“They are of those that rebel against the light; they know not the ways thereof, nor abide in the paths thereof.” (Job 24:13, OAV)
Ons het gister stilgestaan by die manifestasie van rebellie as een van die twee hoofgevolge wat bespeur word by gelowiges wat nie geestelike gevader is nie. Voor ons by die tweede manifestasie uitkom, is dit van groot belang om ‘n bietjie langer stil te staan by hierdie drumpelprobleem, want dit is by baie gelowiges ‘n faktor wat hul in geestelike gevangenisskap (en in die woestyn) hou.
Eenvoudig gestel: Rebellie is in wese opstand teenoor God en alle vorme van gesag of outoriteit. Die sielkunde gee ‘n interessante blik op hierdie toestand deur wat Sigmund Freud die Oeidipus-kompleks genoem het: as deel van identiteitsvorming moet die seun sy vader oorkom, oorwin, selfs (soos in die mite waarop dit gebaseer is) doodmaak. Jes 14:14 stel dit duidelik dat dít presies die onderliggende dryfveer was agter Lucifer toe hy nog ‘n seun van God (Job 1:6) was – “Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” Die verleiding van Eva was presies volgens hierdie argument: dat as hulle doen wat God gesê het hulle moet nié doen nie, sal hulle soos God wees (Gen 3:5). In 2 Thes 2:4 word hierdie ingesteldheid van rebellie deurgetrek tot by die Antichris: “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding”.
Vaderskap leer primêr restraint. Om hierdie rede sal Salomo heeltyd wys op die ontsettende groot waarde van tugtiging, byvoorbeeld in Spr 3:12: “want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ‘n vader die seun in wie hy behae het”. Selfs die Nuwe Verbond spel dit uit as ‘n beginsel: “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Heb 12:6). Daarom dat Christus in Open 3:19 dit so eksplisiet stel: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Rebellie is die wesenseienskap van Satan, en alle mense wat gebore is ná Adam en Eva is in hierdie ongeregtigheid gebore en is deur hulle moeder in hierdie sonde ontvang (Ps 51:5) – van geboorte af doen ons wat ons vader, die duiwel, doen (Joh 8:44). Ons is in rebellie gegrondves en derhalwe wil ons onsself deurgaans voorop stel, die middelpunt of die belangrikste een wees – dit moet om my draai. En as daar geen restraint kom van ‘n vader nie, geen tug of beperking nie, sal jy in hierdie ongebrydelde eiesinnigheid en rebellie blý loop. Jy word hardnekkig en jou hart verhard (2 Kron 36:13). Jude 1:19 (GNB) beskryf dit as “people … who are controlled by their natural desires, who do not have the Spirit”.
- Sela: Vra die Heilige Gees om alle fasette van jou lewe te deurgrond om alle verskuilde vorme van rebellie aan die lig te bring. Bely dit en deel daarmee.
- Lees: 1 Kon 18; Jer 2; 1 Kor 1
- Memoriseer: 1 Kor 1:18
- Vir dieper delf: Lees hfst 6 in John Bevere se boek: Enemy access denied.