs op die voorhangsel te beskryf: die gérubs wys heen na “wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid”. Amen!
Die feit dat die gérubs deur God oorspronklik daargestel is om die toegang tot Eden te versper/bedek, en die feit dat die voorstelling daarvan op dieselfde wyse toegang tot die Allerheiligste versper/bedek het, skep die indruk dat dít dié wesens se primêre funksie of taak is. In ooreenstemming met hierdie gedagte skryf Jonathan Cahn in sy boek: The Book of Mysteries, dat die gérubs derhalwe die teken is van die verwydering tussen God en mens: “So the sign of the cherubim represents everything that seperates us from God …” (Day 112). Hy vat dit imperatief
só saam teen die einde van sy skrywe: “In Messiah all barriers are gone. Move forward this day in that power, through every veil, wall, seperation, hindrance, and cherubim.” Maar dit is glad nie die regte verklaring nie. Binne die tabernakel asook die tempel is daar oral inwewing- en inkerwingvoorstellings van die gérubs wat NIE geskeur of deurbreek is nie. In die Allerheiligste is daar óók ‘n dramatiese en fokale voorstelling van die gérubs, gemaak van olyfhout en oordek met goud, wat óók nie deurbreek of geskeur word nie; trouens – hierdie beeld is die sametrekkingspunt van waar die heerlikheid van God manifesteer.
Uiteraard was die plasing van die gérubs in die toegangspoort tot Eden nie net ‘n (vreemde) simbool of dooie representasie van Goddelike gesag nie. Daarom is daar deur die eeue allerweë gemeen die gérubs is ‘n spesiale soort engel. Belaglike fisiese voorstellings daarvan het dit voorgehou as naakte, vet seuntjie-engeltjies (wat baie lyk soos die Cupido-figuurtjies in die Griekse mitologie). Ten spyte daarvan dat sommige bronne die gérubs beskryf as verskriklike wesens wat gevrees moet word, dui dié uiterstes in die teenstrydige verklaring van hul wesensaard eintlik eerder op die groot verwarring, en misterie, wat daar heers oor wat presies gérubs is.
Wat die gérubs nog meer merkwaardig en kompleks maak, is die feit dat daar in die Israel-kultus ‘n eksplisiete verbod op die maak van enige beeld was. In die Tien Gebooie word dit onomwonde só uitgespel: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.” (Ex. 20:4). In Deut. 4:23 word dit eweneens sterk vooropgestel: “Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie—’n gelykenis van enigiets wat die HERE jou God jou verbied het.” Waarom dan sal God die maak van hierdie beeld enigsins gebied asook noukeurige instruksies gee vir die vervaardiging daarvan, soos Hy wel met Moses gedoen het in Ex. 25:18-22?
Daar kan net één rede hiervoor wees: die voorstelling of beeld van die gérubs op die versoendeksel IS NIE SOSEER ‘N BEELD, OF ‘N VOORSTELLING NIE, want God sou beslis nie teen sy eksplisiete eie bepaling gegaan het en ‘n opdrag gegee het vir die maak van die gérubs nie. Dit beteken die ‘beeld’ in die Allerheiligste, al was dit van oliewenhout en goud gemaak (1Kon. 6:23), was nie ‘n blote voorstelling van iets nie, maar onteenseglik ‘n simboliese heenwysing na iets anders, soos ook die res van die detail en meublement en gebruiksgoedere in die tabernakel/tempel. Die feit dat dit van oliewenhout gemaak is, bied die sleutel – dit is hout (vlees), maar bepaald gesalfd (olie). Die salwing is nie ‘aangesmeer’ met olie nie; dit is die inherente vlees van die olyfboom. Daarbenewens is hierdie hout geplet met goud, wat dui op goddelikheid (“divinity”) asook openbaringskennis (Nadia Julien: The Mammoth Book of Lost Symbols: A Dictionary of the Hidden Language of Symbolism). Onthou: openbaringskennis is kennis wat dít wat bedek is, oopmaak! Dit lei noodwendig tot ‘n herstelde en gesalfde mens wat ewige vlees – soos Adam vóór die val en Jesus ná sy opstanding – gehad het! Die gérubs is dus duidelik ‘n heenwysing na die Christus, wie se sterflike liggame deur die Gees van Christus opgewek is (Rom. 8:11). Sela.
Die prototipe van die gérubs in die Allerheiligste is ‘n heenwysing na “lewende wesens”, soos die gérubs in Eseg. 1:15 genoem word. Hulle is in die realiteit duidelik lewend, en hulle (die woordjie ‘gérubs’ is altyd in die meervoud!) het ‘n gees (Eseg. 1:20-21). Die gérubs voor die poorte van Eden is dus nie ‘n simbool nie – die gérubs wat voor die poorte geplaas is, is weliswaar dan iets lewends wat wel simbolies verduidelik word. Om te sê dat die Christus, of die Bruid, soos gérubs lyk, is een van die baie metafore of beelde wat gebruik word om die Bruid te beskryf. Die gérubs is dus nie ‘n tipe engelwese nie, maar ‘n heenwysing na die Christus.
- Sela: Dit is belangrik om te bedink wat is reëel en wat is simbolies in terme van die gé
- Lees: 3-8
- Memoriseer: 5:1 (wat sou hierdie Skrif in die lig van die lering beteken?)
- Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.