Dag 1724-1725

 

“In the beginning was the Word

[or, the Expression of [divine] Logic] …”

(Joh. 1:1, ALTNT)

Ons is tans besig om die aard van die enigmatiese eposwoord, oftewel die gérubs, dieper te ontgin, en te verduidelik hoe dit prakties funksioneer. Voorverlede week is die geheimenis van die gérubs  aan die hand van die woord sjibbolet geïnterpreteer, en ons het toe gesê ons sal vervolgens die woordjie sjabloon ondersoek. Ten grondslag van albei is die fasilitering van verandering, en veral deur middel van wat ons linguïstiese kodewoorde genoem het. Ons Mannalesers behoort ook maklik raak te sien dat die sjin-klank van die woorde die onderliggende stramien van die saak is.

[Net ‘n aanmerking wat ons op hierdie stadium moet maak. In Afrikaans en Engels is daar dikwels, soos ook in Hebreeus, ‘n aanvaarbare wisselvorm tussen die sj-klank en die sh-klank. Dit is hoekom sjibbolet ook as shibbolet geskryf word. Die sj-klank in Sjinees lyk vreemd as ons dit Shinees skryf, maar foneties is dit dieselfde klank, eweneens met byvoorbeeld die Naam van God: El Shaddai, wat ons net sowel as El Sjaddai kan spel, maar as gevolg van eenvormigheid nie doen nie. Vir toekomstige verwysing moet ons Mannalesers besef die sh-klank en die sj-klank moet in elkander gesien kan word, byvoorbeeld in baie woorde uit die Hebreeuse leksikon wat ons in Westerse tale getranslitereer het, soos shalom/sjalom en shofar/sjofar, of woorde wat as gevolg van bepaalde gebruiksfrekwensie maklik op die oor val, soos shema/sjema (“hoor”).]

‘n Vraag wat spontaan by ‘n mens opkom op hierdie stadium, is die vraag hoekom daar so ‘n groot klem (tans) gelê word op die talige, of dan die linguïstiese. Dis ‘n belangrike vraag, met ‘n baie eenvoudige, maar sinryke antwoord. Die Logos sou verklaar kan word as die Verstand van God. Om hierdie rede is dit belangrik om te besef presies wát Joh. 1:1 uitspel, en dat eksegete dit immer bes moontlik verkeerd geïnterpreteer het: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Uit die Grieks kan ‘n mens dit soos volg voorhou: “In die begin was die Logos, en die Logos was by God, en die Logos was God.”

  • As die eerste frase korrek vertaal word (na aanleiding van Gen. 1:1), staan daar: “In die beginne was die Logos van God”, uiteraard, sou ‘n mens kon sê – as God daar was, moes sy Logos ook daar wees.
  • Die tweede frase lui: “die Logos was by God”. By word deur The Complete WordStudy Dictionary as voorsetsel beskryf as: “expressing dependence or relation of any kind from or with someone, the pertaining or belonging in any way to a person or thing”. Die feit dat die Logos “by” God is, maak die een nie noodwendig die ander nie, maar skep juis ‘n onderskeid!
  • Die laaste frase van Joh. 1:1 is eintlik die mees openbarende: “die Logos was God”. Op die oog af lyk dit na ‘n eenvoudige gelykstelling, maar dit is nie – die Logos is God, maar God is nie nét die Logos nie, Hy is meer! Om hierdie rede kan ons dan onteenseglik duidelik verstaan waarom die sjamah (of shamah), Deut. 6:4 (KJV), is: “Hear, O Israel: The LORD our God is one LORD.” Selfs toe Jesus deur die wetgeleerdes hieroor gevra is, het Hý dit onomwonde uitgespel: “And Jesus answered him, The first of all the commandments is, Hear, O Israel; The Lord our God is one Lord …” (Mark 12:29, KJV). As daar net een God is, is dit Jehovah. Jesus is die Logos van Jehovah. Sela.

Terug by die vraag oor die belangrikheid van taal in ons huidige ondersoek. Die Analytical-Literal Translation (ALTNT) vertaal Joh. 1:1 se eerste frase soos volg: “In the beginning was the Word [or, the Expression of [divine] Logic] …” Jy hoef nie Latyn te ken om die Vulgaat se voorhou van die woordjie Verbum (herken die woordjie “verbaal”, dit wil sê talig) vir Logos raak te sien nie: “in principio erat Verbum et Verbum erat apud Deum et Deus erat Verbum”.

Uit hierdie kousale verband tussen Woord en die denke/verstand en die talige, volg noodwendig dat ons Jesus as die Logos van God onlosmaakbaar nét kan verken as denkkonstruk, en derhalwe, as taalkonstruk! Dit word mooi saamgevat deur Chafer’s Doctrinal Summurization, in navolging van Philo: “The same word (= Logos) … to mean something in God corresponding to reason in man as well as something emanating from Him corresponding to speech in man … (Jesus) as Logos is to the Father what speech is to reason”! Die gesaghebbende International Standard Bible Encyclopedia verduidelik die inherente wesensaard van die Logos mooi soos volg: “The translation ‘thought’ is probably the best equivalent for the Greek term, since it denotes, on the one hand, the faculty of reason, or the thought inwardly conceived in the mind; and, on the other hand, the thought outwardly expressed through the vehicle of language. The two ideas, thought and speech, are indubitably blended in the term logos; and in every employment of the word, in philosophy and Scripture, both notions of thought and its outward expression are intimately connected.”

Die ganse skeppingproses is in wese ‘n produk van taal. Dit word lank reeds bevestig deur ons verstaan van Gen. 1, waar God deur te spreek die ganse kosmos in en deur taal gestalte gegee het. Die Jode se daaglikse oggendgebed, vry vertaal, lui soos volg: “Geseënd is Hy, God, wat spreek, en die wêreld wat só beslag kry.” Brain L. Lanchaster, in sy boek, The Essence of Kabbalah, maak die volgende uiters belangrike uitspraak: “nothing available to the human realm penetrates to the divine reality to the same extent as does language” (p. 71). Daar is ‘n inherente, Godgegewe kragwerking in en deur taal wat die geestelike realm en die onsienlike realiteit vir ons moontlik maak om te verken. 2Kon. 15:12 vat dit saam: “Dit was die woord van die HERE wat Hy … gespreek het … En dit was so.”

Maar vir my en jou is hierdie skeppingskragwoorde grootliks “veiled sayings”, in die raak formulering van Baker se New Testament Commentary, en voorts: “it can even be said that the dark utterance was the very heart of Christ’s teaching”. Die proses waardeur die eposwoorde se voorhangsel skeur, bring ‘n transfigurasie tussen mens en God mee, oftewel tussen die rhema en die Logos, of dan tussen die fisiese realm en die geestelike realm. Hierdie verandering van denke (Rom. 12:2) kan nét deur taal moontlik gemaak word, en dan is dit nie net ‘n eenvoudige proses nie, maar gelowiges moet dit bestorm en dit met geweld gryp (Matt. 11:12).

Ons moet  verstaan dat “the whole of life comforms to this pattern: we are confronted with a veil that is paradoxically both conceals and reveals the true nature of reality … (We) need to study and practice in order to grasp that which lies beyond the veil.” (Lanchaster, p.16). Onthou die voorhangsel beslaan ook ‘n geweefde voorstelling van die gérubs – hierdie oopskeur veronderstel ‘n Godgeleide proses om geheimenisse oop te dek, duidelik in en deur die eposwoord. Wanneer dit die transfigurasie van die rhema-identiteit op talige of denkvlak moontlik maak, word die soeker, of ook soms die mistikus genoem, gekonfronteer met die lewende gérubs wat in en deur die derde dimensie funksioneer.

Onthou asseblief tog net deurgaans: taal is die primêre medium waardeur God in die skepping manifesteer. Terseldertyd is taal ook die meganisme waardeur ons die Godheid kan leer ken. Die oneindige transendente wesensaard van God is buite die begrondingskapasiteit van die menslike verstand. Taal is die wonderbaarlike wyse waarop Hy Hom toelaat om verken te word.

  • Sela: Verduidelik aan iemand die onlosmaakbaarheid van taal en denke.
  • Lees: 7-12
  • Memoriseer: 7:19-30 (wat sou die tipologiese verband hiermee wees?!)
  • Delf dieper: Lees die boek hierbo genoem.