“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.”
(Hand 17:24, OAV)
Die Nuwe-Testamentiese denksisteem oor kerkwees is van vroegs af gevorm en geperverteer deur ‘n verkeerde openbaring. In Mat 16 vra Christus vir sy dissipels : “wie sê julle is Ek? (vers 15), waarop Simon Petrus antwoord en sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (vers 16). Daarna antwoord Jesus hom en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (vers 17-19).
Op hierdie uitspraak van Jesus het die Rooms-Katolieke kerk hul dogma gebou oor die gesag van die Pous as die hoof van die Kerk (gesanksioneer deur die mantel van Petrus, wat hulle beskou as die eerste Pous en die een wat jou sal inwag by die pêrelpoorte van die hemel, wat geensins Skriftuurlik is nie), en die outoriteit en mag van die kerk (wat ‘n erg lokale kleur verkry het met die verloop van tyd).
Die misinterpretasie is duidelik: Petrus se naam beteken rots, en die feit dat Christus gesê het dat hy sy kerk bou “op hierdie rots” het, skep die indruk dat hy, Petrus, die hoeksteen of fondament is. Dit kan egter nie – net Christus kan dit wees (Hand 4:11), geen mens nie. Hierdie rots waarop die kerk gebou word, het drie moontlike betekenisse: Eerstens dui dit op Christus, die Rots (1 Kor 10:4). Tweedens dui dit op Petrus as prototipe van die apostels en die profete wat die fondament van die argitektuur van God lê. Efes 2:20 stel dit raak: “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is”. (Sien ook Open 21:14, waar al die apostels se name deel vorm van die fondament van die Nuwe Jerusalem.) Derdens kan dit dui op die openbaring wat Petrus gekry het oor wie Christus is (dis eintlik waaroor die vraag gehandel het, en ook die hele diskoers afgesluit mee word in vers 16-20). Die kerk word gebou op die openbaringkennis van wie Christus werklik is. Maar al drie moontlikhede sluit elkander nie uit nie, dovetail eerder.
Hierdie is die baie belangrike beginsel ten grondslag van die Nuwe Testamentiese bedeling: in die Ou Testament het die mens God hoofsaaklik in ‘n tabernakel of tempel aan soek. In die Nuwe Verbond WORD DIT VERVANG met die tempels van ons liggame (1 Kor 6:19). Kyk hoe duidelik word dit uitgespel deur Paulus in Hand 17:24: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.”
Petrus en die apostels moes leer, soos ons ook, dit wat die Here in Jes 51:1 uitspel: “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is.” Ons is die kerk, gekap uit die Rots, die gebou van God (1 Kor 3:9).
- Sela: Lees David Orton se artikel: The architecture of the spirit op elijahafrica.com.
- Lees: 2 Kon 9; Jer 10; 1 Kor 9
- Memoriseer: 1 Kor 9:26
- Vir dieper delf: Lees Ray Ciervo se boek The local church met ‘n onderskeidende oog.