“… as Hy verskyn …”
(1Joh. 3:2, OAV)
Die leser moet onthou dat ons tans steeds besig is om ‘n beter verstaan van die wesensaard van die gérubs te kry. In die laaste paragraaf van daardie Manna is 1Kor. 2:7 aangehaal, wat praat oor “die wysheid van God”, eweneens dan die Christus (1Kor. 1:24), oftewel die gérubs wat “bestaan in verborgenheid wat bedek (is) en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid”. Toe het ons gesê ons sal hierdie sjibbolet-sjabloon vervolgens probeer laat ontvou. Laat dit ons volgende stap die voortyd – of die ander realiteit dan – in wees, al kom ons eers in die Manna hierna daarby uit.
Ons lesers sal onthou dat verlede week onder andere gehandel het oor die spel tussen IMRI en INRI. Dié twee woorde het toevallig, wel so toevallig soos dit kan wees, op mekaar begin reflekteer. Uiteraard was ek verlei deur die klankspel wat die twee woorde met mekaar het, en het die klankkorrespondensie bes moontlik aanleiding gegee tot die twee woorde wat “hulle liefderik bedrywig besin / op mekaar”. Hierdie is ‘n aanhaling uit die gedig ‘Blydskap’ van T.T. Cloete (opgeneem in die bundel Jukstaposisie) wat die spelende proses van woorde en dinge op mekaar pragtig beskryf.
Die woordjie ‘jukstaposisie’ het ons al ‘n paar keer in die Manna gebruik en in die verbygaan verduidelik, maar miskien het die tyd nou aangebreek om dit as ‘n baie bruikbare begrip in die soeke na voortydse identiteit te gebruik, want dit is bepaald ‘n meganisme of strategie wat God gebruik om ons te begelei.
Voor ons egter uitkom by die omlyning van die begrip ‘jukstaposisie’, is dit nodig om dalk hier iets van die dinamika van die proses tussen die toegedekte God en sy geheimenisse aan die een kant, en die soekende mens aan die ander kant, uit te wys. Hierdie proses word gerig deur taal, en wel dan taal in die wydste sin bedoel. Die natuur, byvoorbeeld het/is ‘n taal; gebeure waarvan ons deel is, selfs op ‘n afstand heen, is ‘n taal; drome is/het ‘n taal; die onderbewuste is/het ‘n taal; mense is taaltekste; die Bybel is uiteraard ‘n teks wat op verskeie vlakke, selfs op onontginde en verhulde wyses, kan kommunikeer. En so kan ons aangaan; daar is veel meer. Maar elke taal moet gelees word, geïnterpreteer word; elke teks moet agterhaal word, maak nie saak wat die bedoeling van die skepper/Skepper daarvan is, of wat die moontlike vermoë van die ‘leser’ van die teks is nie. As ons onthou dat die hele proses van kommunikasie deur die Gees van God gerig word, hoef ons nie voorbehoude te hê oor die kommunikasie wat moontlik kan misluk as gevolg van enige vorm van gebrekkige vermoë nie. Dis baie belangrik om hierdie nooit te vergeet nie.
Enige benadering is eintlik streng gesproke ‘n vereenvoudiging, maar dit help ons to catch the drift. Onvolledigheid is jammerlik deel van die mens se mens se universele kondisie deur die eeue, en desondanks streef hy na volle begrip, vervolmaking, die totaliteit van kennis. Tog weet ons die proses is, soos Van Wyk Louw gesê het, “altyd benaderend, nooit bereikend”. Ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Ons sien in die huidge bedling ongelukkig deurgaans deur ‘n spieël in ‘n raaisel (1Kor. 13:9 & 12).
Vir die Bruid van Christus, behoort ons teen hierdie tyd te besef, is die dinamiese kern van hierdie proses die epos-woord. Die eposwoord is ‘n intieme aanhegtingspunt tussen Logos en rhema, tussen die verborge, spelende God en die soekende geroepene wat Hom náspeur; dis grootliks ‘n kont(r)akpunt tussen God en mens, as ’t ware “a word to speak through”, “a coded utterance”; dit word die har(t)slag van die onderneming, soms bloederige oorblyfsels van ‘n slagtingsproses waarin die essensiële oopgedek is (en die lewe is in die bloed), maar ook die hartklop van die gemeenskaplikheid van Hoof en Liggaam. Dit alles word die eposwoord, die substans van die gérubs, die parallelle boodskap in verskillende tale, soos op die rosettasteen. Dit is ‘n raster waarmee ek en jy die onbekende baasraak, struktuur gee aan die chaos en onbegrip wat heeltyd dreig om ons te oorweldig. Die epos-woord is die oordraag-sel tussen entiteite in die geesrealm en die vleesrealm, maar ook tussen gees en gees. Enersyds is dit dan sel (soos in gevangenis of tronk) waarin betekenis, wysheid, insig, kennis, sin, en so meer toegedek is, toegemaak is, afgesluit is, onmoontlik om raak te sien; maar terselfdertyd is dit ook sel (soos ‘n biologiese kern), ‘n woordeel (spesifiek só gespel), wat verdeel en groei en soms selfs eiesinnig woeker.
God en mens word op hierdie ontvouende wyse opgeneem in ‘n Liggaam van Betekenis. Die versweë doel van hierdie Goddelike ontvouingsproses is om dit wat in die voortyd ons van God en van mekaar geskei het na ‘n oereendersheid terug te bring. Sela.
1Joh. 3:2 bly die kernskrif van hierdie vooruitsig: “dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is”. Die Griekse woord vir ‘verskyn’ hier is phaneroō, wat Thayer soos volg verklaar: “to make manifest or visible or known what has been hidden or unknown, to manifest, whether by words, or deeds, or in any other way”. Dit lyk asof hierdie spesifieke woord vir verskyning of manifestasie direk aan die epos-woord gekoppel kan word, want dit lê ‘n nou verband met die proses waardeur die kenne van God moontlik gemaak word.
Hierdie woordjie ‘verskyn’ word die meestal absoluut misverstaan, as sou dit dui op Jesus se sogenaamde wederkoms. Dit het egter NIKS met Jesus soseer te doen nie, nog minder met sy sogenaamde wederkoms, of dan met sý parousia (of verskyning). As ons die teks in konteks lees, vanaf vers 1, is dit onteenseglik duidelik dat dit oor God handel en oor SÝ VERSKYNING: “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.” Dan volg die onderhawige vers 2, waar daar weer eksplisiet van “kinders van God” gepraat word, en daar nog vier keer deur voornaamwoorde na God verwys word, en Sy verskyning. In vers 3 word daar nog eens twee keer na God verwys. En dan as jy vers 5 lees, is dit eintlik asof jou brein outomaties Jesus daarin lees, maar dit verwys konsistent nog na God, al is dit ‘n aksie wat ons nét met Jesus in verband bring: “En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. In vers 6 word hierdie belangrike uitspraak gemaak: “Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.” Ook vers 7 handel oor God en sy seuns se geregtigheid.
Dit is eers in vers 8 waar daar vir die eerste keer oor die verskyning van Jesus gepraat word: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” Hier is die woordjie vir verskyn eweneens phaneroō, interessant genoeg! Vir die eerste keer kom die Vader en die Seun in jukstaposisie ten opsigte van hul eiesoortige verskynings of phaneroō. Maar in die daaropvolgende twee verse, 9 & 10, is die klem weer sentraal op die verskyning van God en hoe Sy manifestasie in sy seuns plaasvind: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.”
Daar is ‘n ontluikende bewussyn wat my en jou totaal kan verander as ons dié verskyning van God begryp, wat sal meebring dat ons aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. Let op – bewussyn impliseer “verligte oë van die verstand”, ‘n bepaalde manier van dink.
- Sela: Hoekom sal daar dan twee eiesoortige verskynings van God en Jesus wees?
- Lees: 10-15
- Memoriseer: 10:4-5
- Delf dieper: Wat is die tipologiese betekenis hiervan? Dit is van groot belang.