“… vermy … teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis, waarvan sommige … wat die geloof betref, op ‘n dwaalweg geraak het” (1 Tim 6:20-21, OAV)
Die Woord is baie duidelik daaroor dat ons almal ten dele ken en ten dele profeteer; ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:9 & 12). Dit beteken dat niemand die totale waarheid in pag het nie, en dat ons almal in een of ander opsig tog maar dwaal. Daar lê ‘n vertroosting daarin, soos Job (12:16b) dit stel: dat “syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal”! Ons het hoop dat daar ‘n tyd gaan kom waar selfs die dwase nie meer sal dwaal nie (Jes 35:8). Maar tot dan is die woorde van Job 4:17-19 vir ons ‘n geweldige troos: “Sou ‘n sterfling regverdig wees voor God? Of ‘n man rein wees voor sy Maker? Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot.” Dit vra van ons om heeltyd leerbaar te bly en onderdanig aan mekaar in die vrees van God te wees (Efes 5:21).
Dit is derhalwe nie net arrogant nie, maar ook verkeerd om te bely soos die Gereformeerde kerke dat die belydenisskrifte “die volkome leer van die saligheid” is. Ons dwaal almal in ‘n mindere of meerdere mate van die “gesonde leer” (1 Tim 1:10), want helaas ken ons nie die Skrifte en die krag van God nie (Mar 12:24). Maar op vier plekke (1 Kor 6:10; 15:33; Gal 6:7; Jak 1:16) word gelowiges tog eksplisiet vermaan: Moenie dwaal nie!
Omdat ons nie ten volle ken nie, dwaal ons, maar dit beteken dan nie ons is op ‘n dwaalweg nie. Dwalinge is verskoonbaar, maar dwaalweë is verskriklik gevaarlik. Dis van so ‘n dwaalweg wat die Engel van die Here (=Christus in die Ou Testament) vir Bíleam sê: “Kyk, Ek self het uitgegaan as ‘n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog!” (Num 22:32). Selfs in Open 2:14 word die gemeente daarvan beskuldig dat hulle “vashou aan die leer van Bíleam”. ‘n Dwaalweg is ‘n geloofspad wat jou jou saligheid kan laat verloor. Die meeste van hierdie dwaalweë is omdat die redding deur Christus Jesus nie die basis van redding vorm nie. Die enigste leer van die saligheid noem 2 Joh 1:9 “die leer van Christus”.
Ons weet die Mormone, die Jehovagetuies, die Unification Church, die Scientology (Christian Scientists), die Ou en die Nuwe Apostels, is almal voorbeelde van gelowe wat duidelik dwaalweë is, wat jou jou redding kan laat verloor. Oor die Rooms-Katolieke kerk is daar bedenkinge, veral omdat Moeder Maria as verlosser voorgehou word, die vagevuur en gebede vir patron saints en engele geen verlossingswaarde kan hê nie.
Miskien is die geestelike beginsel hier: vermy die dwaalweg ten alle koste, en bid vir medegelowiges wat jy oortuig is in dwaling vasgevang is.
- Sela: Watter van jou fondasies is deur dwaalweggeloofsisteme gegrondves?
- Lees: 1 Kon 4; Spr 31; 1 Tim 1
- Memoriseer: 1 Tim 1:15
- Vir dieper delf: Vir algemene info: http://atheism.about.com/od/christiandenominations/ Christian_Denominations_Sects_Groups_Movements_Denominations.htm