Dag 1726-1727

 

“And all the earth was one lip,

and there was one language to all, the same words.”

(Gen. 11:1, Brenton & Darby)

Steeds is ons besig om die aard van die enigmatiese eposwoord, oftewel die gérubs, dieper te ontgin, en te verduidelik hoe dit prakties funksioneer. ‘n Geruime tyd gelede is die geheimenis van die gérubs  aan die hand van die woord sjibbolet geïnterpreteer, en ons het toe gesê ons sal vervolgens die woordjie sjabloon ondersoek.

Verlede week het ons afgesluit met die opmerking dat taal ook dié meganisme is waardeur ons die Godheid kan leer ken. Die oneindige transendente wesensaard van God is buite die begrondingskapasiteit van die menslike verstand. Taal is die absoluut primêre wyse waarmee Hy verken kan word. Onthou René Descartes se bekende diksie: Ek dink, daarom is ek. Maar, soos Hand. 18:25 (LB) oor Apollos sê: “He only knew half the story.” Jy kan nét dink as jy enigsins taal beheers, dus kan ons Descartes se diksie beter maak deur te sê: Ek beheers taal, en derhalwe kan ek dink, daarom is ek. Maar dit is ook nie heeltemal waar nie, want uiteraard is jy, bestaan jy, ook los van taal en denke, as ‘n fisiologiese wese. Iemand soos Helen Keller, wat doofstom en blind was, het nie die beheersing van taal gehad totdat sy eers op sewejarige ouderdom stelselmatig op taktiele wyse aan taal as kommoditeit of meganisme blootgestel is nie. Omdat God die vermoë tot taal in die mens as kapasiteit van kenne ingeweef het, het sy met verloop van tyd en baie geduld iets begin snap van taal, en dit het noodwendig denke in haar troebel dierlike sintuiglikheid, grys uitsigloosheid en letterlike én figuurlike betekenisloosheid laat ontvou. [Kenne is die vermoë om te kan ken, soos Joh. 17:3 dit noem: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Abraham Kuyper, in sy boek Pro Rege III, p. 416, verduidelik mooi hoe God taal in die mens ingeskep het.]

Omdat taal in haar wese (onthou ons praat van moedertaal, derhalwe vroulik J) transendent is, kan dit nie anders as om ‘n tweegesprek te ontlok nie, selfs al praat jy met jouself, soos C. Louis Leipoldt in een van sy gedigte sê: “ek skrywe nie vir jou nie. / Die windswael sing – nou, waarvoor moet hy sing? / Vir jou en my? Nee, wragtie, vir homselwe – Net om hy iets moet sê – iets, iets, moet bring! / … / En ek ook, soos ‘n windswael, maak my versies / Nie maar vir jou – nee, glad nie … // Ek sing net vir myself; uit puur verstrooiing … / ek moet versies maak of praat met … wie?” In sy bekende ander gedig speel hy op sy ou ramkietjie, en voel tevrede as die maan hom toeknik, en die varings by die wal na hom luister, maar eintlik speel hy vir die skepping wat reageer op sy oënskynlike een-selwige kommunikasie. (Vroeër in die Manna het ons dit speels genoem: van-self-sprekend.) Dis dan nie vreemd nie dat hy dan spesifiek iets na-dig van “Adam / En Eva se val, / Van die ou Paradys”, want dié prototipe sjabloon is van God gekloon in die beginne!

God se wesensaard is kommunikatief, al was Hy enkel en alleen (Deut. 6:4). Sy begeerte aan die gans andere het Hom Jesus as die Gans Andere, uit Homself uit, laat ontvou, sodat daar enigsins kenne moontlik kon wees. Daarsonder sou ons God nie kon ken nie. [Die begrip ‘Gans Andere’ (“Wholly Other”) kom van die bekende teoloog Karl Barth, onder andere in sy Church Dogmatics, wat dui op God se eiesoortige wesensaard, totaal/gans anders as enige ander god, in ooreenstemming met byvoorbeeld Ps. 86:8 – “Daar is niemand soos U onder die gode, Here …” Ek gebruik die begrip egter gans anders.] Jesus is die Eersgeborene, “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” (Kol. 1:15), en “alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). In Jesus word die Gans Andere, met ander woorde dít wat gans anders as God is, beliggaam, sodat Hy, God, ‘n verhouding met Jesus kan hê. Omdat alles uit God ontvou en geskep is, is daar ‘n sameness tussen God en Jesus (as die somtotaal van die Gans Andere), maar onteenseglik ook ‘n otherness. Dáárom is daar geen ander manier om by God uit te kom behalwe deur Jesus nie – “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

As daar dan in 1Joh. 5:7 staan: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een …”, is dit van groot belang dat ons wys op die vertaalfout in die Afrikaans, maar ook in menigte ander vertalings (soos byvoorbeeld die AMP en die KJV), omdat dit uit ‘n Gereformeerde teologietaal vertaal is. Hierdie leerstelling, wat net vóór die vierde eeu eers ‘n amptelike beslag gekry het, was nie in ooreenstemming met die eerste vertalings nie. Die leerstelling van die Drie-eenheid, ‘n woord wat nie eens in die Bybel voorkom nie, is in die Protestantse dogma vooropgestel, en die dogma het ‘n lens geword waardeur die vertaling gefilter is. Betroubare eksegeses in byvoorbeeld die ACV en ALTNT vertaal hierdie vers meer getrou as “those who testify are three”, of dan nog meer helder: “three are the Ones testifying”.

Maar voorts belangrik rondom hierdie saak, is dat Een van die Getuies eksplisiet as die Logos, of Woord, gespesifiseer word. Ons het in ‘n vorige Manna daarna verwys dat die Logos spesifiek die Verstand, of Denke, van God is. In ooreenstemming met ons argument tot dusver kan hierdie Logos nie gestalte kry nie, behalwe deur die Taal, en derhalwe is die Logos ook die Taal (met ‘n hoofletter)! Ons sou dus gemaklik kon sê: In die Begin was die Taal. Hierdie talige aanskyn of gestalte van Jesus, die Logos, is dus net te leer ken deur linguïstiese kodewoorde wat in die gestalte van eposwoorde aan die mens gebied word. Hierdie Begin, Jesus, is die oorspronklike Sjibbolet, of Tongval, maar ook die Oorspronklike Templaat, of Sjabloon. Uit Hom ontvou ‘n menigvuldige hoeveelheid rhemawoorde soos rekenaarsimbole, of soos natreksels van ‘n oorspronklike Bloudruk of Patroon, ‘n Gietvorm, “die sjabloon … / … wat kloon / volgens ‘n eie vaste patroon”, soos T.T. Cloete dit rymend pragtig verwoord het in sy gedig ‘Moeder en idiootkind’ (in die bundel Driepas, p. 44). Daar is sameness én otherness in die sjabloon en sy kloon! Daar is eweneens sameness én otherness in die Sjabloonwoordlogos en sy menigvuldige kloonrhemawoorde! Die proses tussen hulle word deur die eposwoorde gefasiliteer. Hierdie eposwoorde verhul en onthul tegelykertyd.

Om dus uiteindelik by die woordjie sjabloon uit te kom: Die woordjie templaat (in navolging van die Engelse template) het groter inslag in die taal gevind as sjabloon, eintlik ‘n baie ou woord in ons taalgeskiedenis. In Nederlands word dit voorgehou as “‘tekenmal, modelvorm”,
in Oudfrans eschandillon, wat “ijkmaat, standaardmaat” beteken, ontwikkel uit die vulgêre Latyn scandiculum‘, of  klassieke Latyn scandula, wat letterlik ‘dit wat opstyg’ beteken, wat maklik te herken is in die werkwoord scandere, wat om ‘op te klim’ of ‘om te bestyg’, in Engels: ‘to ascend’. (Uit: M. Philippa, et al. se Etymologisch Woordenboek van het Nederlands.)

In die gedig ‘Insinjes’ van T.T. Cloete (in Met die aarde praat – sien Leipoldt se ramkietjie hierbo in die bundeltitel raak!) is die versreëls: “In die sagte sneeuvlok se patroon / word water- en suurstof tot sagte snel oplosbare kant / gehekel, altyd getrou aan die één sjabloon van die heksagoon.” Ons weet die we(e)tenskaplikes sê elke sneeuvlokkie het ‘n eiesoortigheid en ‘n andersoortigheid, en wat ‘n lieflike voorbeeld is dit nie van die Sjabloon en ons, sy woordklone, nie!

  • Sela: Probeer die masskrif hierbo in die lig van die lering verduidelik.
  • Lees: 13-18
  • Memoriseer: 18:26 (wat sou die tipologiese verband hiermee wees?!)
  • Delf dieper: Lees een van die digbundels van T.T. Cloete hierbo genoem.