“Besny dan die voorhuid van julle hart …”
(Deut. 10:16, OAV)
Ná ons die vorige drie weke op ‘n syspoor oor fisiese en geestelike vaderskap gegaan het, keer ons terug na waarmee ons met Manna Dag 1731-1733 afgesluit het. Ons Mannastudente sal onthou dat om die wesensaard van die eposwoord uit te vind, het God my op ‘n reis laat gaan, en ons moet die volvoering van die reis en die verdere toeligting van die reis nog afhandel.
Maar alvorens ons by daardie diepgang van openbaring kom, is dit van belang om eers tyd af te staan aan ‘n meer duidelike omlyning van die eposwoord, ‘n oefening wat begin het met die ratverwisseling van die Manna, met Dag 1700-1701. Wat belangrik is om te weet, is dat daardie rat na die funksionering in ‘n nuwe dimensie gegrondves is in ‘n bepaalde belofte van God, wat gesetel is in die gematria van die getal 1700:
- Dit is interessant dat daar geen Hebreeuse woordjie is met hierdie gematria-getal nie. Dit sou kon beteken dat dit uit-en-uit in ‘n Nuweverbondse konteks verstaan moet word.
- Die enkele Griekse woorde wat wel dieselfde gematria het, het grootliks ‘n absoluut gemene deler, en wel dat dit die mens se gevalle toestand kwalifiseer: blind, lam (om nie te kan loop nie), en om onder bewaring / in gevangenisskap / onder beleg te wees. Daarmee saam hang ook ‘n ander woord met dieselfde gematria, voorste plekke, wat telkens in al die gevalle waar dit voorkom in die Bybel negatief gebruik word vir gelowiges wat ter wille van hul ego ‘n gesiene posisie (soos in die kerk of die gemeenskap) wil inneem (bv. in Matt. 23:6), met ander woorde ‘n gebrek aan nederigheid, wat God altyd teenstaan (Jak. 4:6)
- MAAR: daar is terselfdertyd ook woorde wat diametraal, lynreg teenoorgesteld, in betekenis met mekaar staan, naamlik: losmaak, en bid. Dit is dus asof hierdie getal ten nouste verbind is met die aksie wat ons reeds rondom die gérubs opgemerk het, naamlik dat hulle verberg / toehou / gevange hou, maar ook vrystel / toegang verskaf / insig bring / oopmaak. Hierdie getal werk onteenseglik met conceal, maar terselfderyd ook reveal!
- Die laaste woord wat ook hierdie gematria deel, is ‘n woord wat ons nét een enkele keer in die ganse Bybel kry, en dit is in 1Tim. 6:18, die woord koinōnikos (in die OAV totaal verkeerd vertaal), in die KJV voorgehou as: “willing to communicate”. Ons Mannalesers behoort onmiddellik die woordjie koinonia, oftewel: fellowship, of dan geloofs-gemeenskap, daarin raak te sien. Volgens Thayer beteken dit: “social, sociable, ready and apt to form and maintain communion and fellowship”. Dit is soos Breyten Breytenbach dit allermooi stel in ‘n gedig in die bundel soos die so: “poog om jou posisie te peil deur die jy en die omjou / skrylings te beskryf” (p. 57). [Die nuutskepping omjou word doelbewus nie as twee woorde geskryf nie, maar dui op die kohesie van die “jy” met alles wat haar “omring”. Die argaïese woordjie “skrylings” beteken in ‘n meer banale sin wydsbeen, wat daaraan onmiddellik ‘n ondertoon van intimiteit gee (in aansluiting by ‘n ander nuutskepping in die gedig, die duidelik seksueel-getinte woordjie “lyfskryf”). Lyfskryf kan ‘n mooi beskrywing wees van die Liggaam-in-geestelike-gemeenskap, en die teks, of epos, wat sodoende gelewer word.]
- Dit is van baie groot belang dat ons weer benadruk – die funksionering van die eposwoord is grootliks korporatief, en het ten doel om die verskillende identiteite in een gietstuk te hou, soos die gérubs; of dan in een kraal saam te hou; of soos wat ons in Manna Dag 1697-1699 na aanleiding van die kartoeshes – waarvan ons deur die Egiptiese hiërogliewe geleer het – genoem het: ‘n afkamping van rhemawoorde in ‘n geperforeerde taalkraaltjie. Onthou – ons het die Rosetta-tablet gebruik as ‘n simbool van die gérubs en verduidelik dat dit –soos die eposwoord – by wyse van spreke ‘n meganisme is om deur die bekende die onbekende te kan lees en interpreteer. Dit is ‘n bedoelde geheimenis wat die mens gebied word om die mistieke geheime wêreld binne die geslote poorte en mure van Eden te kan ontsluit. Hierdie nuwe verstaan van die gérubs, as ‘n getransponeerde geheimteks wat die oninterpreteerbare heerlikhede van die paradys / die voortyd / die derde dimensie / die derde hemel / die Nuwe Jerusalem / die ewigheid, aan ons ontsluit deur te werk met vir-die-mens kenbare dinge, en dan dit parallel te interpreteer sodat ons ‘n duideliker beeld kry van ‘n wêreld wat ons tevore net fragmente van veraf in die gees gesien het.
Daar is ook drie verse in die Bybel waarvan al die woorde gesamentlik die somtotaal van 1700 dra. Twee daarvan handel oor Moses. Die eerste Skrif vind ons in Ex. 4:24: “En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak.’
- Net eers bietjie konteks, om hierdie vers na behore te verstaan. Na 40 jaar in die Egiptiese koningshuis, vlug Moses na Mídian, waar hy trou met Sippóra, en twee kinders verwek. Die eerste seun, Gersom, word só benoem, want sy naam dui op sy pa se bewustheid van sy vlugtelingstatus: “Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land …” (Ex. 18:3).
- Na die geboorte van Gersom het daar baie tyd verloop, want Ex. 2:23 noem eksplisiet: “daardie lang tyd”. Die tweede seun was pas gebore (Ex. 4:20) toe Moses en sy gesin gevoel het God sê hul moet teruggekeer Egipte toe. Trouens, as ‘n mens die brokke geskiedenis in die Pentateug bymekaar voeg, sou dié seun, Eliëser, sy agtste dag ná geboorte gevier het, want dit was die dag waarop hy volgens die Wet besny moes word (Lev. 12:3).
- Wat dan op hierdie dag gebeur, word deur die meeste Bybelkommentators as absoluut bisar beskou. Nadat God vir Moses by die doringbos ontmoet het, sy Naam as EK IS aan hom openbaar het, die toekomstige vervulling van Sy plan aan hom verduidelik het, die wonderbaarlike ervaring van die staf wat in ‘n slang verander het, en daarna terug verander na ‘n staf toe, God aan hom verskyn het, hy die wonderwerk beleef van sy arm wat melaats word en weer genees, God hom apostolies en profeties uitstuur, aan hom die versekering gee dat Hy sy “mond (sal) wees en jou leer wat jy moet sê”, Aäron as sy tweede-in-bevel en woordvoerder aanstel, én Moses boonop letterlik onderweg is om sy roeping te gaan vervul (Ex. 3-4), stuit ons teen hierdie skrikwekkende sin: “En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak.” (Ex. 4:24). ‘n Mens wil uitroep – dit moet ‘n fout wees! Hoe kan God so vinnig van besluit verander het?
- Die antwoord lê in die flink optrede van Moses se vrou: “Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom! En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.” (vers 25-26). Moses het in die harwar van sy taakgerigte reis perdalks toetentaal vergeet van sy jongste seun se besnydenis op die agtste dag (Gen. 17:10).
- God se radikale optrede teenoor Moses, wat selfs elders in die Skrif God se vriend genoem word (Ex. 33:11), is absoluut onverwags, maar moet dui op iets baie belangrik, en ons moet uitvind presies wat dit is wat vir God só groot gewig dra dat dit ‘n verskil tussen lewe en dood kan beteken.
- Oor besnydenis as verbondsakte spel God in Gen. 17:13-14 uit: “So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond. En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.” Die gebruik van die woordjie uitroei benadruk hierdie aksie wat hier so dramaties plaasvind, en volgens BDB beteken dit iets so ekstreem soos “to cut off a body part, behead”, maar dit beteken ook: “to cut a covenant”.
- Sippóra se vreemde uitspraak toe sy die voorvelletjie van Eliëser op Moses se voete gooi en hom “Bloedbruidegom” noem, word deur die Talmoed (Mishnah Niddah 5:3) verduidelik: “both a groom and a baby ready for the circumcision (is called) by the same word, chatan”! Ek sal dus geheel en al nie hier enigsins die woord “bloedbruidegom” gebruik nie, want dit skep die indruk asof die gebeurtenis dui op ‘n verbondsluiting met Sippóra, wat dit bepaald nie is nie. Veel eerder is dit duidend op die verbondsbesnydenis van Moses se seun Eliëser op die agtste dag. Die Afrikaanse en die absolute meerderheid Engelse verklarings vertaal dus die hele frase rondom “bloedbruidegom” foutief. Die enkeles wat dit reg vertaal, laat die klem tereg val op die seun se besnydenis:
- “and Sepphora having taken a stone cut off the foreskin of her son, and fell at his feet and said, The blood of the circumcision of my son is staunched …” (Brenton) [die woordjie staunch sou hier ook verklaar kan word as “steady, stable, firm, dependable, unwavering”, maar ook as “(of a wall) of strong or firm construction” (dictionary.com). Laasgenoemde kan ons ook voorhou as bastion. Later meer.]
- “And Zipporah, having taken a stone, cut off the foreskin of her son, and fell at his feet and said, The blood of the circumcision of my son is established!” (CAB)
- Die uitdrukking wat tot vandag toe gebruik word vir die besnydingsrite op die agtste dag is: brit milah. Die woordjie b’rit beteken verbond, en die woordjie milah beteken om te sny (“to cut”). MAAR: die woordjie milah is ook een van die drie moontlike Hebreeuse vertalings van die woordjie rhemawoord (Girdlestone’s Old Testament Synonyms)! Die uitdrukking brit milah kan dus direk die naaste vertaal word met: die verbond van die insnyding van die rhemawoord! Getransponeerd na die nuwe verbond, is die fisiese besnydenis van die Ou Testament in die Nuwe Testament die wedergeboorte! Met jou wedergeboorte word jou rhemawoord ook in jou hart ingesny as deel van God se verbond met jou! Rom. 2:29 spel dit onteenseglik duidelik uit: “maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Selfs in die ou verbond het God, ten spyte daarvan dat Hy die fisiese besnydenisrite beveel het, ook ten diepste die besnydenis van die hart voorgehou:
- “Besny dan die voorhuid van julle hart …” (Deut. 10:16)
- “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” (Deut. 30:6)
- “Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart …” (Jer. 4:4)
- Die besnede Eliëser word hier die wonderteken, soos Ex. 18:4 dit uitspel: van “die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos”. Uit vorige Mannas weet ons dat die swaard dui altyd op die rhemawoord, maar ‘Farao se swaard’ uiteraard op ‘n rimmahwoord. Later meer hieroor.
- Die rhemawoord se insnyding is die proses van apokalupsis wat in die gelowige ‘n aanvang neem. Die voorvelgordyn van die “lendene van die verstand” (1Pet. 1:13) word verwyder!
- Sela: Maak die belangrikheid van die rhemawoord vas.
- Lees: 4-12
- Memoriseer: 4:2 (Lees weer Manna 743-745, en maak die verband. God is lieflik.)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Dag toe God Moses wou doodmaak.