Dag 18

… want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is … ” (Heb 11:6b, OAV)

Nadat Moses sy opdrag van God gekry het om sy volk uit Egipte te lei, het hy aan God gevra:  “Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS … So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.” (Eks 3:13-14).

Hierdie vreemde Naam waarmee God Hom aan die mens bekend gemaak het, EK IS, het twee karakteristieke kenmerke. Eerstens: deur Sy identiteit te koppel aan IS, dui op ‘n sekere voltooidheid: OM TE WEES, ZU ZEIN (in Duits), OM TE BESTAAN, TE IS. Tweedens: in menslike taalterme is dit ‘n onvoltooide frase, want “is” ‘n tipe werkwoord wat vra om voltooiing deur gekoppel te word aan iets anders. 

Allereers: As jy na Hom nader, moet jy dus allereers glo dat Hy is, m.a.w, dat Hy bestaan). Jy moet dit glo wat in Joh 1:4 staan: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Kol 1:16-17 spel dit só uit: “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is … alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” 

Tweedens: Hierdie Ou-Testamentiese identiteit van God het later baie konkreet gestalte gekry met Christus wat Homself as voltooiing kom aanbied het: Ek is die brood van die lewe (Joh 6:48); Ek is die lig van die wêreld (8:12); Ek is die deur (10:9); Ek is die goeie herder (10:11); Ek is die opstanding en die lewe (11: 25); Ek is die weg, en die waarheid en die lewe (14:6); Ek is die ware wynstok (15:1); Ek is die Alfa en die Oméga (Open 1:8); Ek is die eerste en die laaste (Open 1:17); en veel, veel meer. 

In Joh 8:24 sê Jesus: “want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe”. Hierdie verstaan van EK IS vorm die fondament van jou geloof en van wie jy is.

  • Sela: Probeer nog ‘n paar voorbeelde vind waar die “Ek is” gekompleteer is. Bid ook oor Open 22:13 in die lig van Jes 46:9-10. 
  • Lees: Gen 18: Ps 18; Joh 18
  • Memoriseer: Ps 18: 28-34 (Afr); dit is :29-35 in Eng. Maak jou eie lied daarvan en sing dit vir die Here..
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God: Vuur.