“hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy … ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb 11:6c, OAV)
Die grondbeginsel van die evangelie van die koninkryk is dat die koninkryk gesoek moet word. Die bekende Skrifgedeelte in Mat 6:33 spel dit só uit: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Baie gelykenisse het te doen met iets wat gesoek moet word (sien bv. Mat 13:45 en Luk 15:18). Hierdie is een van die belangrikste sleutels vir enige gelowige om te ontdek. Dit impliseer allereers dat God Homself dikwels vir ons verhul, wegsteek. Spr 25:2 spel dit immers só uit: “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.”
Ek noem dié geestelike wegkruipertjie the white rabbit’s trail, na aanleiding van Alice in Wonderland. Jy gaan soek sonder om te weet waarna, en jy vind sonder om soms te weet presies wát jy gevind het.
Daar is baie aspekte van hierdie geestelike Google-soektog wat ons dikwels verkeerd verstaan en waarby ons later sal uitkom, maar een ding staan onwankelbaar vas: God is ‘n beloner van die wat Hom soek. Spr 8:17 stel dit onomwonde: “die wat My soek, sal my vind”. Deut 4:29 gee die voorwaarde: “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.” Die soektog mag nooit halfhartig wees nie. Dawid het dit vir Salomo geleer: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.” (1 Kron 28:9).
Jesus spel dit so uit in Mat 7:7: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.”
Dis God se onwrikbare belofte aan jou op hierdie geloofspad wat jy aangepak het. Gló dit.
- Sela: 1 Kron 28:9 sê: “As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind”. Bedink die ongelooflike implikasies hiervan.
- Lees: Gen 19: Ps 19; Joh 19
- Memoriseer: Laat Ps 19:4.vir jou deel van jou gebede word.
- Vir dieper delf: Lees pp 121-132 in Leanne Payne se voortreflike boek: Listening prayer.