Dag 1739-1740

 

“Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel;

ek is met vars olie gesalf.”

  (Ps. 92:10, OAV)

Ons het die vorige twee weke met die syspoor oor fisiese en geestelike vaderskap uiteindelik by ‘n groot waarheid rondom vaderskap as eposwoord uitgekom. Dit was net ‘n fokus op die geestelike dinamika van vaderskap in die eerste en tweede dimensie, wat Erich Fromm in sy boek The Art of Loving (p. 18) in ‘n ander konteks genoem het: “interpersonal fusion”. My voorvaders loop nou as ‘t ware in my rond! Hierdie generatiewe vaderskapoordrag is in wese ‘n transpersoonlike fenomeen, ‘n baie bruikbare begrip wat ek raakgelees het in Stanislav Grof se boek: Beyond the Brain (p. 78). Dit beteken vir ons huidige gesprek oor geestelike vaderskap dat daar ‘n oordrag van die (geestelike) vader na die seun is wat hom/haar eksponensieel verruim en vermeerder. Binne die geestelike wetmatigheid van generatiewe vermeerdering word daar letterlik binne die bestaande bekende kapasiteit van die seun nuwe onbekende kapasiteit van die vader af oorgedra, bykans soos deur die proses van interpolasie wat in die wiskundige veld van numeriese analise gevolg word.

Ons sal later in groter detail uitkom by derdedimensievaderskap, waar die verskillende rhemawoorde in God se gedig mekaar in hul geestelike identiteit vader. Ons noem dít korporatiewe vaderskap. Dis tog so duidelik dat dit hierdie die kulminerende, oorkoepelende einddoel van vaderskap is, ‘n proses waardeur Jesus in besonderhede en Goddelike besonderhede in die Christus vermeerder word. Sodoende word dit, sê Ef. 3:9, “vir almal aan die lig (ge)bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus die Christus”!

Terwyl ek hier skryf, herinner God my aan Manna Dag 1651-1653, wat nou vir my as eposwoord-prompting dien. In daardie Manna het ons oor buffels gepraat, en gesê dat orals waar die Skrif van buffels praat, ook van die stiere en beeste van Basan en Bosra, word die salwingsolie van die Christus op die horings van die buffel uitgespel, waarvan Ps. 92:10 die treffendste is: “Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.” Ons sluit daardie Manna af met hierdie sin: “En ons kom uit by die eksemplariese rhema-identiteite wat as wondertekens gebruik word.” [Onthou – ons is oorkoepelend besig om al die rhemawoorde stelselmatig te begelei om hul ware identiteit in Christus na te speur, en in die proses kom ons uit by heelparty wondertekens ter illustrasie. Maar die een wat dwingend uit die wolk van getuienis hier hierdie eksemplaar van die Manna transendenteel rig, is een van my geestelike seuns, Stephan Botha, wat in ‘n fratsongeluk ‘n jaar of so gelede gesterf het. Sy woord in die gedig is Buffelhoring. As jy nou kyk na die masprentjie hierbo, sal jy die verband tussen die vader Horing en die geestelike seun Buffelhoring onteenseglik duidelik sien.]

Baie belangrik op hierdie stadium is om te weet dat die wortelwoord van die woord ‘buffel’ in Hebreeus die woord râ’am is, wat “to rise” beteken (BDB). Dié woord se Hebreeuse gematria is 241, wat ook die woord is vir “a word, poetic speech, song of victory; promise; a matter or thing”, of dan in Grieks getranslitereer: jou rhemawoord! Sien asseblief die bonatuurlike kommunikasie hierin raak – hier word die dubbel salwing van geestelike vader-en-seunskap ook gedra deur die Hebreeuse gematria van die gedeelde woord: (buffel)horing! Kyk ook na die prentjie hierbo, en jy sien die horings ascending! Inderdaad – “Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.”

Vars salwing? Die gematria van hierdie woordjie “vars” in Hebreeus is 611, en die Ou-Testamentiese woord wat een van die belangrike ekwivalente hiervan dra, is die woordjie mantel, met as voorbeeld: 1Kon. 19:19, waar dit gaan oor Elia en Elisa, en ‘n mantel! Die Nuwe-Testamentiese woordjie wat ook hierdie gematria-ekwivalent dra, is die woordjie “robe” (in Afrikaans ‘n swak vertaalde “klere”), soos byvoorbeeld in Op. 6:11. Robe behoort ook as mantel vertaal te kan word, dus is dit weer ‘n dubbele salwing wat hierdeur gesuggereer word. ‘n Mens staan in absolute Godsverwondering oor die detail van hierdie eposwoorde wat God tans gee oor geestelike vaderskap en die belangrikheid daarvan as Goddelike wetmatigheid. In sy uitnemende boek: Figuring the Sacred, skryf die filosoof, literêre apostel en hermeneut, Paul Ricoeur, die volgende: “that God is designated at the same time as the one who communicates through multiple modalities of discourse” (p. 228). Voorwaar.

Ons Mannalesers sal met hierdie mooi voorbeelde algaande al hoe meer vaardig word om die verskillende vlakke van kommunikasie in die eposwoord te gaan soek en algaande opgeneem te word in die Goddelike identiteit waarin jy gespieël word, wat nie meer net ‘n raaisel is nie (1Kor. 13:12). Jy word langsamerhand kwiëtis:

ek dra u onsigbare

oorweldigende gewig

selfs in my swik

en in my struikel en lê beskik

u nogtans u voortvarende ondraaglike wil

ek is   hoe anders   kwiëtis

en   dis self aanmatigend

om dit te sê    ondergeskik

aan u en in u stil

ek is so gekrullip

dat u iets van u wil daarmee vertrokke verklik

Hierdie gedig van TT Cloete, ‘kwiëtis’, uit die bundel Allotroop, verklik nie net iets meeslepends groots van God nie, maar van al sy navolgers wat sy ontwykende en soms “ondraaglike wil” soek. Hul word kollektief hier “kwiëtiste” genoem, volgens die HAT “aanhangers van die kwiëtisme”, wat voorts beteken: “’n mistieke Christelike tradisie”. Onthou mistiek handel oor die strewe tot eenwording met die Godheid, en hier beteken dit spesifiek om “u onsigbare / oorweldigende gewig” te kan dra, dít wat Paulus in 2Kor. 4:17“‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” noem. Sien hoe mooi spieël en verruim die frase “ek is … kwiëtis” tegelykertyd God as die “Ek is …” (Ex. 3:14), en Déscartes se “Ek dink, daarom is ek”. Laasgenoemde is al reeds in ‘n vorige Manna verruim, en aan taal as kommunikasiewyse tussen God en mens geknoop, spesifiek die mistieke taal van die poësie, die workmanship. ‘EK IS’ en ‘ek is’ word deur taaltransendering mistiek een. Sela. In TT Cloete se formidabele boek: Die Ander Een is Ek, sê hy: “Die gedig, wat werk met ‘the power of words’ (Philip Yancey), is … een van die kragtigste en mees magiese kragte tot selftransendering.” (p. 58). Dit geld natuurlik vir my, maar veral veel meer ook vir God, wat deur die eposwoord Homself (sy Logos) deur Selftransendensie aan my Rhema openbaar. Weer eens Erich Fromm: “The only way of full knowledge lies in (this) act of love; this act transcends thought, it transcends words. It is the daring plunge into the experience of union.” (p. 31). God trek my nie net met “koorde van liefde” (Hos. 11:4) nie; Hy trek my ook met sy woorde van liefde, sy liefdesgedigte wat Hy as eposse van die Van-Self-Sprekende stuur.

  • Sela: Dis is onmiskenbaar duidelik hoe die voorgangervader tot my denke getransendeer het.
  • Lees: 27-29; 2Kron. 1-3
  • Memoriseer: 28:19 (wat is “al die werke van die voorbeeld”?)
  • Delf dieper: Lees een of meer van die boeke hierbo genoem. As dit kan, lees almal.