Dag 189

“Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.” (Ps 106:15, OAV)

 

‘n Belangrike aspek van rebellie waarby ons vandag wil stilstaan, is dat ons dikwels wanneer ons tot geloof kom en nie deeglike gevader is in die evangelie van die koninkryk nie (1 Kor 4:15) en ons fondasies insgelyks nie voldoende gelê is nie (Ps 11:3), ons ‘n tipe geestelike restraint soek wat ons nie by ‘n geestelike vader gekry het nie. (Dis dieselfde as wat ons in die natuurlike realm oor ‘n onhebbelike kind sou sê: hy smeek nou vir ‘n pak slae J) Omdat die wortel van rebellie nie gehanteer is deur die restraint van ‘n geestelike vader nie, het hulle nie ‘n keuse as om na ‘n vals geestelike outoriteit te draai vir restraint nie – en só kry godsdienstigheid ‘n heersersrol in hulle lewe.

Die Skrifbeginsel ten grondslag hiervan is 1 Kor 15:56 (CEV): “Sin is what gives death its sting, and the Law is the power behind sin.” Onthou die definisie van sonde: om jou merk as gelowige te mis. Rom 7:5 spel dit verder só uit: “Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra.” Die wet (as restraint) beliggaam derhalwe godsdiens; DIT IS DIE WET wat die krag is agter die sonde. Sela asb hieroor. In plaas van die Vader as restraint, is die wet nou die restraint. Die wet word die wetmatigheid waardeur jy leef – dit vervang die Vader.

Godsdiens is die uiterlike geloofshandelinge sonder die krag en lewe van verhouding met die Vader. As God nie die supreme authority is nie, sal godsdiens homself met dwingelandy kom posisioneer om die gelowige te beheer. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die volk Israel wat  – soos al die ander volkere – ‘n koning wou gehad het, al het God duidelik uitgespel dat sý outoriteitsisteem werk met rigters wat die volk rig (Rig 2:16; Hand 13:20), nie konings wat sy volk oorheers nie (1 Sam 8:7). As die Vader jou nie rig in jou lewe nie, sal Godsdiens oor jou heers, en dit het seker implikasies. 1 Sam 8:11-18 spel dit in detail uit (lees dit asseblief). Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat Godsdienstigheid jou gedurig laat werk.  (Dis hieroor dat Heb 6:1 dit as een van die eerste fondasies van die Christelike wandel voorhou: “die fondament van die bekering uit dooie werke” – jy  moet jou bekeer daarvan om uit godsdienstigheid dooie werke te doen.) Baie kerke se eindelose programme en sopkombuise en basaars en wat ook al is om gelowiges geestelik te laat werk. Dis godsdiens, en dikwels dooie werke, en daar is geen lewe daarin nie.

En voorts uit 1 Sam 8 sal jy sien dat godsdienstigheid en gepaardgaande wettiesheid jou nageslag verkneg, mense in vals outoriteitsposisies hou, evangelisasie-uitreike dryf,  tiendes uit jou wurg, jou van jou salwing (“olie”) en posisie in Christus (“wingerd”) beroof. “Self sal julle sy (=godsdiens se) slawe wees.” (1 Sam 8:17). Ongelukkig bevestig die meeste kerke hierdie kultuur van godsdienstigheid, al het dit onteenseglik in hulle lidmate ‘n geestelike maerte (Ps 106:15) meegebring.

 

  • Sela: Vra God om jou van alle godsdienstigheid te bevry. Bid Jer 1:10.
  • Lees: 1 Kon 19;  Jer 3; 1 Kor 2
  • Memoriseer: 1 Kor 2:14-16 (baie relevant vir vandag se lering)
  • Vir dieper delf: Lees hfst 10 in Juan Carlos Ortiz se The cry of the human heart.