“sodat God alles in almal kan wees.”
(1Kor. 15:28, OAV)
Die vorige Mannas het in ‘n groter mate verduidelik wat die gérubs in wese is, en ons het veral uitgewys dat hulle primêr daarop gerig is om iets te bedek of te verhul, maar dat hulle terselfdertyd ook die potensiaal het om daardie verborgenheid te ontsluit. Dít wat die gérubs binne-in die paradys/ewigheid/derde dimensie dighou, wat ook ons armsalige verstaan van ‘n omheinde Godsbegrip sou kon insluit, is iets wat soos ‘n teks geweef is. God het ‘n ‘vertalende’ meganisme (‘n simboliese rosettasteen, oftewel die gérubs) daargestel wat die mens in staat stel om deur doelgerigte soeke iets in hierdie tydelike realiteit van ons raak te sien en dit te gebruik om dan ‘n vertaling van die korresponderende saak in die ewigheid te vind.
Streng gesproke is daar geen ander moontlikheid van enigiets in die hemele of op aarde wat hierdie spesifieke rol kan vervul nie. Hierdie lewende wesens IS enersyds die heenwysing na die Beeld van God, of dan: Jesus, soos dit pragtig uitgespel word in Kol. 1:15-17: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” In hierdie opsig is die gérubs, soos vroeër genoem, ‘n blote simboliese heenwysing na Jesus, wat die Beeld van God is.
Maar die gérubs is nié net ‘n simboliese heenwysing nie; hulle het óók ‘n lewende identiteit, waarlike geestelike wesens wat aktief meewerk om byvoorbeeld die ingang tot die paradys te beskerm, of om aktief sekere bewegings uit te voer (Eseg. 10:4 & 7); en hulle kan praat, en byvoorbeeld “danksegging gee” (Op. 4:8-9). Gérubs is andersyds ook ‘n lewende manifestasie van die Christus, ‘n korporatiewe konstellasie van gees-identiteite wat almal saam gestalte aan Jesus gee. Hul oorsprong en lewe is met ander woorde direk uit die Hoof, maar hulle vorm die manifestasie van die Hoof in ‘n Liggaam. 1Kor. 12:12-14 stel dit baie raak: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, …; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.” Al hierdie menigvuldige lede vorm een liggaam, gemanifesteer deur die gérubs, maar die gérubs as simbool wys terselfdertyd ook heen na die vermeerdering van Jesus. Die feit dat daar oral in die tempel en die tabernakel uitkerwinge of afbeeldinge of beelde van die gérubs was, is ‘n baie duidelike heenwysing daarna dat hierdie gérubs oral oor manifesteer, maar altyd binne een of ander korporatiewe verband (daarom is hul nooit in die eenvoud nie, maar altyd in die meervoud, selfs as hul in die enkelvoud in die Bybel aangedui word).
Die gérubs kan dus ook simbolies gelees word, want hulle verhul die geheimenisse van Jesus die Christus. Benewens hul eie geestelike identiteit en roeping, genadegawes en geestesvermoëns, en veel meer wat in hul voortydse wese ingeweef is, en wat ontdek moet word, illustreer hul ook die menigvuldige diepgang van fasette of onderdele van Jesus, “sy liggaam … (wat) die volheid van Hom (is) wat alles in almal vervul” (Ef. 1:23)! Soos 1Kor. 12:6 dit sê: “en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk”. Dít alles geskied met net één doel voor oë: sodat eventueel “God alles in almal kan wees” (1Kor. 15:28).
Hierbo is die stelling gemaak dat die proses van kommunikasie letterlik nie kan plaasvind as dit nie op hierdie prekêre wyse in en deur die gérubs gebeur nie. Om dit te snap, is van die uiterste belang vir die Mannalesers. Ons het dit baie volledig in Manna Dag 1429-1431 bespreek, maar ‘n kortbegrip daarvan sal ons om die geheue te verfris weer hier aanbied. In Ps. 2:6 sê Dawid: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Wanneer, sou mens kon vra, het God sy Seun Jesus dus gesalf? Duidelik in die voortyd, of ander realiteit. Maar die vraag is hoe? Dit kon nie met konkrete olie gewees het nie, want albei was onteenseglik gees (Joh. 4:24). Die geheimenis lê opgesluit in die vreemde voorsetsel: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Die Apostolic Bible Polyglot hou dit uit die Grieks voor as: “A primary preposition properly meaning superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution … that is, over, upon, etc.; of rest, …etc.” (Strong).
Na die Vader se besluit om die Seun uit Homself te gegenereer, volgens Ps. 2:7, was daar ‘n superimposition van die Vader se wesensaard oor die Seun. Die Seun is toe “die afdruksel van sy wese” (Heb. 1:3), “the express image of his person” (KJV). Die Strong verklaar hierdie frase express image, as: “engraving …, the figure stamped, that is, an exact copy or representation” (let op die korrespondensie met die gérubs). Maar steeds – nêrens in die Skrif is daar hoegenaamd sprake daarvan dat God vir sy geïnkarneerde Seun Jesus in die voortyd gesalf het nie. Wat het die salwing van die Gesalfde voor die grondlegging van die wêreld dan meegebring? Dit is eers in 1Sam.12:5 dat die geheimenis van die salwing vir ons duidelik word. As Samuel in 1 Sam.12:3 & 5 oor Saul (as gesalfde koning) praat, maak hy die volgende belangrike uitspraak: “Hier is ek; getuig teen my voor die HERE en voor sy gesalfde: … Daarop sê hy vir hulle: Die HERE is getuie teen julle, en getuie is sy gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is getuie.” Samuel benadruk baie pertinent die woordjie getuie, en dit word deeglik gejukstaponeer met die woordjie gesalfde. Nié net is die Here hier ‘n getuie nie, en nie net is Saul as gesalfde koning ‘n getuie nie; die vers word afgesluit met God se wesensaard as Getuie – die YLT vertaal die vers die naaste aan korrek: “And he saith unto them, `A witness is Jehovah against you: and a witness is His anointed this day, that ye have not found anything in my hand;’ and they say, `A witness.‘”
Voor die grondlegging van die wêreld, toe God nog enkeld en alleen was, the “only God” (Deut. 6:4), kon daar geen getuie wees nie, want getuienis vra altyd ten minste twee persone. In God se gestaltegewing van die Seun, Jesus (Ps. 2:7), was daar ‘n “superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution”, het ons hierbo gesê. In hierdie getuienis was die salwing. Trouens – die getuienis IS die salwing. Wanneer het God sy Seun, Jesus, dus gesalf? Toe Hy Hom as Getuie geskep het. Op. 3:14 noem Hom dan tereg: “die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God”! Jesus Christus, sê Op. 1:5, is “die getroue getuie”. En in Jer. 29:23 word geproklameer: “Ek is die Een wat weet en getuie is, spreek die HERE.” (Bedink nou weer waarom die ark van die tabernakel ook die ark van die Getuienis heet, soos dit byvoorbeeld in Ex. 25:22 genoem word.)
Terug by Ps. 2:6, ‘n vers wat dikwels geringgeskat word, maar in werklikheid ‘n geweldige betekenis omsluit – “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Onthou nou – oor is ‘n vreemde voorsetsel in hierdie konteks, en beteken superimposition. Jesus as Koning word superimpose oor Sion, die Bruid van Christus! Daar was in die voortyd eweneens ‘n “superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution” van die wesensaard van Jesus na sy Liggaam toe, “the express image of his person” (Heb. 1:3, KJV), “engraving …, the figure stamped, that is, an exact copy or representation”. DIT IS WAT DIE SALWING IN ESSENSIE IS. Chrisus die Gesalfde is die beeld van God, maar Christus die Gesalfde is ook die heerlikheid van God (2Kor. 4:4). Die gesalfde Bruid/Liggaam van die Gesalfde Hoof, Jesus, het met die sondeval nie net die Beeld van God verloor nie, maar ook die Heerlikheid Van God – Rom. 3:23 stel dit duidelik: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Die nuwe mens moet derhalwe weer beklee word en vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper (Kol. 3:10). In Joh. 12:41 verduidelik die apostel byvoorbeeld dat Jesaja dít bedoel het toe hy gesê het dat die profeet Sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het (vergelyk Jes. 6:1-5).
In aansluiting hierby moet ons Manna 1697-1699 weer aksentueer – dit het heelwat belangrike swaartepunte en voortvloeiende implikasies ten opsigte van die Bruid se Goddelike identiteit van die voortyd voorgehou in hierdie “openbaring van die verborgenheid” (Rom. 16:25) waarmee ons besig is. Daar is uitgewys die Wonderbaar spreek tot die wonderbaar en openbaar van sy wonderbaarlikheid ín ons. As gevolg van die naspeurbare én die onnaspeurbare, die geopenbaarde en die verhulde, weet ons dat die kumulatiewe proses van ons Christus-identiteit ‘n getuienis sal wees, “a perfect (wonderbare) example of a particular quality, a person or thing viewed as a model of excellence”, of dan: ‘n wonderteken.
Die Bruid as gérubs is dus vir ontdekking ontwerp. Dit beteken dat die ontdekking van die nimenieuse IN ONSSELF noodwendig móét geskied. Nimenieus beteken God het dit só beplan dat ek en jy in onsself die fearful and fascinating mystery ván onsself sal ontdek.
Hierdie transendensie word deur die Gees van God gefasiliteer. Die Heilige Gees is in alle ervarings van ontmoeting en herkenning altyd die tussenganger wat bewustheid skep. Hierdie bewustheid (logos, in die wydste moontlike sin gebruik) word altyd deur die Gees van God as Tussenganger bestuur en begelei. Die Gees is waarmee ons waarneem eerder as Wie ons bespeur. As die Gees vir ons intree, bid Hy die ordelike, komplekse en presiese bloudruk van God in ons lewens. Hierdie “unspeakable words”, is rhemawoorde! Die oopmaak (“entrance to disclosure”) van hierdie identiteitswoorde bring lewe en lig en laat jou Goddelike identiteit wonderbaarlik ontvou.
In en deur die ontvouing van jou rhemawoord word alle huiwering, vermoedens, drome, wense, die somtotaal van ons soeke, gekulmineer in ‘n transendensieproses waardeur God jou unieke onderdeelgeheel van Christus uit die voortyd laat stroom. Dit word letterlik die verbindingstroom of sinergie van die interaksie tussen die hemele en die aarde, en daardeur word strome van lewende water, weliswaar primordiale waters, uit die voortyd oopgemaak, vol spreuke en raaisels wat uit die voortyd stroom, sodat daar algaande ‘n al hoe dieper manifestasie kan kom van hierdie fearful and fascinating mystery. Hierdie proses van logoserende bedinksels kan amper onmoontlik in verstaanbare taal omvat word, daarom word dit byvoorbeeld in Jes. 19:18 genoem: “die taal van Kanaän” (lees ook: die taal van die derde dimensie/paradys/Eden/ewigheid/hemele/allerheiligste, en so meer). Sef. 3:9 (KJV) vind hier gestalte: “For then will I turn to the people a pure language, that they may all call upon the name of the LORD, to serve him with one consent.” Ons het geleer taal en denke is die twee kante van dieselfde munt in ons. Om hierdie rede is alle denke of fasette van Logos ten nouste aan taal gekoppel. Daar moet ‘n proses gestalte kry wat in en deur die hermeneutiek van die ongesêde ontdek word.
As die Heilige Gees deurgaans hierdie proses tot transendensie rig, sal ons die “dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35) kan leer karteer, en in staat wees om “die verborge dinge” te bring tot “geopenbaarde dinge”. Hierdie Wonderbaar wat ons in ons soeke ontdek, is die onverwagte verskyning van die onpeilbare Oorsprong self, ook IN ons en in ons omstandighede. Op hierdie wyse kan ons iets konkreet kry oor hierdie pad terug na die paradys waar ons die ontwykende diepgang van ons rhemawoorde kan leer peil. Daar is ‘n weg terug na daardie afgeskorte bewussyn van ewigheid en heerlikheid. Ruimtelik gesproke, noem ons dit die paradys; temporaal gesproke, noem ons dit die voortyd, maar dit is streng gesproke nie ruimte of tyd soos ons dit as mense ken nie. Dit “bestaan in verborgenheid wat bedek (is) en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid” (1Kor. 2:7). In die volgende Mannas ontvou hierdie sjibbolet-sjabloon.
- Sela: Verduidelik die begrip van die gérubs aan iemand.
- Lees: 15-24
- Memoriseer: 20:25
- Delf dieper: Gaan ondersoek die betekenis en relevansie van die name in 2Sam. 20:25.