“… My Vader, My Vader …”
(2Kon. 2:12, OAV)
Die Mannalesers sal weet dat ons al voorheen die woordjie intermezzo gebruik het. Dit is ‘n Italiaanse woord wat in die mees algemene direkte sin dui op ‘n kort tussenspel (in musiek) of tussenbedryf (in drama) tussen groter en belangriker dele van die komposisie/opvoering. Die HAT verduidelik dit ook as iets wat gesê of gedoen word as onderbreking of afdwaling van die eintlike onderwerp. Hierdie spesifieke Digitale Manna is inderdaad ‘n intermezzo, wat ten doel het om iets absoluut tersyde hier in te gooi, met dien verstande dat dit ons sekere dinge op ‘n wyer en dieper vlak, meer in perspektief, sal laat verstaan.
Die noulettende leser sal ook opgemerk het dat ek die laaste klompie Mannas ‘n hele paar keer na die digter T.T. Cloete verwys het, en van sy gedigte aangehaal het ter illustrasie of toeligting van sekere aspekte van die ontvouende geestelike openbaringe wat gedokumenteer is. Daar is ‘n baie goeie rede hiervoor.
In Manna Dag 1003 het ons in detail begin praat oor God se voleindiging van die verbond met Israel en dat sy diensdoenende priesters ingelei word deur “die gees van Elia” (Mal. 4:5-6). Daarna hoor God se verbondsvolk, Israel, en die Leviete, kortom – níémand meer, die stem van God nie. As God deur Johannes die Doper dan vir die eerste keer in 430 jaar weer praat, sê Hy kragdadig: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Matt. 3:2). Die koninkryk van Israel word daarna vervang deur die koninkryk van God. Dit word ook bevestig deur Jesus, die verwagte Messias, Hý tot wie die ganse geskiedenis van Israel opgebou is, as Hy vir die eerste keer praat, en dit ook sý presiese eerste woorde is: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Matt. 4:17).
Die woordjie wat hier vir “bekeer” gebruik word, is metanoeō, wat beteken “to change one’s mind” (Thayer), in die sterk sin van reformeer. Johannes die Doper en Jesus die Christus het ‘n nuwe Reformasie ingelei. Bruxy Cavey stel dit raak: “Jesus … have successfully replaced religion with himself” (The End of Religion, p. 146). Híérvan sal Johannes die Doper die voorloper of wegbereider word.
In die lig van die geskiedenis van Elia en Elisa en die geestelike vader- en seunskap tussen hulle, word dié verbondsverhouding die gestelde standaard van die nuwe verbond.
Wanneer Jesus oor Johannes die Doper praat, ken Hy aan hom die hoogste posisie toe in die volle voorafgaande vierduisend jaar van die Ou Testament. Vanaf Adam tot en met nou, sê Jesus, was daar niemand groter van geestelike statuur en belangrikheid as Johannes die Doper nie. Jesus verklaar hierdie man se woorde as gesanksioneerde Godspraak (Matt. 11:11).
Maleági het geprofeteer dat die gees van Elia hierdie nuwe bedeling (in die gestalte van Johannes die Doper) sal inlei, en dat dit hoofsaaklik sal gaan oor geestelike vaderskap, miskien dié belangrikste verantwoordelikheid wat enige priesterdom móét fasiliteer – in God se eie woorde – “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.” (2Sam. 7:14). [Lees dalk weer Manna Dag 363 oor hierdie onderwerp.]
Johannes die Doper verteenwoordig ten diepste die daarstelling van ‘n nuwe priesterskap. Daarom is dit so duidelik dat die laaste twee verse van Maleági die hele vooropstelling van die gees van Elia in Johannes die Doper voorafgaan. Miskien is die belangrikste mandaat van die gees van Elia dié woorde van Jesus in Matt. 17:11 – “Elía kom eers en sal alles herstel.” Vir die afgelope 15 jaar (van 2003 tot 2018) het ons noulettend op die spoor van Elia geloop in die beslaggewing van hierdie Goddelik gesanksioneerde proses. Soos Johannes die Doper die voorloper was wat die weg oopgemaak en gelykgemaak het vir Jesus, die Verlosser van die wêreld, was die spesifieke roeping van ElijahAfrica as ‘n apostoliese huis om die weg voor te berei en gelyk te maak vir die Christus, die korporatiewe Gesalfde, die gesalfde Bruid van Jesus. Met die volvoering van die mandaat, teen die einde van April 2018, het God begin gestalte gee aan ‘n nuwe formaat van ekklesia, waaroor ons in die laaste Manna begin skryf het.
Later sal ons dít egter spesifiek verder verken.
In my persoonlike pad is dit belangrik dat ek op hierdie stadium ‘n getuienis moet bring oor die vaders wat God my gebied het om my voor te berei vir die rol wat ek in die besonder speel in die uitvoering van God se agenda om alle dinge met Hom, in, en deur, die Christus, te verenig (Ef. 1:10).
Ná my kragdadige bekering op 15 September 1977 het ek as jong, onervare, maar absoluut voortvarende seun binne twee weke my eerste geestelike kamp gehou. Ek het die kampplek gereël, my opgespaarde sakgeld gebruik en kos gekoop, tente en vervoer gereël, ‘n klompie onwillige en verveelde jongmense opgespoor en ‘n naweekkamp gehou. Ek het al die kos self gemaak, ‘n geestelike en beestelike program saamgestel, en al die lering behartig. Vandag sidder ek behoorlik as ek dink wat ek hulle geleer het, want ek het waaragtig niks geweet nie, en niks tot hul beswil kon bied nie, behalwe ‘n brandende passie om God te dien, en die goeie nuus van die evangelie wat ek met die res van die dwalende mensdom wou deel. Dit was toe reeds ‘n onmiskenbare vuur wat in my aangesteek is om ander te leer en voor te loop in hierdie avontuur van God.
By die skool het ek pouses kerk gehou, en Vrydagaande YP (YoungPeople), ‘n tipe jeuggroep wat saamgekom het en gesing het, gebid en uit die Bybel gelees het en hul geestelike lewens deurgeworstel het met mekaar; Saterdagaande geestelike films gewys en uitreike gehou, met dramatiese bekerings en alles wat daar rondom heen gebeur het. Party Sondae is huisgemeente gehou, ‘n klein groepie wat die wonder van ekklesia begin beleef het. Teen die einde van standerd nege was ek voorsitter van die skool se ACSV en was daar ‘n reformasie in die kleine in die skool aan’t gebeur, met seker die helfte van die skool brandend vir ‘n nuutgevonde geloof, en die helfte van die skool vurig gekant teen al die sektariese nuwighede. Ek het rondgery op ‘n groot ou groentefiets, waarop ‘n geel plakker dit uitgespel het waarvoor ek staan: JESUS LEEF! Aan die einde van standerd nege, net na die aflegging van my geloofsbelofte in die NG Kerk, is ek met ernstige skorsing van die kerk gedreig.
God moes my op ‘n manier toerus, want ek het waarlik gevaarlik geword. My heel eerste geestelike vader was ‘n mediese evangelis wat as spesialis by die Bophelong Hospitaal buite die destydse Mafeking gewerk het, Dr. Ben Sawyer en sy vrou, Kathy. Hulle was vanaf Kanada na die Noord-Kaap se uithoeke gestuur omdat God beskik het dat hy my onder sy vaderlike vlerk moes neem. Nét na my bekering het hy een aand oor my geprofeteer, en gesê: “Jy is geroep om die geheimenisse van die Bybel, en veral die boek Openbaring, oop te maak, en daardeur mee te werk om ‘n eindtydreformasie te laat gebeur, wat die Bruid van Christus sal toerus om alle dinge met God te versoen.”
Ek dink nie ék, en dalk selfs hy ook, het verstaan wat dit presies beteken, en ingehou het, nie. Maar gedurende daardie laaste skoolvakansie van standerd agt, het Dr. Sawyer my ‘n boks vol teologiese geskrifte oor die boek Openbaring gegee, en ek moes dit deurwerk en daarna met hom gesprek voer daaroor. Dit was die patroon vir die volgende twee jaar – ek het my verdiep in die geheimenisse van die apokalips, en probeer verstaan wat almal oor hierdie boek vol misterie Gods probeer sê. Met die loop van baie jare het dit my grootste persoonlike fokus gebly. In die proses het my geestelike vader baie tot my ingespreek, maar veral my gerig rondom my roeping. Hy was nie net ‘n leermeester nie, maar bepaald ook ‘n tugmeester na God toe.
Een van my kosbaarste besittings is die getuigskrif wat dr. Sawyer my gegee het toe ek na matriek gaan studeer, en hy kort daarna vertrek het Kanada toe. Ek het hom nooit weer gesien nie, en vermoed dat hy bes moontlik reeds oorlede is. My Vader, my Vader …
In my eerste jaar as student aan die PU vir CHO het ek kennis gemaak met die mees enigmatiese figuur, wat ‘n bepalende rol in my lewe sou speel, prof. T.T. Cloete. Hy was reeds baie siek, en sy kinders het toe groot druk op hom uitgeoefen om sy jarelange versameling gedigte te publiseer. Dit het hom as gevestigde literator en dosent ‘n totaal ander faset as mens laat openbaar. In die jare wat gevolg het, het ek sy geestelike seun geword. Miskien kan ek die lang pad wat ons geloop het ten best illustreer met die kort huldeblyk wat ek oor hom geskryf het.
VAARWEL AAN ‘N VADER
Toe die nuus oor die dood van TT Cloete my gisteroggend in die vroeë nagure bereik, was dit nie onverwags nie, maar onthutsend, en vol verlatenheid. Hy was vir my as ‘n verskimmelde eerstejaartjie ‘n ruim hawe waar my dobberende seilskepie kon vasmeer. Later was hy die argeoloog en sterrekyker wat my deur potskerf en ster deur die lens van tekste na die Syn laat soek het. Hy is die een wat my op nagraadse vlak ingelei het in die geheimenisse van die poësie – ja, alles wat ek vandag weet van die dromende denke van gedigmaak het ek aan sy voete geleer. In dit alles was hy vir my ‘n vader, dié Krom Joggom Konterdans van Vredefort-se-Koepel wat my eerste vioolhoepel met vier snare gemaak het. Soos dit gaan met opregte lewe, was ons soms de vieste in vir mekaar, maar nooit ooit sonder die liefde, en veral nie die ironie van digterlike vaders en seuns nie. Saam het ons uiteindelik mank aangeland in Anderland, met oë vol verwondering. Geliefde prof. TT, jy sal vir my tydloos en ewig bly, soos Marilyn M, ons altwee se private obsessie. Vir jou dan, soos vir haar, ‘n allerlaaste gedig oor die allerlaaste moment wat, Goddank, sal dúúr.
En dan het ek ‘n gedig geplaas oor Marilyn Monroe, vir hom, wat my met nuwe oë na MM as eposwoord laat kyk het, en na God. My Vader, my Vader …
En toe stap dr. Kelley Varner my lewe in. Dit het ‘n dawerende transisie van teologiese denke meegebring. Oor hom sal ek eweneens lang verhale en getuienisse kan skryf, van sy merkwaardige lewe en miskien méér van sy meer merkwaardige dood, en hoe dit my ten diepste gerig het en in my roeping lanseer het. Wat ek van die teologie weet, van hoe die Bybel gelees en verstaan wil word, het ek van hierdie literêre apostel ontvang. Bepaald is dit so, onteenseglik: hy het my “vader geword deur die evangelie” (1Kor. 4:15). My Vader, my Vader …
In Manna Dag 824-826 het ek ‘n essay geskryf oor die merkwaardige skildery van Rembrandt, Terugkeer van die Verlore Seun, wat in die Ermitage-museum in St. Petersburg hang, en die transendensie wat dít as eposwoord in my meegebring het. “En dis wat hierdie heilige moment in die skildery word – ‘n altaar. Die pa se geboë lyf, sy ou hande op die rug van sy toegekeerde seun, die hande wat gloei van genade en salwing, hande wat onthou. Die versmelting van die vader se hande op die seun se gebroke skouervlerkies spreek van die enigste moontlike vervulling van ons eksistensiële eensaamheid – as ons heimwee na God versadig word in die aanvaarding, die verlange, die verwondering, die vreemde hunkering waarin niks anders en niemand anders as die Vader kan voorsien nie. Dit is Tuiskoms.” Ek leer ken uiteindelik die Vader van die vaders, van wie Jak.1:17 spreek, weliswaar ook oor geestelike vaderskap: “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” My Vader, my Vader …
- Sela: Is jy geestelik gevader?
- Lees: 12-20
- Memoriseer: 12:22 (watter belangrike rol speel geestelike vaderskap hierin?)
- Delf dieper: Gaan soek die skildery van Rembrandt en lees dit as eposwoord.