Dag 174

 

“If the foundations are destroyed, what can the righteous do?”

(Ps 11:3, MKJV)

 

Die vermenging en kontaminasie wat plaasvind in geloofgemeenskappe gebeur dikwels sonder dat gelowiges dit besef. Dikwels vind dit nie noodwendig plaas deur “valse profete (en) leraars … wat verderflike ketterye heimlik … invoer” (2 Pet 2:1) nie, maar ook deur “verderflike praktyke” (Hos 5:2).

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die rol wat die Vrymesselaars speel ten opsigte van kerke. Die Vrymesselaars is ‘n geheime organisasie wat daarop gerig is om deur die broederskap mekaar veral in besigheid te ondersteun. Dit het ‘n humanitêre doel na buite en is dikwels deur frontorganisasies betrokke by verskeie aspekte van die gemeenskap waar hulle funksioneer. Alles lyk op die oppervlakte alte goed en mooi.

Tog skuil in hierdie beweging onteenseglik “die dieptes van Satan” (Open 2:24). Die ruimte ontbreek om in te gaan op die demoniese fondamente waarop die organisasie gebou is, maar uiteindelik sluit elke lid deur rituele en verbonde ‘n kontrak met Baphomet, wat niemand anders as Môrestêr, of dan Lucifer, is nie (Jes 14:12). Dit het geweldige implikasies op allerlei vlakke vir die nageslag tot en met die vierde geslag (Eks 34:7; Num 14:18; Deut 5:9).

Maar ons het dit vandag oor die onwetende betrokkenheid wat gelowiges kan hê by Vrymesselaarpraktyke. In die geestelike realm is legal right ‘n fondasiebeginsel, en dit is gegrondves in God se onaantasbare geregtigheid (Ps 48:10; 71:19; Jes 5:16) en ons aangryp van Christus as ons geregtigheid (1 Kor 1:30) en ons najaag van geregtigheid (Deut 16:20; Mat 6:33; 1 Joh 3:7). As daar enige vorm van godsdienstige eiegeregtigheid is (Rom 10:13), gee dit reg aan die vyand om deur rituele en vals verbonde aanspraak te maak op beheer. Byvoorbeeld: Vrymesselaars in die kerkraad organiseer dikwels dat nuwe kerkgeboue deur medemesselaars opgerig word. Allerlei messelaarartefakte word dan deur rituele in die fondasies geplaas. Sodoende vind daar ‘n bewitchment (Gal 3:1) plaas! In die NG Kerk waar ek grootgeword het, is die Vrymesselaarstekens triomfantelik aangebring op die houtraampie van die boekekis asook die Psalm/Gesang-bordjie. Het dit ‘n invloed? Uiteraard, want die grond is gewy aan Satan! (Dan praat ‘n mens nie eens van al die ander wydingsimbole, byvoorbeeld die haan – wat dui op verloëning in die gees, Mat 26:75) – wat op die kerktoring staan, nie!) Dit bring dikwels ‘n gees van verwarring en misleiding in die gemeente waar hierdie praktyke plaasgevind het en sodoende word die kerk – as dit nie hanteer word nie – dikwels ‘n rowespelonk (Jer 7:11). En Ps 11:3 vra tereg: wat kan die regverdige doen as die fondasies aan Satan gewy is?

 

  • Sela: Moenie op ‘n heksejag gaan nie, maar kry meer inligting en vra vir geesonderskeiding.
  • Lees: 1 Kon 3;  Spr 30; 2 Thes 3
  • Memoriseer: Bid 1 Kon 3:9
  • Vir dieper delf: Lees July de la Guerre se boek Elke New Age-knie sal buig.