Dag 1751-1752

 

“Hy moet meer word, maar ek minder.”

(Joh. 3:30, OAV)

 

Die ontvouing van die swaard van Farao in die laaste Mannas het fabelagtige uitkomste gebring. Daar is afgesluit met die feit dat daar in die laaste vers waarna ons uit Esegiël verwys het, afgekom is op ‘n Ou-Testamentiese ekwivalent van die Nuwe-Testamentiese epos-woord. Ons het dit toe ook in verband gebring met Eseg. 31:18, waarin ‘n op-die-oog-af onbenullige klein woordjie groot implikasies het, veral as ‘n mens dit in verband bring met die woordjie gelykenis (in Engels: likeness), soos Gen. 1:26 dit gebruik: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis …” Die geskape Mens kan dus ook dien as ‘n eposwoord, beeld en gelykenis, van God. Die feit dat die vers, Eseg. 31:18, boonop die vraag wat gevra word in die paradys situeer, maak dit des te meer ‘n allerduidelike fokus: “Na wie lyk jy so in heerlikheid en grootheid onder die bome van Eden?”  Die woordjie “lyk”, het ons uitgewys, is die samevoeging van twee woorde: dâmâh (“to be like, resemble, to liken, compare, to imagine, think, to make oneself like” – Thayer) +  kâkâh (“just so” – Strong).

Dit was nog altyd vir my vreemd dat die eerste mens geskape is na die “beeld ÉN gelykenis” van God. Daar moet tog ‘n bepalende onderskeid tussen die twee allernoue begrippe gemaak kan word, anders sou dit tog dieselfde begrip gewees het, nie waar nie!

  • Beeld in Hebreeus is die woordjie tselem. Volgens die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible beteken beeld veelseggend:“An outline or representation of an original as a shadow is the outline of the original …” (lees dié sin wéér). Dit korrespondeer duidelik met die woordjie kâkâh hierbo, wat dui op ‘n identieke, maar aparte bestaanstaat en wese, (“just so”).
  • Die woordjie gelykenis is in Hebreeus: demûth. Die woordjie gelykenis word in die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible soos volg verklaar:
    • “a door representing the idea of moving back and forth”! Amen!
    • Dit korrespondeer duidelik met die woordjie dâmâh hierbo (“to be like, resemble, to liken, compare, to imagine, think, to make oneself like”).
    • Daarmee saam: “the moving back and forth of water”.
    • Deel van die simboliese heenwysing verder, is die prototipiese Adam (a ruddy person”), maar ook:
    • Uit die Aramees kan dit vertaal word as: “Something cut into pieces.”
    • En derhalwe: “Silence: To become silent as one dead.”
    • Maar veral: “To perceive something like something else … similitude”

JESUS is “die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” (Kol. 1:15).

Maar onthou: Jesus het vermeerder tot die Christus. Daarom kon ons teen die einde van die vorige aflewering van die Manna 2Kor. 4:4 uitwys as ‘n ontvouende verklaring van die beeld van God. Ons kan dié vers vervangend soos volg lees:

  • Christus is die Beeld van God
  • die heerlikheid van Christus is die Beeld van God
  • die evangelie van die heerlikheid van Christus is die beeld van God
  • die verligting (van die geestelike oë van die verstand – Ef. 1:18) van die evangelie van die heerlikheid van Christus is die beeld van God!

Derhalwe: die BEELD, die LOGOS, besit die volheid – “dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon” (Kol. 1:19). Maar uit Hom, “uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade” (Joh. 1:16). Daarom is sy ekklesia, “wat sy liggaam is, (NOU) die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:23).

MAAR: daar is ook gelykenisse, en hul doel is: “to liken, compare, to imagine, think, to make oneself like”. Hierdie imaginative construct [onthou die woordjie gérubs beteken “imaginary figure”] het ten doel om die laaste Adam (Christus – 1Kor. 15:45) te assimileer met die eerste Adam (Mens), deur te fokus op die menigvuldige onderdele van Jesus se identiteit, as ’t ware “cut into pieces”. Daarom dui dit ook op die sogenaamde stemloosheid van die Bruid (“laat ophou die stem van … die bruid” – Jer. 7:34); die feit dat daar stilte is, dui daarop “to become silent as one dead”, soos Adam prototipies onherroepelik aan dood gekoppel word (Rom. 5:12-14). Soos wat Sy geestelike identiteit in ons meer word, word ons vleeslike identiteit minder (Joh. 3:30)! Dit begelei die proses: “To perceive something like something else”. Hieruit blyk absoluut duidelik dat gelykenis dui op die epos-woord wat fasiliteer tussen die volheid van die Logos en die wordende rhemas! Sela! God het dit van die beginne af daargestel om ons te begelei om na sy Beeld herstel te word! En uit hierdie etimologiese studie van die begrip ‘gelykenis’ (simultude) kan ons duidelik die gelykstelling maak dat dit dui op die gérubs met die korporatiewe rhemaswaard wat as ‘n tipe wenteldeur funksioneer – concealing and revealing, back and forth, to and fro!

In en deur die ontvouing van die eposwoorde/fasilitering van die gérubs word algaande aan jou rhemawoord beslag gegee: soos vroeër gesé: alle huiwering, vermoedens, drome, wense, die somtotaal van ons soeke, gekulmineer in ‘n transendensieproses waardeur God jou unieke onderdeelgeheel van Christus uit die voortyd laat stroom. Dit word letterlik die verbindingstroom of sinergie van die interaksie tussen die hemele en die aarde, en daardeur word strome van lewende water, weliswaar primordiale waters, uit die voortyd oop, vol spreuke en raaisels wat daaruit stroom, sodat daar algaande ‘n al hoe dieper manifestasie kan kom van hierdie fearful and fascinating mystery. Om hierdie rede is alle denke of fasette van Logos ten nouste aan taal gekoppel deur gelykenisse, want taal en denke is mistiek met mekaar verweef. Daar kry ‘n proses gestalte wat in en deur die hermeneutiek van die ongesêde ontdek word. As die Heilige Gees deurgaans hierdie proses tot transendensie rig, sal ons die “dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35) kan leer karteer, en in staat wees om “die verborge dinge” te bring tot “geopenbaarde dinge”. Hierdie Wonderbaar wat ons in ons soeke ontdek, is die onverwagte verskyning van die onpeilbare Oorsprong of Beginne self, ‘n Wesensaard IN ons, maar ook in ons omstandighede. Tydens die besoeking word daar op ‘n wonderbaarlike wyse identiteit en Goddelike natuur oorgedra (imparted), of dan getransendeer. Onthou wat Jesus in Matt. 13:13 gesê het: “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.” Die gelykenisse of geheimtaal of BEDEKTE BETEKENIS is juis SODAT ons kan begin sien en hoor wat en wie ons ware identiteit in Christus is!

Die gérubs IS dus enersyds die heenwysing na die Beeld van God (Kol. 1:15-17). Maar die gérubs is nié net ‘n simboliese heenwysing nie; hulle het óók lewende identiteite, gelykenisse, andersyds ook lewende manifestasies van die Christus, ‘n korporatiewe konstellasie van gees-identiteite wat almal saam gestalte aan Jesus gee. Die uitverkorenes wat uit die voortyd geval het, het die Beeld van God, verloor, en daarmee saam die heerlikheid. Ons is egter “vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun”, en ons moet “vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:10). Maar dit is deur die gelykenisse, die eposse, waardeur Hy dit weer in ons gestalte gee. O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

  • Sela: Maak vir jouself die begrippe ‘beeld’ en ‘gelykenis’ vas.
  • Lees: 34-36; Esra 1-3
  • Memoriseer: 34:21 (hierdie Skrif, gesinchroniseer deur God, is van groot belang in die volgende

                               Manna. Probeer solank die verband vind.)

  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die tempeltipologie