“die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome”
(Jes. 65:22, OAV)
Die foto wat verlede week, en dié week, op die Manna se masopskrif pryk, is geneem by die wynlandgoed Tokara in Helshoogte, naby Pniel, in die Wes-Kaap. Dit is ‘n beeldhouwerk wat bestaan uit ‘n aantal reuse-lasergesnyde vlekvryestaalbome deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Marco Cianfanelli. Die bymekaar gegroepeerde klompie bome lyk baie soos die wonderboom in Pretoria, wat verskeie stamme van dieselfde boom uit die aarde stoot. Oral op die takke van die boom is daar woorde wat uit die boomtakke spruit. Dit is eintlik waarlik soos wat die uitgeweke digter Meyer van Rensburg dit ‘n “woordboom” (in sy bundel Klankmanwoordboom) sou noem. Dit is interessant dat Cianfanelli sy beeldhouwerk betitel: Mine Vine, terwyl dit duidelik nie ‘n wingerd voorstel nie.
Hierdie besoek aan Tokara was tydens ‘n persoonlike pelgrimstog rondom die uitpluis van ’n nuwe openbaring oor die eposwoord. Dit het saamgehang met ‘n oornag in die Karoo op ‘n olyfplaas, Olive Grove, en ‘n onverwagte reis Oudtshoorn toe wat God, ná ‘n profetiese droom en woord, spontaan laat gebeur het. Die reis was grootliks oor die ontvouende pad vorentoe, en Tokara se woordboom was duidelik ‘n volgende eposwoord op/oor die pad.
Die feit dat die kunswerk benoem word as Mine Vine moet die Mannaleser op hierdie stadium nie verbygaan nie, want ons leer algaande hoe om detail te soek en God te vind.
- Allereers is die naam wat aan die beeld gegee word inkongruent met die uitbeelding van die beeldboom – dit is nié ‘n wingerd nie, maar ‘n versameling bome, perdalks selfs ‘n wonderboom, maar dit word eksplisiet ‘n wingerd genoem. Dit moet uiteraard van groot belang wees. Vir mý doeleindes is die wingerd ‘n ontsaglik belangrike leidraad, want dit is die Nuwe-Testamentiese simbool van die Bruid van Christus. In my soeke in die vorige Mannas in welke aflewering ek daaroor geskryf het om dit sodoende uit Bybelse oogpunt te fundeer, kry ek allereers Manna Dag 725-727. Hierdie Mannas het die masskrif: Eseg. 21:26 (TLB) – “… the old order changes …” Dit is presies die onderliggende rede vir my om op hierdie pelgrimstog te moes gaan, en uit te vind wat die nuwe orde binne die derde dimensie presies behels. In hierdie Manna is daar groot waarhede wat ons net weer aan die geestelike oor moet knoop.
- Ons weet onteenseglik dat die derde dimensie‘n tweërlei ontvouing ten grondslag het: “onse Here … en … sy Christus” (Op. 11:15). Die heerlike waarheid van Hand. 3:20 (NIV) word hier die nuwe fondament: “and that he may send the Christ, who has been appointed for you–even Jesus”. [Hierdie versie word ongelukkig dikwels sintakties verkeerd vertaal, en dan net voorgehou as Jesus Christus, soos byvoorbeeld in die OAV en die KJV. Elke jota en tittel en sintaktiese plasing in die Woord van God moet egter in sy oorspronklike seggingwyse vasgemaak word.] Die nuweverbondswaarheid is dat God sy Seun Jesus stuur, as die Verlosser, en dan Christus – Jesus die gesalfde Hoof (nou in die hemel) én sy gesalfde Liggaam/Bruid (nou op die aarde, alhoewel gesetel in hemelse plekke – Ef. 2:6). Nou kom Dan.7:27 in vervulling: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”
- Dán, in dié Manna van lank terug, word die laaste twee hoofstukke in Jesaja uit hierdie perspektief verduidelik. En dat dit ‘n Goddelike sinchronisiteit is, is toe vir my duidelik, want die masskrif vir die Manna het ek ook uit Jes. 65 gekry, voor ek nog op hierdie syspoor gegaan het! Al die volgende verwysings kom uit dié twee hoofstukke, en word met Nuwetestamentiese toeligting voorgehou.
- Die Bruid se korporatiewe identiteit (1Kor. 12:12) en goddelike natuur (2Pet. 1:4) word hier voorgehou in die pragtige beeld: “the new wine is found in the cluster” (Isa. 65:8, ASV).
- Sharon, die plein wat ‘n simbool van skoonheid en vrugbaarheid (1Kron. 27:29) vir Israel was, het in die ou bedeling “verkwyn … en soos ‘n woestynvlakte” geword (Jes. 33:9). Maar as “die narsing van Sharon, die lelie van die dale”, Jesus (Hoogl. 2:1), verskyn, word Hy die “Herder … onder die lelies”, wat die Bruid (Hoogl. 2:16) is! Aan hierdie lelies word die evangelie van “die heerlikheid van die HERE” (Jes. 35:2) toevertrou (2Kor. 4:4). Sodoende word aan die nuwe aarde tipologies beslag gegee: “The lush valley of Sharon in the west will be a pasture for flocks …” (Isa. 65:10, Message).
- Die “dal van Agor” het ‘n slegte geskiedenis (Jos. 7:24-26) – dit is die plek waar Agan, wat hom vergryp het aan die goed wat God geban het, deur die volk gestenig is en met vuur verbrand is, want hy het die hele volk “in die ongeluk gestort”. Dit is vernoem na Agan, wie se naam “moeilikheid” beteken. Die dal van Agor is dus ‘n simboliese plek van oordeel en korporatiewe calamity. Maar Hos. 2:15 profeteer dat die dal van Agor sal verander “tot ‘n deur van hoop”, vol wingerde (die nuweverbondsimbool van die Bruid se bestaan IN Christus Jesus – Joh. 15)! Soos die vervloeking en die dood deur een mens, Agan, ofte wel tipologies dan Adam, gekom het, sal die versoening en die lewe óók deur Een kom: “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.” Let op die klem op Één (“Ek is my beminde s’n, en my beminde is myne—hy wat herder is onder die lelies” – Hoogl. 6:3. Onthou ook Joh. 17:21, waar Jesus sê – “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees”.) Só word die dal van Agor ‘n deur van die hoop op heerlikheid, Christus in ons (Rom. 5:2; Kol. 1:27); letterlik dan soos Jes. 65:10 dit mooi sê: “a resting place for herds, for my people who seek me” (NIV).
- 65:15 – “Maar sy knegte sal Hy noem met ‘n ander naam …” ‘n Naam dui op ‘n identiteit, en hierdie nuwe identiteit in Christus, jou uniek-eie rhema-woord in die gedig van Christus, dui dié identiteit aan. Jy is ‘n “chip of the old Rock”. Soos Petrus prototipies deur sy naamgewing ‘n “rotsie” geword het (Joh. 1:42), kry jy ook in Christus jou eie wit rotsie, “‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang” (Op. 2:17).
- Met die herlees van Manna 725 voel ek God sê die Hebreeuse gematria van die getal 725 is belangrik. Ek kom netnou daarnatoe terug.
- Die wingerd, wat Christus verteenwoordig, is ook ‘n wonderboom van rhema-identiteite! Dit moet dan absoluut ook iets van die boom van die lewe voorstel, want dit is in hierdie eposwoord so dwingend ‘n kollektief bome, wat onteenseglik ‘n wingerd genoem word. In Manna Dag 1597-1599 is uitvoerig geleer oor Op. 22, die laaste hoofstuk van die Bybel, waarin ons lees hoe hierdie “stad van God” lyk – dit word allereers verduidelik as ‘n tuin, amper net soos in Génesis! Verse 1 en 2 spel dit uit: “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” Hier kom ‘n klompie dinge en detail by wat nie in die oorspronklike tuin van Eden was nie, maar die primêre en allerbelangrikste “item” van die paradys is steeds hier – die boom van die lewe. En op dié stadium behoort ons in die lig van die Tokara-wingerdstamboom vol woorde dalk ‘n verband te kan lê tussen die blare van die boom van die lewe, die vrug van die boom, en die rhemawoorde. ‘n Mens behoort nou weer te vra, soos vroeër – hoe is die boom getransponeer van die Tuin van Eden na die Nuwe Jerusalem? Nee, dit was nie! Die Tuin van Eden IS die Stad, die korporatiewe Liggaam van Christus waarin elkeen wat deel is van die Bruid, reeds woon! Dis ‘n stad vol woorde.
- As die vrug van die boom van die lewe dan korporatief deurgaans, 12 maande ‘n jaar, vrug dra, is die simboliek daarvan voor die hand liggend – dit dui op die vrug van die Goddelike natuur (2Pet. 1:4). Maar wat sou die blare dan wees? Dit wat die Bruid het, maar die nasies nié, wat wel vir hulle genesing kan bied? Niks anders as die Bruid se rhemawoorde nie! In Eseg. 47:1-12 word profeties heengewys na hierdie vermeerdering van die heerskappy en invloed van die Bruid van Christus uit wie hierdie strome lewende waters vloei wat oor die aarde gaan, en veral die see genees: “En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ‘n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom.” (verse 8-9).
- Ons moet net ‘n paar woorde wat gelaai is met geestelike betekenis hier uithef, sonder om verdere verduideliking te gee: lewende waters, oostelike landstreek, dat die water van die see gesond kan word, waters wat oor die ganse aarde gaan, dubbele stroom (onthou Elisa), menigte visse, alles sal lewe waar die stroom kom.
- Die eerste voorkoms van ‘n woord in die Bybel is dikwels van groot belang in die simboliese verklaring daarvan. Ons lees die heel eerste keer van blare in Gen. 3:7, die absolute eerste aksie van die gevalle mens en sy vrou, nadat hulle oë oopgegaan het en hul hul eie naaktheid raakgesien het, met ander woorde met die wete dat hul hul heerlikheid verloor het (Rom. 3:23), asook die Beeld van God (2Kor. 4:4) verloor het. Blare is dus duidelik ook die simbool wat dui op meganisme vir die herstel van die heerlikheid en die herstel van die Beeld van God in die nasies.
- Dit beteken dat daar ‘n tyd op die aarde sal wees waar die Bruid as gode (Joh. 10:34) vol lig en ewige lewe in verheerlikte liggame sal beweeg, terwyl daar nog baie ander ander sal wees in die wêreld wat nié getransfigureer het nie, en steeds genees moet word van siekte, vloeke en pyn. Die Bruid funksioneer dus as “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb. 12:23). In Jak. 1:18 word dit netjies uitgespel: “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.” Dit is die verskil wat ook in die gelykenis aangedui word as die onderskeid tussen die Bruid en die huweliksgaste (Matt. 22:1-14).
- Die wortelwoord van die woordjie blaar (‛âleh) in Hebreeus is die werkwoordjie ‛âlâh (ascending)! Die selfstandige naamwoord wat die substans van hierdie ascending bied, is die woordjie ‛ălâh, wat beteken: burnt offering. Lofprysing, offergawes, en so meer se ikoniese teken in die Skrif is altyd rook wat opgaan, (soos ook die verwante ‛ôlâh, wat wenteltrap beteken) en dit dui op die “aangename geur van Christus” (2Kor. 2:15) wat versprei word. Interessant dan – hierbo is genoem dat met die raadpleeg van Manna 725 ek gevoel het God sê die Hebreeuse gematria van die getal 725 is belangrik. Dit is die gematria van die woordjie wierook in Hebreeus! Onthou Dag 1666: Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman? En hier is ons weer vierkantig terug by die rede waarom ek en jy uit die voortyd geval het.
- Sela: Wat presies beteken “die kennis van die heerlikheid” wat die Bruid verloor het?
- Lees: 19-25; 1Kron. 1-2
- Memoriseer: 19:30 (wat sou die tipologiese verband hiermee wees?!)
- Delf dieper: Luister na die cd van Tom Gouws: ‘n Eenvoudige Verduideliking van die Christus