Dag 1757-1758

 

“… hulle maaksel was soos dié  …

 (Hab. 2:18, OAV)

In verlede week se Manna het ons uitgewys hoe op-die-oog-af amper onbenullige, terloopse inligting groot waarheid kan ontsluit as ons dit as ‘n lewende konstruksiewerf hanteer.

Maar, daar was ook ‘n ernstige waarskuwing daaraan gekoppel om absoluut Gees-verantwoordbaar “metaphysical ‘waking up’ metaphors” uit die verborge skatkamers te gaan haal. Immers, soos Paulus aan sy geestelike seun in 2Tim. 2:15 dit probeer inprent: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” Die Afrikaanse frase “lê jou daarop toe” laat egter ‘n belangrike faset uit die oorspronklike Grieks, waar die woordjie wat hier gebruik word eerder dui op “studeer”, soos baie Engelse vertalings (soos KJV en AMP) dit dan ook voorhou. Die konnotasie van die woord in die Grieks is “diligently”.

Daarbenewens: “die werker” in die konteks hierbo, word in Jesus se gelykenisse byvoorbeeld “die arbeider” (Matt. 9:37-38) genoem, maar ek verkies eerder die mooi Engelse woord: workman, veral omdat dit die aktiewe agens is van die gehalte wat die doelbewuste vakmanskap meebring, te wete: workmanship. Hierdie woord word dikwels in die konstruksie van die tempel gebruik, byvoorbeeld in die gietwerk van die kandelaar (Num. 8:4), die pilare en die vlegwerk daarop (1Kon. 7:17), asook ander items. Maar – en dit is veelseggend – dit word ook eksplisiet gebruik in Eseg. 1:16  waar die “imaginary” gérubs in die dromende denke van Eségiel beskryf word: “Die voorkoms van die wiele en hulle maaksel was soos dié van ‘n chrisoliet; en al vier het dieselfde vorm gehad; daarby was hulle voorkoms en hulle maaksel asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel was.”

Ons weet reeds dat dít die woord is wat Paulus gebruik om die artefak-aard van Jesus as ‘n Gedig te verduidelik, in Ef.  2:10 – “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Die woordjie maaksel hier, is in Engels workmanship, in Grieks poiēma, of dan: gedig. Daar is ‘n baie spesifieke gewrogtheid wat blyk uit hierdie pertinente of gefokusde gedigkonstruksie. Die woordjie gewrogtheid beteken: “tot stand gebring; gemaak; voortbrengsel van skeppende arbeid; skepping” (HAT). Presies soos die mens se liggaam ook in die moederskoot “kunstig geweef” (Ps. 139:15) is, is die geestelike identiteit van die rhemawoorde as teks kunstig geweef. Geen wonder nie die Latynse oorsprong van die woord teks is texere, om te weef!

Op ‘n ander plek in die Ou Testament, gevaarlik naby aan ons absolute gunstelingvers in Hab. 2:14 – trouens dié generatiewe kern van die afgelope paar jaar se onverdrote toespitsing, studie en dromende denke in die skryf van die Manna – staan die volgende: “Wat baat ‘n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, ‘n gegote beeld, wat ‘n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak?” (vers 18). Hiermee begin ons nou loop op die hoogspanningsbalanseerdraad tussen die Logoswoord en die rhemawoord, en hoe die oorspronklike aard van die Logoswoord wat as beeld in die rhemawoord moet gestalte kry, dit déúr eposwoorde moontlik maak. Maar dis ook veel meer as net dit – in die proses moet ons seker maak dat ons godsdienstige gewrog baar nie ‘n afgod nie. Dit sou die noodwendige beantwoording wees van verlede Manna se memoriseer-vraag uit Neh. 6:8 – hoe maak ons seker ons het dit alles nie “self versin” nie?

Dit lyk asof een van die heel grootste teenstanders van die golf van die kennis van die heerlikheid wat besig is om oor die aarde te kom en die aarde moet oordek, teengestaan of uitgekanselleer word deur ‘n soortgelyke maar teenoorgestelde golf van die kennis van goed en kwaad. ‘n Mens sou dit ‘n slagveld tussen die ware Christusbevatters en die antichristusse kon noem. Onthou: anti- beteken nie TEEN CHRISTUS nie, maar IN DIE PLEK VAN CHRISTUS. Dit beteken dit is afgode wat ons, ek en jy en elkeen in die opregte geloof, in ons manier van dink opgerig het, onderbewustelik en soms bewusteloos fyn aan beslag gegee het, en wat ons dink God is, maar helaas nié Hy is nie. Dit is noodwendig ook die voortbrengsel van ons skeppende arbeid in die geloof, maar dit is ‘n beeld en ‘n gelykenis van ‘n leuenleraar. Skrik groot.

Veel van wat ons vandag geloofsuitoefening of geloofspraktisering noem, is streng gesproke afgodsdiens. Christene kan dit dikwels self nie onderskei nie, want die grondstowwe waaruit die afgode gefabriseer word, is geweef uit die ryk materiaal en weefwol van ons Christelike denkwêreld en geestelike tongval. Dit vra iemand, onderlê in die Christelike mitologie en subteks, maar totaal avers en gewalg daaroor – soos die filosoof Friedrich Nietzsche – om ons uit die ysere kunsgreep van ons sussende geloof te ruk. Hy het teoloë, Christelike wysgere en die breë Christelike geloofsgemeenskap daarvan beskuldig dat hulle God vermoor en Hom dan tot ‘n handpop van hul geloofsgrille opwek, en dan dáárdie afgod aanbid (in ‘Twilight of the Idols’, opgeneem in The Portable Nietzsche, p. 479). Ons wil God kan beheer, en redelik, dikwels selfs onredelik, kies wat ons glo. Én bereid wees om dit met geweld te verdedig. Dít is die bakermat van afgodediens.

Afgodery is vir ons Christene die boeddhabeeldjie wat ‘n aweregse en moedswillige vriendin op haar slaapkamerkassie het; of die standbeeld van Lord Ganesha voor wie jou Hindoekollegas in Indië buig as hul daar verbystap; of perdalks die streel deur meegevoerde pelgrims oor die oorspronklike kleed van St. Franciscus (agter glas). Ons kan miskien insien dat Rooms-Katolieke die kruis van Jesus soos ‘n amulet van afgodswaarde hanteer, maar ons dink nie dié taksering het enigsins met ons bloedgewaste, grootgedoopte, Geesvervuldes te doen nie.

In Franz Hinkelammert se artikel, ‘The Economic Roots of Idolatry’ (in Pablo Richard, red., The Idols of Death and the God of Life: A Theology, p. 192), wys hy daarop dat die Christendom per definisie nie noodwendig konkrete en sienlike afgode het nie, maar ons afgode is konsepte, idees, oorleweringe, tradisies, met ander woorde denkformasies wat ons geestelike, maar ook ons gewone lewe, rig. (Die blote onderskeid is alreeds ‘n aanduiding dat daar iets fout is, in aansluiting by die eeue-oue tradisie van die dichotomie tussen die sakrale en die banale alledaagse.) Ons hou van die vertroude en veilige heiligdom, maar die evangelie van Jesus het dít absoluut deurbreek. Dit is waar wat Hermie van Zyl in sy artikel oor Heb. 13:8 uitspel: “Christene moet … nie dink dat hulle op ’n bloot kulties-sakrale manier die verhouding met God kan bevestig nie (bv. deur die nagmaal), maar hulle moet Christus op ’n nie-sakrale manier volg” (HTS, Vol. 71, No. 1). Los van die groter geestelike afgode, soos Die Groot Christen, sou ‘n mens duidelik ‘n galery klein gode waarvoor elkeen persoonlik buig, kon onderskei: Die Maer Lyf, Die Supervrou, Die Suksesvolle Sakeman, Die Uitstekende Ouer, und so weiter. Baie afgode is veels te veel ordentlik, beheersd. Hulle is artistiek, besonders mooi/aantreklik en briljant gekonsipieer in ons kop as Die Nimmereindigende Pogings tot Selfverheerliking. Afgode is so dikwels terapeuties vir swak selfbeelde, gefaalde pogings en konfronterende vernederings oor die self se onvermoë.

Mircea Eliade, ‘n godsdiensgeskiedkundige van faam, skryf in sy boek: The Sacred and the Profane: The Nature of Religion (p. 22), dat alle gelowe, maar met name die Christendom, dit ‘n absolute doelwit gemaak het om die onbeheerde chaotiese ruimte en tyd van die natuurlike geleefde lewe tot ‘n “fixed point” te maak, heilig te verklaar, en dit vandaar te beheer. Met dít as vertrekpunt is dit vir ons baie meer moontlik om dan te gaan ondersoek instel watter fixed points het ek en jy godsdienstig geskep of geërf, denkbeeldige en fantasieryke denkkonstrukte, wat ons lewe en ons geloof valslik reguleer, en wat God summier sonder omhaal van woorde afgode noem.

  • Sela: Watter afgode het jy?
  • Lees: 7-13 (kyk watter rol Die Boek in hierdie stukkie geskiedenis speel)
  • Memoriseer: 8:10, die laaste deel van die vers. En bely dit; en glo dit.
  • Delf dieper: Lees een of meer van die artikels of boeke waarna hierbo verwys is.