“En daarna het Joas hom voorgeneem
om die huis van die HERE te herstel.”
(2Kron. 24:4, OAV)
Terug dan by die swaard van Farao.
Ons het in die vorige Manna-uitgawe die etimologie van die algemene woordjie swaard nagegaan en uitgewys dit verwys na Goddelike insnyding, wat primêr dui op jou skeppingsdoel en jou rhemawoord.
In Ex. 5:21 kom die swaard van Farao vir die eerste keer voor in die Bybel, en wel in ‘n baie negatiewe sin as ‘n wapen van onderdrukking en swaarkry, selfs dood. Dan, interessant genoeg, word daar nie minder nie as ses keer in die profetiese boek Esegiël verwys na die swaard van Farao, telkens in ‘n reaktiewe sin vanuit God se handeling, om die swaard van Farao uit sy hand te laat val en hom te oorwin (30:21; 22; 25; 31:18; 32:31; 32).
Dit is geweldig interessant dat bogemelde verwysings almal kom uit hierdie profetiese boek. Twee spesifieke verwysings hier maak ‘n totale nuwe openbaring oop. Alvorens ons dit ondersoek, is dit miskien net eers van waarde om ‘n breë kensketsing van die profetiese boek Esegiël te doen.
Vir ons doeleindes is die oorsig van Solomon B. Freehof dalk tans die belangrikste: “Ezekiel’s strange, mystical mood, which made him see those elaborate and magnificent visions of the heavenly chariot, became the basis for Jewish mystical studies which later developed into the Kabbalah. When we consider the vast influence of the Kabbalah all through Jewish history, one may perhaps say that Ezekiel, whose words were the soil in which it grew, was certainly the most influential, if not necessarily the grandest, of all the literary prophets.” (Book of Ezekiel: A Commentary, p. 201).
Bedink dit net vir ‘n oomblik – die profetiese boek van Esegiël bied ‘n vertelwyse aan wat grootliks uniek in die Bybel is, en dit het die basis geword waaruit die oorgrote meerderheid mistieke interpretasies, asook alternatiewe leeswyses van die Bybel, ontwikkel is. ‘n Mens moet vra waarom dit so is, en wat dan baie interessant blyk te wees, is dat dit veel te make het enersyds met die konstruksie van die outeur van die profetiese boek, en andersyds met die narratief as verbeelding, fantasie, of soos ek dit sal wil noem na aanleiding van ‘n frase van die Nederlandse digter J.H. Leopold: dromende denke.
Die uitdrukking: ‘die konstruksie van die outeur’, is ‘n frase wat bes moontlik vreemd vir die meeste lesers aandoen. Dit beteken egter bloot dat in die boek van Esegiël, ten spyte daarvan dat dit sy naam dra, hy nie ‘n sentrale handelende karakter of verteller is nie, maar eerder ‘n outeurkonstruksie met ‘n vertelfunksie is. Alhoewel hy dus reëel bestaan het, en byvoorbeeld binne sy genealogiese lyn geplaas kan word (Eseg. 1:3), en daar byvoorbeeld oor sy vrou wat sterf, gerapporteer word (Eseg. 24:8), gaan dit nie hier oor sy eie “self-unfolding” [‘n mooi begrip van Karl Weintraub in Autobiografie en Fictie (p. 26)] nie, maar eintlik streng gesproke oor die ontvouing van die leser! In sy boek: First Person: Essays in Biblical Autobiography (pp. 11-14), verduidelik Philip R. Davies in sy inleiding dat hierdie ‘outeur’ al die vertelkonvensies van ‘n gewone verteller nakom, maar in die werklikheid is dit grootliks op sy profetiese drome geskoei, geensins konkrete geskiedenisse nie. Dinge wat vertel word, kan derhalwe totaal waar wees, ten spyte van die feit dat dit perdalks nog nooit plaasgevind het nie, of dalk selfs moontlik totaal fiktief en bloot uit die dromende denke voortgespruit het! Esegiël gebruik duidelik historiese gebeure, byvoorbeeld datums en name en fiksionaliseer dit. Die proses van fiksionalisasie gee beslag aan die realiteit. Sela rondom hierdie hermeneutiese proses wat dit van die leser vra.
Silvio Sergio Scatolini, in sy knap artikel: Imagining Ezekiel (The Journal of Hebrew Scriptures, Vol. 8, Art. 13), stel dit soos volg: “All in all, the determining criterion for reading Ezekiel is that it belongs primarily to the order of the fictional (symbolical, metaphorical), prophetic use of language rather than the historical.” In die proses word hy ook ‘n virtuele wonderteken (soos presies ook Johannes in die boek Openbaring) wat ons (mét God saam) op ‘n innerlike reis neem. [Alexander Rofé, in sy boek: The Prophetical Stories: The Narratives about the Prophets in the Hebrew Bible. Their Literary Types and History, wys byvoorbeeld uit dat Esegiël ‘n totaal nuwe dimensie verleen aan die profetiese verteltradisie.] Die teks wat hy dusdoende lewer, is dus nie ‘n opgetekende geskiedenis soos wat ons van ‘n Bybelboek sou verwag nie, maar ook nie bloot ‘n een-eenduidige profetiese visioen nie. Dit is eerder, soos ons vroeër dit in Manna 1594-1596 genoem het: ‘n lewende konstruksiewerf! “The text is the meeting place where God and the readers can communicate …” (Hanna Liss, The Imaginary Sanctuary: The Priestly Code as an Example of Fictional Literature in the Hebrew Bible,” in Oded Lipschits & Manfred Oeming, reds., Judah and the Judeans in the Persian Period, p. 669). Verder in die artikel maak sy hierdie verstommende uitspraak: “When the doors of its encoded traces are opened by the inquisitive mind of the readers, meaning takes place and the conversation between God and the readers starts. Then, the Word of God happens. Consequently, it is no longer an extra-literary person who functions as prophet: the real prophet is the book. The stage where this revelatory meeting between God and the readers through the text occurs is our imagination …” (p. 689).
Hierdie besef het geweldige belangrike implikasies vir die lesers van die profetiese boek Esegiël, want die aard van die teks bepaal dan ook dat ons die uitvoerige beskrywing van die tempel nie in historiese terme kan sien nie. Die tempel wat Esegiël in soveel besonderhede beskryf, het nooit ooit in die fisiese bestaan nie. Derhalwe het dit dan geensins gedui op enige fisiese religieuse gebou vóór die epog van Jesus nie. Ons weet alle profesieë van die ou verbond is totaal volbring tot en met Johannes die Doper: “All the Books of the Prophets and the Law of Moses told what was going to happen up to the time of John.” (Matt. 11:13, CEV). Dit is dus nie soseer ‘n profetiese verwysing na iets wat in die toekoms fisiese gestalte gaan kry nie; dit is hoogstens ‘n tipologie van die laaste tempel van die Bruid van Christus, die Nuwe Jerusalem. In Op. 21:22 word dit bevestigend eksplisiet oor dié geestelike stad uitgespel: “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”
Daar is verskeie Joodse fundamentaliste (themitzvahproject.org; Moshe Chaim Luzzatto: Secrets of the Future Temple), en helaas ook verwarde Christene (soos dr. Randall Price: The Coming Last Days Temple), wat dan met reikhalsende verlange uitsien na die fisiese konstruksie van die sogenaamde derde tempel, “an ideal structure projected into the future” (ISBE). Robert Reiland, in sy boek Jesus and the Third Temple probeer byvoorbeeld in sy inleiding verduidelik: “Why Building the Third Temple in Jerusalem is a Jewish Right and a Christian Imperative.”
Ons moet egter besef hierdie tempel is nooit bedoel om ooit fisies gestalte te kry nie – “It is not a description of a Temple that ever was built, or ever could be erected at Jerusalem …” (Smith’s Bible Dictionary). En wat sou al hierdie inligting dan enigsins met die swaard van Farao te doen hê? Jy sal tot volgende week se Manna moet wag daarvoor!
- Sela: Wat sou die ooglopende beswaar wees teen die bou van die laaste tempel?
- Lees: 22-27
- Memoriseer: 24:13 (wat ‘n belangrike Goddelik-gesinchroniseerde vers hierdie!)
- Delf dieper: Lees enige van die boeke/artikels hierbo, deurgaans met onderskeiding, asseblief.