“… ‘n wiel binne-in ‘n wiel …”
(Eseg. 1:16, OAV)
Ons het verlede week die reuse-lasergesnyde vlekvryestaalbome op die wynlandgoed Tokai as vertrekpunt gebruik en dit as ‘n eposwoord ontrafel en ontsyfer, en as groot verrassing lieflike openbaring gekry oor ‘n paar onverwagse sake, ook byvoorbeeld die simboliese betekenis van die blare van die boom van die lewe. Ons het gevind, soos T.T. Cloete dit so mooi in sy gedig ‘die Begin’ (in Met die Aarde Praat, p. 28) se eerste twee versreëls digterlik uitspel:
die omwentelinge na die Begin
toe is die begin van die verwondering
Daar was egter nog enkele sake wat ons moes aansny toe die ruimte om te skryf totaal sy maat volgeloop het, daarom vervolg ons met hierdie Manna deur nog laaste aspekte van verlede week tot konklusie te bring.
Die reis via Olive Grove, Oudtshoorn, Calitzdorp, Tokara en toe Stellenbosch was ‘n persoonlike pelgrimstog rondom die uitpluis van die eposwoord as nuwe openbaring. Dit het ook saamgeval met die loodsing van wat ‘n mens ten beste ‘n tipe virtuele gemeente kan noem, wat deur die gerief van ‘n geslote Broadcast-WhatsApp-groep saamgestel is met spesifieke rhema-identiteite wat God uitgewys het. Ons is vir ‘n geruime tyd al besig om God se ontvouende wynsak van gemeentewees te ondersoek. Die wynsak van ekklesia soos ons dit ken, moet verander om by die veranderende sosiale stand van die veranderende gemeenskap te pas. Dit wat ons tans ken, is “verslyte wynsakke wat geskeur en weer toegebind” (Jos. 9:4) is. Omdat ons nuwe wyn van God kry, het ons nuwe wynsakke van geloofsgemeenskap nodig. Dit is absoluut waar wat Jesus in Luk. 5:37-38 sê: “En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.”
Ons weet onteenseglik uit Jes. 65:8 – “the new wine is found in the cluster”, derhalwe is daar ‘n nuwe verstaan van funksionering van die korporatiewe Liggaam van Christus nodig om die nuwe openbaring van die derde dimensie as voertuig te kan dra.
Die feit dat die beeldhouwerk van lasergesnyde vlekvryestaalbome op die wynlandgoed Tokai as eposwoord gedien het op my reis, sluit ten nouste hierby aan. Ek het genoem die kunswerk se titel is ‘n kontradiksie in terme – dit is duidelik ‘n versameling bome, of ‘n klein woud, maar die kunstenaar benoem dit as Mine Vine. Wat hierdie betiteling nog vreemder maak, is dat die twee woorde ‘n foutiewe taalkundige konstruksie is. Dit moet wees: My Vine. Daarbenewens rym die twee woorde! Dus is daar in hierdie kort benaming ‘n driedubbele vooropstelling van bevreemding:
- die semantiese inkongruensie van die konkrete teken en die benoeming
- die foutiewe taalkoppeling; en
- die eensillabige slagrym van die twee woorde. As enigiets in taal só duidelik vooropgestel is, en boonop bevreemdend is vir die persoon wat dit moet interpreteer, is die simboliese bedoeling daarvan ‘n uitgemaakte saak.
Die titel van die eposwoord Mine Vine kan boonop op ten minste vyf wyses gelees word:
- ‘n hiperpersoonlike aanspraak van persoonlike besitname (as jy dit as ‘n ‘foutiewe’ voornaamwoord lees), “used to refer to a thing or things belonging to or associated with the speaker” (die definisies grootliks uit com)
- Mine as ‘n selfstandige naamwoord, met ander woorde ‘n mynwingerd, vir ons weliswaar ‘n vreemde samestelling, maar geestelik van groot ontsluitingswaarde. Die woordjie “mine” beteken dan hier “an excavation in the earth for extracting various valuable resources, like coal, minerals, etc.”
- Ook as ‘n selfstandige naamwoord kan dit metafories dui op “an abundant source of something, especially information”
- Nog ‘n selfstandige naamwoord is “mine” as “a type of bomb placed on or just below the surface of the ground or in the water, which detonates on contact”. Hierdie militêre verwysing dui op die ontploffingswaarde van ‘n oorsprong tot miljoene onderdele teen ‘n geweldige spoed, letterlik ‘n disseminasie (“the act of spreading something”, of dan: “the broadcasting of an idea or message on a large scale to make it reach a wide audience”). Let op na die basiswoord hierin wat vir ons van belang is: semen. Uit sy Latynse oorsprong beteken die woord ‘disseminasie’ dan dis- (“in every direction”) + seminare (“to plant, propagate”), van die wortelwoord semen (“seed”). Laasgenoemde kan uit ‘n linguïstiese beskouing ook “semes” wees, “a minimal distinctive unit of meaning”, oftewel woorde!
- Die woordjie “Mine” as ‘n werkwoord en dan ‘n imperatief, die aksie van om te myn: “obtain from a mine”, wat ‘n wye toepassingsarea kan hê: “obtain minerals etc. from a mine; dig in the earth; exploit a source of information or skill; analyze a database to generate new information; obtain units of a cryptocurrency through the solving of mathematical problems”.
Hierdie hele taalkundige ekskursie moes ons net uiteraard bring by die feit dat ons hier deurentyd al hierdie toepassings met rhemawoorde in verband kan bring! Mine Vine is onteenseglik ‘n benaming van hierdie wonderboom van die lewe wat rhemawoorde as blare dra, en wat dui op die uitwaaierende, disseminerende proses waardeur die woorde oor die aarde gaan, soos Ps. 19:4 verduidelik: “Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld.” Bogenoemde twee gejukstaponeerde sinne word in die Hebreeuse stylwyse as ‘n parallel aangebied:
hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde,
hulle woorde (gaan uit) tot by die einde van die wêreld.
Die Bruid se woorde is dus ‘n meetsnoer, ‘n “measuring line”. Hierdie maatstaf van die Bruid, wat uitvoerig in Manna Dag 1700-1701 verduidelik is, handel oor die prototipes wat die linguïstiese kodewoorde in en deur taal realiseer – die skrywers met die horinginkpotjie aan die lendene, die skribas wie se saad ink is. Martin Manser se Dictionary of Bible Themes verklaar die begrip skietlood of dan meetsnoer as kommoditeit helder soos volg: “It is used symbolically to refer to the divine standard against which God, the builder of his people, tests and judges them. It also symbolises the standards by which God will rebuild his people.” Amen! Die Argitek is onsigbaar in sy gebou, maar onteenseglik dáár!
Ons Mannalesers sal onthou dat in Manna Dag 1700-1701 ons die (hernude) mandaat vir die skryf van die Manna in Eseg. 9:1-3 gebied het, maar Eseg. 8 bied egter die nodige konteks om dit na behore te verstaan. In daardie lering het ons ook vir die eerste keer uitgekom by die gérubs, wat van tóé af ‘n prominente tema ter verkenning geword het, en waaruit die eposwoord mettertyd gespruit het. Hierdie mandaat van Eseg. 8 & 9 gaan ook gepaard met die meet van die eindtydtempel waaroor Esegiël uitvoerig geprofeteer het (die woordjie “meet” of “gemeet” kom bykans 70 keer voor in net die drie hoofstukke van Eseg. 40-42!). Dié profetiese tipologie van ‘n tempel – wat nooit histories gebou is nie, maar geestelik besig is om gebou te word – word uitvoerig in die boek Openbaring verduidelik. In Op. 11:1 word die opdrag deur God gegee: “meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid”. Let op – dit is nie net die korporatiewe tempel wat gebou word nie, maar ook “die wat daarin aanbid”, die individuele tempels van elkeen in die Bruid (1Kor. 3:16).
Hierdie korporatief van die Nuwe Jerusalem wat gebou word, moet deurgaans gemeet word aan/met die meetsnoer van die rhemawoorde. Op. 21:15, die hoofstuk wat grootliks handel oor hoe die Nuwe Jerusalem lyk, spel dit eksplisiet uit dat dit gemeet moet word met “’n goue meetroede … om die stad en sy poorte en sy muur te meet”. [Goud is die kleur van openbaringskennis, weet ons.] Om te sorg dat rhemawoorde presies korrespondeer met die presiese maat van die Logos-Woord, word eposwoorde gegee om die transisie te fasiliteer, en te sorg dat die bekwame boumeesters (1Kor. 3:10) noukeurig let op hoe hulle bou. Ons almal wat bou is kontrakteurs wat deur God – die oorkoepelende Boumeester en Oprigter (Heb. 11:10) – aangestel is om hierdie tempel in die geestelike realm te bou.
Die nuwe wynsakke wat dus die nuwe openbaringswyn moet dra, is bepaalde groeperinge van die ekklesia, “‘n wiel binne-in ‘n wiel” (Eseg. 1:16). Hierdie kenmerk van hoe die ekklesia, of die gérubs funksioneer, kan nou maklik verduidelik worddeur middel van die konsep van ‘n sjabloon, wat ons ‘n rukkie terug deurgetrap het, veral die ontvouende aard daarvan.
Ons lesers moet besef dat die gemeente ook eposwoorde is, wat uit ontvouende eposwoorde bestaan, wat as individue en as klein korporatief ontvou in ander wiele-in-gemeenskap, wat ook eposwoorde is, en deel is van groter wiele-in-gemeenskap, wat ook eposwoorde is. Soos wat daar ‘n ontvouing van en in ander is, vermeerder die kennis van die heerlikheid (2Kor. 4:6) en word dit al hoe meer oorgedra (“impart”) na mekaar. Sodoende sal “die aarde … vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14). Hierdie nuwe aard van gemeentewees in die derde dimensie veroorsaak ‘n sinergie los van denominasie en kerkgroepering – dit fokus op verhoudinge in die Christus, maar het ‘n uitwaaierende ontvouing veel wyer as die persoonlike verhouding of die byeenwees in vlees – dit gaan, soos hierbo uitgewys in Ps. 19:4 – “oor die hele aarde, tot by die einde van die wêreld”. Op hierdie wyse bewerkstellig God dat die ganse wêreld deur Jesus “die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saamvoeg” (Joh. 11:52).
As gevolg van die vermeerdering van openbaringskennis, oftewel kennis van die heerlikheid, of dan: kennis van genade en waarheid, is daar ‘n totaal nuwe struktuurlose struktuur van die Liggaam, sonder enige beheer en manipulasie, met die sewevoudige Gees wat die ontvouingsproses fasiliteer. (Hieroor sal ons nog later in groter detail skryf.) Die Liggaam is dus ‘n mynwingerd met al vyf die betekenismoontlikhede van “myn” wat geaktiveer word. Lees weer bogenoemde uiteensetting om die omvang van die werking van hierdie Goddelik-geïnspireerde proses te begin verstaan. Die grondslag van die proses is transendensie, of dan die proses van transendering. Kortweg beteken transendensie bloot die oorskryding en oordrag van die een/die self, na ‘n ander. (Hieroor skryf ons later ook uitvoerig meer.)
Dit is dus te verstane dat ‘n Whats-App-groep soos hier bo beskryf ‘n gemeente kan wees, ‘n bepaalde “wiel binne-in ‘n wiel”. Op hierdie reis het ek deur die Gees gelei gemeentelede op grond van hul identiteite in Christus toegevoeg (Hand. 2:47). Hierdie eposwoordgemeentegroep, wat ek benoem het: De Oude Hoorn-skatkamers, het my deur die reis as deel van die wolk van getuienis begelei om algaande meer openbaringskennis vry te stel. Veel meer van die detail van hierdie openbaringe sal in volgende Mannas gedokumenteer word tot lering en stigting, en as voorbeeld van hoe hierdie tipe Godinspraak prakties werk in die omvattende ontdekkingsreis deur tyd, voortyd en ewigheid, “tot Hy Homself ontdek / in ons oë oopgevlek”.
- Sela: Probeer die naam van die WhatsApp-groep Bybels-tipologies verklaar in die lig van dié
- Lees: 3-11
- Memoriseer: 10:13 (wat sou die tipologiese verband hiermee wees?!)
- Delf dieper: Luister na die cd van Tom Gouws: Die Laaste Reformasie vra ‘n nuwe Vangnet – Bruidwees
en die Drie Nette aan die Ander Kant