Dag 172

“… moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?”

(Jes 8:19, OAV)

 

Daar is baie geloofsgroeperinge wat hul navolgers inlei in die Christelike godsdiens, maar wat dit dan koppel aan animistiese tradisies. Animisme kan geklassifiseer word as ‘n primitiewe geloofskultuur waar geglo word dat alles om jou ‘n siel het (die begrip siel word egter verkeerdelik hier gebruik in plaas van gees). Voorvaders en heilige objekte (wat wissel van geloof tot geloof – dit kan koeie of bome byvoorbeeld insluit) het die reg tot inspraak in die wêreld van die lewendes.

Die opkoms van Afrika-nasionalisme was ten nouste gekoppel met die Christelike geloof en is deur sendelinge die kontinent ingebring. Nuutgekerstende Christene moes hul geloof integreer met hul kultuuroorleweringe en tradisies en dit het meegebring dat hul geloof meermale sinkretisties geword het, met ander woorde ‘n vermenging van basiese Christelike oortuigings en animistiese praktyke, soos voorvaderaanbidding. Oor die ZCC, die grootste voorbeeld van hierdie geloofspraktyk in Suid-Afrika (met meer as 7 miljoen lede), se leier, Biskop Lekganyane, is voor die WVK getuig: “He realized that unless Christianity was interpreted in a context suitable to the African lifestyle, cultural and political development, Africans would in due course find themselves as a nation alienated from its roots, rich history and religious foundation.”

Hierdie versnyding (Fil 3:2c), verontreiniging deur vermenging (Lev 18:23-24), is vir God heeltemal onaanvaarbaar, want dit is offerdiens aan vreemde gode, wat Hom terg (Jer 44:8). Op verskeie plekke in die Woord word die gelowige streng gewaarsku om nie enige kontak met die geeste van afgestorwenes te hê nie (Lev 19:31; 20:6; Jes 8:19). Saul het sy koningskap en lewe verloor as gevolg van hierdie praktyk: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gevra het,  maar die HERE nie geraadpleeg het nie. Daarom het Hy hom omgebring en die koningskap laat oorgaan op Dawid.” (1 Kron 10:13-14).

Jes 19:3 noem die geeste in die KJV  “familiar spirits” wat waarsê, met ander woorde in der waarheid ‘n spreekbuis word van die Bose Een. En inderdaad dan: “watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?” (2 Kor 6:14-16).

Só ‘n ongoddelike versnit bind miljoene goeie en welmenende mense met demoniese bande aan die vals horings van ‘n altaar wat hulle dink die altaar van God is.