Dag 1720-1721

 

“Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word

by die openbaring van Jesus Christus.”

(1Pet. 1:13, OAV)

Ons belowe nou al ‘n geruime aantal Mannas, sedert Dag 1712-1714 om presies te wees, dat ons ‘n geheimenis rondom die gérubs gaan verduidelik aan die hand van ‘n vreemde dubbeldekkerwoord: sjibbolet-sjabloon. Hierdie samegestelde woord: gaan ons veel leer oor die wesensaard van die gérubs, oftewel die eposwoord, sodat ons die vermoë kan aanleer om hierdie geheimenisse rondom onsself, die res van die Bruid, en dan veral van die Logos, te kan interpreteer. Sodoende sal ons onteenseglik ‘n beter greep kry op die voortyd, of die ander realiteit, en daardeur ook getransformeer word “van heerlikheid na heerlikheid” (2Kor. 3:18). Ons gaan só ‘n ontluikende bewussyn laat ontvou wat my en jou totaal sal verander as ons dié eiesoortige verskynings van God begryp, wat sal meebring dat ons Hom meer en meer deelagtig sal word, dat ons aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is, nes in die vorige Manna verduidelik is. Hierdie bewussyn impliseer “verligte oë van die verstand” (Ef. 1:18), ‘n bepaalde ander manier van dink wat ons besig is om aan te leer. Sodoende word elke rhemawoord ‘n bewussynsfokus wat sy eie (en later ander) se ware goddelike natuur verstaan, en daardie wesensaard van die geestelike self is ‘n kanaal waardeur die Identiteit van God langsamerhand ontvou.

In wese is dit wat ons besig is om aan te leer: ‘n interpretasievermoë. Die woordjie in Hebreeus daarvoor is dârash, wat ‘om te verduidelik’, of ‘om te interpreteer’, beteken. Ons Mannalesers behoort teen hierdie tyd al dalk te kan snap dat dit die wortelwoord is van die meer bekende begrip Midrash, wat dui op die rabbi’s/Skrifgeleerdes se kommentaar, interpretasies en verduidelikings van die Torah deur die eeue. Kom ons noem dit kantaantekeninge by die Skrif. ‘n Mens sou maklik dan ook die Digitale Manna as ‘n tipe Midrash kan klassifiseer.

Dikwels in die verlede het ons uitvoerig klem gelê op die gebruik van die begrip middel in die Bybel, so onlangs nog soos Dag 1710-1711, waar ons weer eens gewys het op “die boom in die middel van die tuin” in Génesis en “die middel van die troon” in Openbaring, en hoe dié deiktiese aanwysing simbolies altyd dui op die hart. Die Prediker spel dit dan ook so uit: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” (Spr. 4:23). In die MSG klink die dringendheid van die opdrag nog meer duidelik: “Keep vigilant watch over your heart …”

Die Joodse Midrash fokus grootliks net op die Torah, met ander woorde die eerste vyf boeke van Moses in die Bybel. ‘n Mens sou dan derhalwe kan verwag dat die middel van die Torah baie bepaald die hart van die Torah sal bevat. As jy die totale aantal woorde van die Torah neem, en dit presies in twee verdeel om die middel te kry, is die middel tussen twee identieke woorde in Lev. 10:16. Die   ASV-vertaling hou dit soos volg voor: “Moses diligently sought …”, waar die middel van die Torah presies lê tussen die twee woorde “diligently” en “sought”. Die CJB hou dit voor as: “carefully investigated”. Die middel lê dan daartussen. Dit kan ook byvoorbeeld wees: “diligently inquired” (ESV). In die ander tale kan ‘n mens dit maklik taalkundig mis, maar in Hebreeus staan daar: “môsheh dârash dârash …” Die middelpunt, die hart van die Torah, lê tussen twee identieke woorde: dârash dârash! Die boom van die lewe is te vind tussen interpretasie interpretasie! Die gérubs in die middel van die troon is te vind tussen interpretasie interpretasie! Aan weerskante van die boom of die troon lê interpretasie. Sela. Om die boom van die lewe of die troon van God te vind, van Génesis tot Openbaring, moet ek en jy intensely investigate. Soos die profete van die Ou Testament, leer die Nuwe-Testamentiese profeet Petrus vir my en jou, dat ons ten opsigte van die Christus moet ondersoek, navors, en naspeur (1Pet. 1:10-11). Daarom, sê hy in vers 13: “omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus”.

Hierdie interpretasie-tipe-taal of –tongval wat ons sodoende leer, sou ons perdalks simbolies kan noem “die taal van Kanaän”, volgens Jes. 19:18, of tipologies dan die taal van die beloofde land, die Nuwe Jerusalem, die Bruid, die hemel, die paradys, die derde dimensie. Jy kan nie in hierdie koninkryk ingaan as jou tongval nie reg is nie. Om te bepaal of jy die regte taal praat, moet jy by wyse van spreke die woordjie sjibbolet reg sê. Ons leer in Rigt. 12 wat dit beteken – die stam van Efraim kon nie onderskei tussen twee Hebreeuse konsonante, die sjin (die sj-klank in Afrikaans of Engels) en die gewone s-klank nie. Toe die Gileadiete in oorlog was met die Efraimiete, het die rigter Jefta hul geleer dat die Efraimiete die woordjie sjibbolet as sibbolet uitspreek. As die Efraimiete deur die Jordaan wou gaan, is hulle deur die Gileadiete gevra om die woord te sê, en as hulle dit verkeerd gesê het, is hulle onthoof. ‘n Verkeerde lettergreep het die verskil tussen lewe of dood beteken! Natuurlik is dit bloot ‘n totaal ekstreme voorbeeld, maar as gevolg van die skrikwekkende gebeurtenis, word die punt wat gemaak moet word, weliswaar deeglik gemaak.

Volgens die AHLB is daar nie wesentlik ‘n verskil in die betekenis van die twee woorde sjibbolet of sibbolet nie, alhoewel dit twee verskillende Hebreeuse woorde is, maar albei terugherlei na dieselfde wortelwoord toe. Albei beteken óf ‘n stroom/vloed, óf dan die boonste halm van koringare. Die sjin-klank van sjibbolet is dus die eintlike saak waaroor dit gaan – as dít ontbreek, haal jy vir jouself groot moeilikheid op die hals.

Dr. Reese L. Powell Snr. skryf in sy boek: Eternal Flame: Numerology of Redemption (p. 17): “Sjin is a consonant Sh which is an abbreviation of the name of God Shaddai meaning Almighty, omnipresent, omnipotent God.” Interessant genoeg, vorm die priester die lettertjie sjin met ‘n handgebaar as hy die priesterlike seëning uitspreek. Daarbenewens is die letter sjin ook geïnskribeer op die kassie wat die mezuzah bevat, ‘n papierrol (“scroll”) met Bybelse seëning van die sjema (Deut. 6:4-5), waarvan die tweede deel sê: “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart …” Hierdie mezuzah word bo alle deure of poorte geplaas (Deut. 6:9). Vers 6 spel dit dan verder uit: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.” As die APB hierdie vers in Grieks translitereer, word “woorde” hier as rhema vertaal! Nóú verstaan mens eers die detail van wat die metafoor van “skryf op die tafel van jou hart” na regte beteken.  Die eiesoortige identiteit (= Naam) van El Sjaddai in jou rhemawoord-identiteit moet as glief in jou hart ingegrif wees. Daarsonder kan jou tong nie die sjin-klank maak en kan hy nie “Sjibbolet!” sê nie! Dit is dan ook die woord wat die poort deur die Jordaan oopmaak na die beloofde land toe. Ikonies lýk die lettertjie sjin (hierbo afgebeeld) ook soos ‘n hart!

As jou hart die geheimtaal van die sjin ken, word Deut. 9:3 (KJV) verseker waar: “Understand therefore this day, that the LORD thy God is he which goeth over before thee …”

Maak vas wat die gérubs as sjibbolet dan vir jou inhou, en dan skryf ons volgende week verder oor wat die gérubs as sjabloon doen.

  • Sela: Verduidelik aan iemand die begrip ‘sjibbolet’.
  • Lees: 16-22
  • Memoriseer: 22:14
  • Delf dieper: Lees die boek wat hierbo genoem is.